Afri-Forum skrik vir Vierkleur
"Mnr. Chris Stapelberg van Brits is die middelpunt van die reaksie teen Afri-Forum. Mnr Stapelberg het in ’n e-pos sowel as ’n brief in die dagbladpers die gebeure beskryf..."
Die optrede van senior ampsdraers van die burgerregteorganisasie, Afri-Forum, tydens ’n kransleggingsplegtigheid in Pretoria, het by Afrikaners ’n wrang smaak in die mond gelaat. Afri-Forum het op 8 Januarie ’n geleentheid gereël dat kranse gelê word op die plek waar die Kerkstraatbom op 20 Mei 1983 ontplof het. Die bom was die werk van die ANC. Dit het voor die Poyntons-gebou in Pretoria, wat personeel van die destydse Gevangenisdiens en die Lugmag gehuisves het, ontplof. 19 Mense is in die ontploffing dood. Afri-Forum het die kranslegging gereël op dieselfde dag wat die ANC se 100- jarige feesvieringe in Bloemfontein plaasgevind het om Blankes te herinner aan die terreur wat die ANC teen Blankes en die Suid-Afrikaanse regering gepleeg het.
Afrikaners het dit nie teen die aksie wat gereël is nie, maar optrede teen 'Afrikaners' wat daar teenwoordig was, het wye reaksie op die internet tot gevolg.Mnr. Chris Stapelberg van Brits is die middelpunt van die reaksie teen Afri-Forum. Mnr Stapelberg het in ’n e-pos sowel as ’n brief in die dagbladpers die gebeure soos volg beskryf: “Ons het vandag (8 Januarie 2012) die kransleggingseremonie wat deur Afri-Forum Jeug gereël was, bygewoon. Ek is met groot teleurstelling daar weg. Ek het opgedaag met my Vierkleurvlag wat nog opgerol was in sy sak, toe Charl, die leier van Afri-Forum-Jeug, my kom vra het dat ek asseblief nie die vlag moet uithaal nie, want hy wil nie hê al die aandag van die koerantmense moet op die vlag wees nie. Ek het ook 'n ruiker gehad met die woorde 'Hier kom die Boere' en 'Ons sal Opstaan' en 'n klein Vierkleurtjie daarop. Mnr. Kallie Kriel het my genader en saggies in my oor gesê (in 'n dreigende stemtoon) dat ek die plakker moet verwyder of my blomme moet neersit met die plakkers na onder, sodat ander hulle blomme bo-op myne moet sit. Die rede vir hierdie versoek is blykbaar dat Afri-Forum nie politiek by die geleentheid wou insleep nie.
E-TV se kamera was die heeltyd op my gerig. Mnr. Kriel het gewag totdat die kamera weggeswaai het voordat hy dit, met sy rug na die mense toe, vir my gesê het.”
Mnr. Andries Breytenbach, leier van die HNP, het in sy kommentaar gesê Afri-Forum se optrede behoort niemand te verbaas nie. “Daar is ’n verskil tussen burgerregte en volksregte. Afri-Forum noem homself 'n burgerregte-organisasie. In 'n burgerstaat soos De Klerk se gehawende "Nuwe Suid- Afrika" het alle burgers glo gelyke regte, en 'n burgerregte-organisasie beywer hom daarvoor. Per definisie kan so 'n burgerregte-organisasie nie die hartklop van 'n volk voel of uitdra nie. Daarom is ons volksimbole vir hulle ‘politiek’ en 'n verleentheid. “Hulle mag ander goeie dinge doen, maar die vryheidsideaal en nasionale verwesenliking van ons volk sal gedra word deur volksgenote, -organisasies en - liggame wat trou hou aan die geskiedenis, roeping en strewe van hierdie Geloftevolk, wat ons ken as die Boere-Afrikanervolk”, sê mnr. Breytenbach.
Mnr. Alwyn de Klerk se in sy kommentaar: “Wat my warm onder die kraag maak, is dat hulle wel volksimbole gebruik wanneer dit hulle pas. Verlede jaar het hulle met een van hulle prysuitdeling seremonies laerskoolkinders met volksvlae op die verhoog gehad. Ek was egter smoorkwaad toe ek opmerk dat die ANC se landsvlag ook saam met die volksvlae vertoon word.”
Verskeie ander bekendes in die Afrikaner-politiek het reageer. Met die ter perse gaan, was daar nog steeds e-pos-reaksie teen die optrede van Afri-Forum, sommige daarvan in ’n baie kras en glad nie vleiend teenoor Afri-Forum nie.
Intussen het mnr. Charl Oberholzer, voorsitter van Afri-Forum Jeug, in ’n brief in die linkse dagblad, Beeld, geskryf dat ’n klein groepie "randfigure saam met brandewyn en Swastika-agtige embleme die vlag misbruik het en in die proses Afrikaners as bullebakke voorgehou het". Hy skryf verder dat die kranslegging gereël was om die talle onskuldige burgerlikes wat in die 1980’s in die ANC se landmyn- en bomaanvalle gesterf het, te huldig. Hy beskou die optrede van mnr Stapeberg met sy Vierkleur as ’n poging om die fokus van die byeenkoms op die ANC se terreurveldtog, weg te skuif deur ’n radikale kleur daaraan te gee.
Bron: Die Afrikaner 13 Januarie 2012