SA KOSPRYSE DUURDER AS BRITTANJE

Theuns Botha

Die prys van maalvleis en melk by twee supermarkte in Suid-Afrika was onderskeidelik 41% en 24% duurder as by soortgelyke supermarkte in Brittanje.

Dié inligting is deur dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van die Oos-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), op ’n bestuursvergadering op Cradock verskaf. Hy het verwys na ’n opname wat mnr. Brendan Grundlingh, ’n navorser van SBG Securities, op ’n onlangse vakansie in Brittanje oor die prys van basiese kossoorte gedoen het.

’n Mandjie met verteenwoordigende kossoorte by Pick 'n Pay en Shoprite in Suid-Afrika was gemiddeld 7% goedkoper as by die winkelgroepe ASDA en Tesco in Brittanje. Die goedkoopste produkte op die rak wat nie deel was van ’n spesiale aanbieding nie, is vir die opname gekies.

’n Wisselkoers van R12,30 teenoor die Britse pond is gebruik. Nadat BTW (20% in Brittanje en 14% in Suid- Afrika) bygetel is, was die Suid- Afrikaanse kosmandjies gemiddeld 13% goedkoper.

“Ek was verras dat maalvleis (bees) en melk in Suid-Afrika duurder was. Heel hoender in albei lande het dieselfde gekos, maar bevrore vis in Suid-Afrika was ook duurder.”

Graanprodukte
Ofskoon die prys van die goedkoopste brood van Pioneer, Premier en Tiger Brands en dit wat self deur die supermarkte gebak word, baie dieselfde was, was witbrood ’n paar sent goedkoper by Tesco.

“Graanprodukte se pryse in Brittanje is ook effens laer,” sê Grundlingh. Prinsloo sê die bevindinge kom nogal as ’n skok. “Ons dink altyd dat vleis in Europa baie duurder is as in Suid-Afrika en dat ons hier op hoër pryse geregtig is.

"Miskien moet ons rooivleisprodusente eerder kyk hoe hulle uitgawes en koste kan besnoei. Daar kan ’n verbruikersweerstand intree indien ons vleisboere nóg hoër pryse verwag.

"Aan die ander kant het vleispryse sedert die opname aansienlik afgeplat en behoort die handel dit aan verbruikers deur te gee, het hy aan Landbouweekblad gesê.