Daar word deur baie instansies en mense gevra wat die wet met betrekking tot inligting behels waaraan besighede, boerderye en werkgewers nou weer moet voldoen. Hulle wil weet wat die doel daarmee is en wat hulle verantwoordelikheid daarteenoor is.
Ons weet dat die ANC-regime hierdie wette instel met baie verskillende agendas en ons moet vir baie meer versigtig wees as net die blote nakom van wetgewing, maar eerstens moet ons verstaan wat in 'n wet van ons verwag word alvorens ons sal weet hoe om daarmee te handel.
Butch van Blerk, direkteur van Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad, werp lig op meeste van die vrae wat gevra word:
Die Wet op Toegang tot Inligting (Promotion of Access to Information Act, of “PAIA”), is goedgekeur in 2000 en verleen die reg aan aanvraers om inligting van publieke en private entiteite/besighede aan te vra.
'n Aanvraer is slegs geregtig op toegang tot inligting wat hy kan aantoon wat op hom betrekking het en hy ‘n reg het om daarop aanspraak te maak om dit te ontvang.
'n Praktiese voorbeeld sou wees die aanvra van inligting omtrent 'n elektrisiteitsrekening, of belastingrekening op eiendom wat volgens die aanvraer moontlik foutief blyk; of 'n boer wat voer verkoop en die koper se diere daarvan vrek of siek word.
Kragtens art. 51 van die Wet moet alle private entiteite (alleeneienaars, beslote korporasies, maatskappye en besigheidstrusts) ‘n “Inligtings Handleiding” besit. Die dokument moet aandui wie die inligtingsbeampte by die betrokke besigheid is, asook die prosedure wat 'n aanvraer moet volg om inligting aan te vra. Hierdie handleiding moet geteken word deur die inligtingsbeampte en by die Menseregtekommissie geliasseer word. Dit kan per pos geskied. So ‘n entiteit is ook verplig om die inhoud van sy handleiding vir inspeksie aan die publiek beskikbaar te stel.
Die Menseregtekommissie administreer die werking van die Wet en ‘n boete of gevangenistraf van tot twee jaar kan opgelê word, indien 'n besigheid versuim om aan die wet te voldoen. In hierdie hierdie stadium vorder die kommissie nog geen koste vir die administrasie van die Wet nie en is die proses gratis.
Tot en met 31 Desember 2015, wanneer die moratorium heroorweeg sal word, is sekere kategorieë van private-entiteite vrygestel van hierdie hele proses, onder andere landboubesighede waarvan die omset minder as R2 miljoen per jaar is. Indien jy 50 of meer werknemers in diens het, moet jy egter aan die wet voldoen.
Kontak egter jou regspraktisyn vir regsadvies ten opsigte van jou besigheid se posisie en bly in voeling oor jou persoonlike omstandighede in hierdie verband.