INLIGTINGSWET ONWETTIG

Nuwe wet is in stryd met grondwet

Ray Wagner

Die omstrede liberale advokaat, George Bizos, het skynbaar sy politieke bril verwyder sodat hy ook die lig kan sien. Hy het sopas namens ’n menseregteliggaam met die veelseggende naam, Oppas, opgetree en bevind dat die ANC se wetsontwerp rakende die beskerming van inligting nie in elke opsig grondwetlik is nie.

Hy het dit skriftelik soos volg uitgedruk: “Die huidige konsep van die wetsontwerp is strydig met en inderdaad ’n bedreiging vir baie van die fundamentele waardes en beginsels wat in die grondwet verskans word”.

Bizos, wat lid is van die grondwetlike litigasie-eenheid van die Regshulpsentrum, se betoog is een van 293 geskrewe vertoë aan die Nasionale Raad van Provinsies se ad hockomitee wat die wetsontwerp nagaan nadat dit verlede jaar te midde van ’n bohaai in die openbaar in die parlement goedgekeur is. Bizos wys op sewe foute in die wetsontwerp, onder meer ’n gebrek aan een wat die openbare belang kan verdedig.

Hy beskou die openbare belangklousule as noodsaaklik aangesien dit individue kan vrywaar van vervolging in beperkte en toepaslike omstandighede waarin onthullings in die openbare belang gedoen word.

Die afhandeling van die wetsontwerp in sy huidige gedaante sal waarskynlik met minagting van die openbare standpunt afgedwing moet word.