'STUPID'-KOORS NOG ALTYD IN AFRIKA

UIT DIE PERD SE BEK!

Justice Malala, 'n swart rubriekskrywer van 'n Engelse Johannesburgse dagblad, skryf in sy rubriek onder die opskrif “Stupid-koors tref Afrika” dat die geelkoors-beheerstelsel in Afrika lankal in duie gestort het. Die kern van die verhaal is dat 125 Nigeriërs op die Johannesburgse lughawe aangekom het en weggewys is omdat hulle verdagte sertifikate gehad het om aan te dui dat hulle teen geelkoors ingeênt is.

Hy begin sy rubriek met die stelling dat Afrika se grootste probleem ten alle tye die gebrek aan leierskap was. Ray Wagner, redakteur van Die Afrikaner, het 'n uittreksel uit Malala se rubriek in Afrikaans vertaal:

“Ons is in die moeilikheid. Niks illustreer Afrika se probleem duideliker as die molshoop wat verlede week ’n berg geword en ’n kloof tussen die twee ekonomiese 'supermagte' van die kontinent – Nigerië en Suid-Afrika – veroorsaak het nie.

“Die hele affêre was ’n klassieke voorbeeld van die naakte stiksienigheid, gebrek aan waardes, die skynheiligheid, grootdoenerigheid, dom-astrantheid en ’n gebrek aan diepte wat al tot sinnelose oorloë op die kontinent gelei het.

“Ons Afrikane behoort die gebeure van die afgelope week in oënskou te neem en te poog om iets daaruit te leer, andersins sal ons die wêreld se sukkelaars bly. Die Sjinese, Europeërs en enigiemand anders wat genoeg belangstelling getoon het om die verloop van sake te volg, lag seker uit hul mae ten koste van ons.”

“By die lughawe by Lagos stap tientalle kinders rond met gestempelde, oorspronklike sertifikate teen sowat R40 stuk. Dit was seker petrol op die vuur vir menige rassistiese plannetjies.

“In Suid-Afrika kos ’n wettige sertifikaat sowat R600. Al is dit waar dat die Nigeriërs vervalste sertifikate by hulle gehad het, bly die vraag hoe daar met sekerheid gesê kon word die betrokke Nigeriërs was met valse sertifikate toegerus?"