VERVOLGING DALK ONWETTIG AS MOTORISTE NIE TOL BETAAL

Hiermee bevestig ons weer eens dat Gelofteland tot geen politieke party verbind is nie maar dat alle waardige en belangrike inligting van verskillende partye gebruik word om aan ons lesers oor te dra.

MEDIAVERKLARING

Gauteng-tolfooie en Sanral intimidasie: Vervolging van motoriste is onuitvoerbaar en moontlik onwettig

VF Plus-parlementêre woordvoerder: Adv. Anton Alberts: Vervoer

Die Vryheidsfront Plus vind die intimidasie-taktiek wat deur SANRAL en die regering gevolg word om motoriste te dwing om e-skyfies te koop en te betaal vir die tolstelsel as onsmaaklik en kontraproduktief deur onder andere te dreig dat voertuiglisensies teruggehou sal word totdat skuld betaal is. Die hele stelsel is alreeds gehul in kontroversie en die tipe antagonisme sal die publiek bloot verder aanvuur om publieke ongehoorsaamheid as instrument in te span. Voorts is die dreigemente van SANRAL en die regering leeg aangesien dit blyk dat die vervolging van motoriste wat weier om tolgelde te betaal waarskynlik onuitvoerbaar en onwettig sal wees. Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor vervoer, bestaan die volgende probleme met die wetgewing:

  • Daar blyk geen regsgrond te wees om voertuiglisensies te weerhou weens die nie-betaling van tolgelde aangesien lisensiefooie verskuldig is aan provinsiale owerhede en tolgelde gehef word deur ‘n nasionale agentskap. Selfs al sou provinsies instem daartoe is dit steeds ‘n regsvraag of daar ‘n logiese konneksie is tussen die betaling van tolgelde en die uitreik van lisensies aangesien elkeen verskillende aspekte van die openbare lewe reguleer.
  • Geen wetgewing bestaan wat nie-betaling van tolgelde ‘n oortreding maak in terme van die Strafproseswet of enige van die verkeerswette nie. Blykbaar het die department van vervoer planne om ‘n wysigingswet te skep, maar dit gaan nog lank neem voor dit deur die parlementêre siklus kan gaan en sal op die gouste eers teen jaareinde gereed kan wees;
  • Selfs al word ‘n misdryf deur wetgewing geskep, sal die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (AARTO) net geld vir Johannesburg en Pretoria waar dit op ‘n proefbasis opereer. In ander gebiede sal die Strafproseswet gebruik moet word, maar dit skep verdere probleme. Afhangende van die jurisdiksiegebied van die sogenaamde oortreding, sal ‘n nie-betaler of tronk toe gestuur kan word in terme van die Strafproseswet of moet daar beslag gelê word op sy eiendom in terme van AARTO, as ergste strawwe. Verder word ‘n persoon aan die een kant blootgestel aan die opdoen van ‘n kriminele rekord en aan die ander kant aan die opdoen van ‘n swak kredietrekord. Dit is in wese ongelyke behandeling vir dieselfde oortreding en sal verseker op grondwetlike basis aanvegbaar wees.
  • Verder, ingevolge artikel 30 van AARTO moet alle kennisgewings op die persoon self of per geregistreerde pos beteken word. Die onkoste en druk op die posstelsel om elke dag honderde duisende geregistreerde kennisgewings af te lewer sal geweldig wees en stel dus wesenlike vrae oor die volhoubaarheid van die posstelsel. Verder het daar in Johannesburg die gewoonte ontwikkel om AARTO-kennisgewings net per gewone pos te stuur wat ‘n verbreking van artikel 30 daarstel. Sou SANRAL se tol-kennisgewings ook so uitgestuur word, sal almal ongeldig wees.

Hierdie stand van sake is net nog ‘n bewys dat die implementering van die tolstelsel nooit behoorlik deurdink is nie. Die VF Plus glo steeds dat die tolstelsel afgeskaf moet word en dat die bestaande strukture eerder gebruik word vir verkeersmonitering en –bestuur. Intussen gaan die VF Plus voort om te beplan aan protes- en hofaksie om die tolstelsel te keer