SO KAN SANRAL VERDER GEKELDER WORD

Volgens Cliff Johnston van die SA Nasionale Verbruikersunie, word motoriste reeds wyd aangeraai om by SANRAL terugbetaling te eis vir hulle e-kaartjie. Dit sal SANRAL glo R25 miljoen laat opdok indien almal wat reeds geregistreer is terugbetaal moet word. Die logiese rede vir die terugeis is klaarblyklik die feit dat daar nie binnekort oplossings vir die huidige dispuut oor die tolstel sal kom nie en geregistreerders het daarom die reg om hulle geld terug te vra.

Ongeveer 'n half miljoen motoriste het reeds vir die tolstelsel geregistreer, dit beteken sowat 500 000, wat teen die betaalde R50 per e-kaart meebring dat SANRAL soveel as R25 miljoen sal moet terugbetaal. SANRAL is volgens die Verbruikers Beskermingswet veronderstel om hierdie gelde eenkant te gehou het juis vir moontlike terugeise en kan nie nou weier om dit terug te betaal nie. Intussen raai SANRAL kaarthouers aan om asseblief hulle kaarte te hou – maar natuurlik!

Intussen is SANRAL 'n verdere R20 miljard in die skuld as gevolg van die Ga-ga Teng Snelweë Verbeteringsprojek wat deel van die e-tol-kontrak uitgemaak het.

SANRAL se skuld kan moontlik 'n R100 miljoen per maand oploop terwyl die inwerkingstelling van die tolstelsel uitgestel word.