Met Eskom se toestand – dis nou daai een waar hulle nie inkomstes gebruik om betyds nuwe kragstasies te bou en die oues in stand te hou nie maar hulself daarmee enorme salarisverhogings gee – is ons nie verbaas oor die nuutste voorstel om ons kragpryse met 'n verdere 50% te verhoog nie – dis nou iets soos oor vyf jaar sodat dit ons glo nie te hard sal klap nie. En hulle steur hulle aan niemand anders se platsakke, nie volgens Paul O’Flaherty, Eskom se finansiële hoof, wat hierdie aankondiging in die ANC-parlement gedoen het nie. Dié voorstel beteken dat kragpryse van 60c per kilowatt-uur (kWh) tot 90c per kWh sal moet styg.
Dit is glo nodig om die skuld wat Eskom vir die uiteindelike oprigting van nuwe kragstasies toe hulle wakker geskrik het, te delg. En dit is nog nie die einde nie want, sê O’Flaherty, Eskom is van plan om in Julie vanjaar weer vir stewige tariefverhogings aansoek te doen. En dit is al amper Julie!
Die Nasionale Energiereguleerder, Nersa, het vroeër die jaar ‘n kragprysverhoging van 16% aan Eskom toegestaan. Die kragvoorsiener het vir ‘n 25,9% verhoging aansoek gedoen, maar kon dié laer verhoging hanteer weens die R8 miljard wins wat hy gemaak het. In Maart 2011 het O’Flaherty gesê sowat R300 miljard is nodig vir nog bouwerk aan kragstasies. Hy het Dinsdag gesê tot Maart vanjaar is R180 miljard se finansiering bekom maar hy het nie presies gesê waar dit heengegaan het nie...
Daar word deur ekonome gereken dat geen organisasie of boerdery hierdie verhogings sal oorleef nie.