Mediaverklaring: Herstigte Nasionale Party
Reaksie op ANC se oorlogpraatjies is die Afrikaners se reg
Op die voorblad van Beeld (22 Junie) is twee berigte. Die een dui op die woede na die moord op mnr Johan van Rensburg by Baltimore. Daaroor sê Beeld op ’n plakkaat dat mense van oorlog praat. Die ander gaan oor Delmas se mense wat verenig in gebed vir vrede. Natuurlik kan die krag van opregte gebed en verootmoediging nie onderskat word nie, maar die woede en vrees wat menige blanke beetpak, kan nie uit die oog verloor word nie.
Alle owerhede se eerste plig en verantwoordelikheid is om die lewe en besittings van al sy inwoners te beskerm. Dan is daar dalk ’n kans dat die bevolking in vrede kan saam lewe. Die ANC-regime wend geen poging aan om maatreëls in te stel wat ook die Blankes in die land kan beskerm teen die aanvalle, rooftogte en moorde deur Swartes nie.
As Roland Lamola van die ANC-jeug dan oorlogsdreigemente maak dat “wetgewing so kragdadig soos oorlog kort om grond terug te vat...” dan kan dit nie anders dat Afrikaners in ’n toestand van die voortslepende moorde in woede reageer nie. Oorloë word gevoer oor grondbesit. As die ANC en/of die ANC-jeug die Afrikaners se duur verworwe vaderland wil vat, met die leuen dat die grond aan die swart mense behoort, is dit ’n oorlogsverklaring. Swartes in Suid-Afrika het in die vorige bedeling reeds 50% van die land ontvang. Dit het die destydse tuislande ingesluit, waarvan Swaziland en Lesotho toe reeds volle onafhankilkheid gekry het.
Almal in die land beleef daagliks hoe die ekonomie verswak. Belastings hou aan om te styg. Die infrastruktuur stort in duie. Die regeerders is korrup. En dit is hoofsaaklik die Witman wat betaal. Blankes word beroof, aangerand, verkrag en vermoor. Verbaas dit dan dat woede ontstaan as nog ’n boer vermoor word? As ’n baba wreedaardig sterf?
Die predikante van Delmas kan gerus ook maar opstaan en standpunt inneem vir die reg van die Afrikanervolk. Die indruk is op Delmas geskep dat die moorde maar net deel is van ’n vlaag misdaad wat bestuur kan word. Daar is geen manier om binne die ANC-bestel te probeer om die huidige veelrassige bestel te maak werk nie. Veelrasigheid vernietig volke.
Die HNP staan onomwonde by sy standpunt dat volke slegs in vrede naas mekaar kan lewe as elke volk sy grondgebied het waar hy in eie reg oor homself kan regeer.