Mediaverklaring
HERSTIGTE NASIONALE PARTY
Pelgrimsrus deel van die ANC-aanslag
Die sluiting van blanke besighede op Pelgrimsrus
Die bekendmaking dat sewentien besighede in Pelgrimsrus wat aan blanke eienaars behoort, aangesê is om hul deure te sluit met die klaarblyklike bedoeling om dit aan swart eienaars oor te dra, behoort volksgenote wat deur versekerings van die ANC gerus gestel word dat konfiskering van eiendom sonder vergoeding nie ANC-beleid is nie, tot nugterheid te bring. Die optrede demonstreer dat nie net plaasgrond geteiken word nie. Volgens inligting is die bewering dat die eienaars nie betyds aansoek gedoen het om verlenging van hul kontrakte nie, onwaar, en met die ANC se rekord van vrot administrasie kan aanvaar word dat hulle verskoning vir dié jongste roof nie water hou nie.
Daar is baie maniere om 'n kat dood te maak, en die volksvyandige regering weet dit ook. Die kleptokrasie aan wie De Klerk die politieke mag in Suid-Afrika oorhandig het, is derhalwe baie vindingryk om maniere te vind om ons blanke erfgoed te roof, en eie aan 'n sosialistiese/kommunistiese regime is alle private eiendom in hulle visier. Die Afrikaanse organisasies wat nog deelneem aan berade met die ANC behoort sonder versuim uit protes en ter wille van ons volk se selfrespek daaruit te stap.
Daar is uiteindelik net een manier om aan die volksvreemde onderdrukker se grypsugtige kloue te ontsnap en ons volk se erfenis te bewaar en uit te bou, en dit is om ons nasionale vryheid te herwin. Die Volksraad beywer hom daarvoor en versoek volksgenote om daadwerklik hulle steun daaraan toe te sê deur op die VVK se kieserslys te registreer.
Die uitsettingsbevel aan 17 sakemanne op Pelgrimsrus om hulle besighede binne 30 dae te ontruim, is ‘n verdere toepassing van die Freedom Charter. Dié sogenaamde vryheidsdokument skryf voor dat die “nasionale rykdom aan die swart massa teruggegee sal word”.
Die gebeure op Pelgrimsrus gebeur binne ‘n week na die ANC se beleidskongres by Midrand waar die “tweede oorgang” bekendgemaak is. Dit is nou baie duidelik dat die beslaglegging op blanke eiendom nie net op landbougrond betrekking het nie, maar op alle besittings van die Witman, soos woonhuise, pensioene en beleggings.
Pelgrimsrus is ‘n verklaarde historiese gedenkwaardigheid. Die gebeure op Pelgrimsrus is simbolies baie betekenisvol. Op hierdie klein dorpie het die Witman deel van Suid-Afrika se rykdom ontdek en ontwikkel. Nou lê die ANC beslag op hierdie geskiedkundige erfenis. Dit is inderwaarheid ’n verklaring dat daar beslag gelê word op die Witman se rykdom en dat die Afrikaner-geskiedenis vernietig sal word.
Passiewe verslaentheid van die kant van die Afrikaner is nie langer aanvaarbaar nie. Die toestand in die land en die vernietigende aanslag op ons volk eis verset en ’n wil tot weerstand om te behou wat ons volk se eiendom is.