20 Jaar nodig vir padkrisis in Vrystaat
Ditsemblits
Volgens inligting verstrek deur die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, Butana Komphela, in die Wetgewer, kan dit teen ’n totale bedrag van R20 miljard 20 jaar duur om die agterstand in padinstandhouding in die Vrystaat in te haal. Altesaam 70% van die provinsie se teerpaaie is in ’n slegte toestand en 90% van die grondpaaie is sleg. Volgens ’n padopname wat in November voltooi is, is 40% van die 6 370 km teerpad baie sleg, 24% sleg en 6% onrybaar. Slegs 5% is in ’n baie goeie toestand, 8% is goed en 17% is gemiddeld. Altesaam 70% van die 22 197 km grondpad is baie sleg en 20% sleg. Slegs 2% is goed en die ander 8% gemiddeld. Tans is slegs vier padherstelprojekte in die Vrystaat aan die gang: Die toegangsroete tot Qwaqwa (R250 miljoen), die Monontshagrenspad (R200 miljoen), die pad tussen Warden en Standerton (R224 miljoen), en die pad tussen Heilbron en Petrus Steyn (R335 miljoen). Die 23 paaie wat in 2009 uitgewys is as paaie wat dringend herstel moet word teen ’n koste van R3,9 miljard, is tot stilstand geruk weens grootskeepse korrupsie met die toekenning van tenders.