ANC ENIGSTE MONSTER...

Mediaverklaring
Herstigte Nasionale Party
ANC se onvermoë om misdaad uit te roei
Die uitspraak van die ANC se minister van polisie, Nathi Mthethwa, dat misdaad in Suid-Afrika nou so groot is soos wat apartheid was, is ‘n erkenning dat misdaad ’n onbeteuelde monster onder ANC-bewind geword het, maar om dit met die sukses van apartheid te vergelyk, verraai hy sy onkunde en ry hy maar net nog ’n keer op die ANC se “gee apartheid die skuld-politiek”.
Onder apartheid was daar vrede en harmonie onder al die bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. Misdaad is met ’n ysterhand beheer. Die groeikoers in die land was 6% en inflasie 2% per jaar. Werkloosheid het bykans nie bestaan nie en 74% van nuwe arbeid kon in die formele sektor geakkommodeer word. Die vyandige Engelse pers het oor dr Verwoerd se regering se sukses geskryf as “a shining example of success on ’n troubled continent.” Nou beleef ons ’n toestand onder die ANC waar twee polisie-kommissarisse weens korrupsie die pos van hoof van die polisie moes ontruim.  Die minister van polisie sê “om misdaad te bekamp, is baie moeilik”. Daardeur erken hy sy onvermoë om sy werk te doen.
Misdaad kan beëindig word as die regering van die dag die wil het en dit sy beleid is om misdaad uit te roei. ’n Veilige bestaan vir al die inwoners van die land is enige regering se eerste verantwoordelikheid.
Om die misdaad uit te roei, moet baie meer polisielede aangestel word. Dié polisie moet die beste opleiding ontvang. Polisielede wat nie hulle werk wil of kan doen nie, moet summier ontslaan word. Behoorlike gesagstrukture moet korrupsie in die polisiemag uitroei. Die bevolking moet weer na die polisiemag opsien as die bewakers van wet en orde en vrede in die land. Spesialis-eenhede moet in plek gestel word en ‘n misdaad soos plaasmoorde moet as ’n prioriteitsmisdaad verklaar word.
Meer tronke moet gebou word. Oortreders moet behoorlik gestraf word en tronk toe gestuur word en nie daar vyfster-behandeling ontvang waarna enige werklose misdadiger kan uitsien nie. In die proses word werkloosheid aangespreek as tronke gebou en bekwame werkloses in die polisiemag en gevangenisdiens aangestel word.
Misdaad is nie die monster nie. Die monster wat vernietig moet word, is die ANC se onwilligheid om misdaad aan te spreek.