GEBRUIK ANC- SKUIWERGATE!

Munisipale flater help ‘stakende’ belastingbetalers

Anita Morkel

Inwoners van die Oos-Kaap gaan vroeg aanstaande maand op Cradock vergader om te besin oor die pad vorentoe.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat al 45 Oos-Kaapse munisipaliteite, met die uitsondering van Port Alfred, nie voldoen het aan die vereistes van artikel 14(2) van die Eiendomsbelastingwet van 2004 nie deurdat hulle sedert 2005 (toe die wet in werking getree het) versuim het om jaarliks die tariewe vir huishoudings en besighede in die provinsiale staatskoerant te publiseer.

Dit gee belastingbetalers die reg om te weier om die tariewe te betaal vir die jare waartydens dit nie ingevolge die wetlike voorskrifte uitgevaardig is nie en gee hulle die reg om die tariewe wat in dié tydperk betaal is, terug te eis.

Twee belastingbetalersverenigings van Oos-Londen sê dat hulle weens hierdie versuim weer hulle dienstegeld gaan ‘herlei’, en dat ander belastingorganisasies binnekort hul voorbeeld gaan volg. In Port Elizabeth dreig ten minste twee verenigings met hofsake oor die aangeleentheid.

Die Beacon Baai belastingbetalersvereniging is al sedert verlede jaar in ‘n dispuut met Oos-Londen munisipaliteit gewikkel oor swak dienslewering. Hulle het egter twee maande gelede hul hofsaak teen die munisipaliteit verloor. Appèl is teen die uitspraak aangeteken.

Die voorsitter van die vereniging, Judy Sanan, en ander belastingbetalers meen dat die flater omtrent die wetgewing ongetwyfeld die dispuut sal help uitbrei. ‘n Vergadering is verlede week in Port Elizabeth daaroor gehou, waar mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU) ook teenwoordig was. Hy sal ook die vergadering op Cradock bywoon.

Sanan het gesê dat huishoudelike belastingbetalers, maar ook boere en besighede na die vergadering genooi is. Sy het voorts gesê dat die nuwe bevinding nie beteken dat hulle dienstegeld weerhou nie, maar tariewe terugeis omdat die munisipaliteit nagelaat het om aan die vereistes van die Wet op Eiendomsbelasting te voldoen.

Die ondersoeke of munisipaliteite in ander provinsies sedert 2005 aan die wetlike vereistes voldoen het, gaan ondertussen steeds voort.