MALEMA STOOK REWOLUSIE

Mediaverklaring

Herstigte Nasionale Party

Dit is duidelik dat die ANC-owerheid nie die moed het om teen Julius Malema op te tree nie. Malema se uittartende optrede sweep die massa op. Die toestand grens aan rewolusie.

Malema is besig om die werkloses teen die leiers van die ANC op te sweep. Sodoende word ’n nuwe politieke groepering gevorm. Malema steur hom duidelik aan geen gesag nie. Nie aan die vakbonde nie, nie aan die ANC-owerhede nie, nie aan die minister van verdediging nie. Hy is besig om die massa op te vorder en soos ’n Idi Amin self die baasskap in die land op hom te vestig.

Deur intimidasie het Malema die toestand by die platinummyne in ’n posisie waar produksie so verlaag het dat dit tot gevolg het dat die prys van platinum reeds met 18% gestyg het. Deur Malema se invloed kan dieselfde ook by die goudmyne gebeur. Suid-Afrika se ekonomie rus baie swaar op die produksie van edelmetale. Die toestand wat Malema skep, kan Suid-Afrika se ekonomie totaal in duie laat stort. Die feit dat daar nie ’n klagte teen hom gelê word nie, laat die vraag ontstaan wie die magte is wat hom finansier en of daar ander magte is in wie se belang hy optree.

Malema het sy fokus geskuif na ontevrede weermaglede. Hy het soldate in Lenasia toegespreek nadat die ANC se minister van verdediging gesê het dit sal nie toegelaat word nie. Dit bring die toestand baie naby aan ’n staatsgreep, al ontken hy dit. Die spreekwoord sê waar ’n rokie trek, moet daar ’n vuurtjie wees.

Die HNP waarsku dat die veiligheidstoestand in die land verder kan versleg en maan alle Blankes om veilig te lewe en paraat te wees om self hulle lewens en besittings te beskerm.