Die HNP het met minagting kennis geneem van die feit dat die ANC-staatshoof van laakbare metodes soos afpersing en omkopery gebruik wil maak om blanke boere van hulle grond te ontneem.
Om boere te beloof dat hulle grond veilig sal wees as hulle ander boere se grond in wese aanbied vir “grondhervorming”, is omkopery. Om boere te beloof dat hulle outomaties SEB-status sal kry as hulle deel vorm van gemeenskapsprojekte om blanke boere van hulle grond te ontneem, is afpersing van dié boere wat nie daarby betrokke wil raak nie.
Zuma erken self dat minder as die helfte van die kleinboere wat hy gevestig het, ‘n bydrae lewer tot landbou. Dit gaan dus nie by hom en sy kommunistiese kollegas oor die verbouing van voedsel nie, maar net om grond te besit. Hulle klou aan die wanpersepsie dat grond rykdom impliseer. Die besit van grond op sigself is geen rykdom nie. Dit kan wel bydra tot rykdom as daar deksels hard op daardie grond gewerk word.
Gemeet aan die mislukkingsyfer van 95% op die “grondhervormings”-projekte tot dusver, blyk dit dat daardie werkywer nie bestaan nie. Die gevolg is dat die hele grondbesettingsproses niks anders is nie as hebsug op dit wat die blanke boer oor geslagte heen vermag het.
Die HNP doen weer eens ‘n beroep op boere om onder geen omstandighede hulle grond vrywillig aan die staat en ook nie aan swart kopers aan te bied nie. As die Afrikanervolk homself uiteindelik vry wil maak, beteken dit dat ons as volk ook grond moet hê. Om grond vrywillig aan te bied sodat die ANC dit dan kan gebruik vir politieke steun by sy eie mense, is selfmoord.
Ons doen ‘n beroep op boere om, as hulle hulle grond moet verkoop om welke rede ook al, dit slegs aan bekwame blanke boere aan te bied, en die erf- en volksgrond nie in vreemde hande te laat beland nie.