BOERE SE LANDE MOONTLIK BESMET

Mediaverklaring

20 Januarie 2011

Waterbesoedeling deur oorstromings aangehelp


Die Nasionale Waterforum (NWF) het sy kommer uitgespreek oor die uitwerking van die onlangse vloede op die land se watersituasie.

Die nasionale voorsitter van die NWF, mnr. Louis Meintjes, het daarop gewys dat die oorstromings vuil en besoedelde water oor ‘n wyer gebied versprei het en in wese die besoedeling versprei het.  “Veral boere moet bedag daarop wees dat oorstroomde lande dalk spesiale aandag nodig het as die water eers gesak het.”

Mnr. Meintjes wys daarop dat suur mynwater nou vinniger gestyg het en dat die suur water dus vinniger en wyer versprei het.  “Die groot hoeveelheid reënwater wat daarmee vermeng het, het dalk die konsentrasie swaar metale verdun, maar het dit beslis nie laat oplos nie.”  Hy het ook gewaarsku dat rioolwerke in baie gevalle as gevolg van die reën oorspoel het en dat rou riool ook op dié wyse in die waterstelsels gekom het.  “Die gevaar lê in die uitbreek van swamme en siektes waar daardie besoedelde water op boere se lande gekom het en boere moet fyn daarna oplet,” sê mnr. Meintjes.

Navrae: mnr. Louis Meintjes, sel. 082 461 7262