ONS GROEIENDE EKONOMIE VOOR '94

DIE AFRIKANER EN SY EKONOMIE

Dr H.A. Sloet

"'n Volk, of volksgroep, kan nie opgehef word deur 'n enkele reddingsdaad nie. Ons sal moet bereid wees om vir baie jare hard te werk, op te offer en te ontbeer... maar daardie ontbering... moet 'n vrywillige offerande wees wat as besieling het die vaste geloof in eie waardiger volksbestaan."

"Die Afrikaner sal weer moet terugkeer na sy eie goed toe... en in die besonder sal die Afrikaner hom moet bevry van sy ekonomiese knegskap deur... ook doelbewus beslag te lê op die magtige stedelike rykdomsbronne van handel en industrie. Daarvoor is nie nodig 'n anti... beweging nie – al wat nodig is, maar dit sal volle kraginspanning vereis – is dat die Afrikanerdom die Afrikanerbesigheid sal ondersteun deur samesnoering van hul koopkrag, hul kapitaalkrag en hul besigheidsvernuf." 

Omdat ek 'n Afrikaner is, stel ek 'n groter en steeds stygende bydrae van die Afrikaner op ekonomiese gebied voorop. Dit is vir my duidelik dat die Afrikaner reeds 'n baie belangrike bydrae gelewer het tot die ekonomiese voorspoed in Suid-Afrika. 'n Doelgerigte investeringsveldtog, nie net om Suid-Afrika se produksievermoë aanmerklik uit te brei nie, maar ook om die Afrikaner se aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie  verder uit te bou, is egter nou baie nodig. Dit is belangrik dat die Afrikaner sy posisie in die Suid-Afrikaanse ekonomie verbeter.

Hierdie siening is nie teen iemand gerig nie; dit is nie bedoel om ander te ontneem wat hulle regmatig toekom nie. Dit is 'n positiewe plig om deur eie arbeid, inspanning en ondernemingsgees self dit te verwerf wat die Afrikaner toekom. 'n Groter bydrae van die Afrikaner op ekonomiese gebied kan alleen in belang van die land as geheel wees en kan daarom ook nie ten nadele van die een of ander bevolkingsgroep strek nie. Die vooruitgang van nuwe Afrikanerondernemings en die nuwe gedagterigtinge wat hulle tot uitvoering gebring het, het trouens as prikkel gedien om ou gevestigde en bekende ondernemings onder nie-Afrikanerbeheer, nuwe dinamika en dryfkrag te gee.

Ek wil dit egter beklemtoon dat Afrikanertrots en die beslistheid om die eie identiteit in die sakelewe te behou en verder uit te bou, nie die Afrikaner eng moet maak in sy beskouing van ekonomiese aangeleenthede nie.

Die vraag ontstaan of die Afrikaner in staat is om hierdie verpligting te onderneem. Ek is oortuig van ja, soos 'n terugblik oor die opkoms van die Afrikaner sal bevestig.

Die Afrikaner was landbouer. Die Vryheidsoorlog wat dietwee Republieke verlam en die Afrikaner verarm het, het sy posisie om te kompeteer, ontsettend nadelig beïnvloed.

Daarna het buitelandse kapitaal en die kennis van fortuinsoekers 'n nuwe tydperk van snelle ontwikkeling rondom die diamantmyn- en goudmynbedryf ingelui, met die daarmee gepaardgaande uitbreiding in die handel, fabriekswese en finanansies, hoofsaaklik deur uitlanders.

In 1924, toe begin is met die nywerheidsontwikkeling in Suid-Afrika, het die Afrikaner nóg die kapitaal nóg die tegniese kennis gehad om as ondernemers en eienaars op te tree. Tot met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog nog het die Afrikaner 'n onbelangrike rol gespeel as bestuurder en eienaar in die stedelike onderneming. So agter was hy dat in 1939 die Reddingsdaadbond, die leuse 'n Volk red homself en die Eerste Ekonomiese Volkskongres hom tot redding moes kom. Oproepe kom vir die mobilisering van die kapitaal en spaarkrag van die Afrikaner om die skepping van die eie Afrikaner-onderneming te finansier.

Die Tweede Wêreldoorlog het egter  'n buitengewone prikkel geskep vir snelle ekonomiese ontwikkeling oor 'n breë terrein, waarin die Afrikaner in 'n groter mate begin deel het. 'n Groot deel van die landboubevolking, wat hoofsaaklik Afrikaners was, is verplaas na die kapitaalbesittersklas, terwyl die Afrikaner hom in die stede in toenemende mate handhaaf in die professies. Ook die Afrikanerbelangstelling in die handel en nywerheid brei uit. Federale Volksbeleggings, wat sy geboorte uit die Ekonomiese Volkskongres gehad het, skiet wortel en sit nuwe Afrikaner-gefinansierde besighede aan die gang.  Groter voorspoed kom, en dit maak hoër opleiding wat 'n voorvereiste is vir sukses, moontlik. Toenemende kapitaal-kragtigheid, en die bewustheid dat dit in Afrikaner-ondernemings geïnvesteer moet word, lei tot die suksesvolle stigting en uitbouing van meer en meer Afrikaner-beheerde instellings, terwyl die reeds bestaande finansiële instellings Sanlam, Santam, en Volkskas vinnig groei en self weer kapitaal aanwend om nuwe instellings tot stand te bring.

Suid-Afrika het 'n ver pad gekom, en ons bevind ons vandag in 'n gevordere ontwikkelde sakewêreld, nywerheidsveld en finansiewese, waar die neiging een geword het van groepvorming en groter eenhede, om sodoende die voordele wat asgevolg van massa-aankope, massaproduksie, minimum bemarkingskonkurrensie en maksimum bestuurstegnieke ontstaan, te benut.

Volgens beraming het die aandeel van die Afrikaner in die ekonomie soos volg verloop:

HANDEL:              1939 8%;              1949 25%;            1962 28%;            1970 30%.

FINANSIES:         "        5%;               "         6%;                "       13%;           "        15%.

FABRIEKSWESE "         3%;              "        6%;                "        9%;             "        10%.

MYNBOU:           "         1%;              "        5%;                "       10%;           "         10%.

Uit hierdie gegewens blyk dit dat die Afrikaner reeds redelike vordering gemaak het in die onderskeie afdelings.  In die handel het die Afrikaner die beste gevaar deur talle kleiner ondernemings die lig te laat sien, maar beskik hy nie naastenby oor die groot handelsondernemings soos sy mede-Suid-Afrikaners sodat hy in dieselfde mate aan die groepvorming kan deelneem en sodoende die voordele wat daaruit spruit, kan benut nie.

Volgens die Financial Mail, het die Afrikaner se aandeel in die sogenaamde 100 top-maatskappye (dit wil sê, die 100 grootste maatskappye in die nywerheidsafdeling wat by die Effektebeurs noteer is) gestyg van 13% in 1966 tot 16% in 1970 en beheer die Afrikaner nou in 1973 bates van ongeveer R770 miljoen uit 'n totaal van R4 620 miljoen van hierdie groep.

Wat egter belangrik is, is dat die bates van alle Afrikanernywherheidsmaatskappye in hierdie groep in dieselfde tydperk gegroei het met 182% teenoor die 156% van ander taalgroepe. Die Afrikaner het dus 'n suksesverhaal, en die sukses van die verlede dui daarop dat die Afrikaner 'n sterk vermoë het om 'n steeds groter bydrae in die Suid-Afrikaanse ekonomie te lewer en om sodoende mettertyd regmatig met sy mede-Suid-Afrikaner te deel in die welvaart van sy land. Myns insiens het die noodsaak egter nou ontstaan vir 'n intens dinamiese benadering van hierdie saak. Die Afrikaner is dit aan homself maar ook aan sy medeburger uit 'n ander kultuurstand verskuldig om die proses van ekonomiese ontplooiing met alle krag en spoed en met alle eerbare middele voort te sit en verder uit te bou.

Ek wil selfs sê dat die eerste fase van die ekonomiese vooruitgang van die Afrikaner nou feitlik afgehandel is, omdat die Afrikaner nou oor die kundigheid beskik om groter organisasies te ontwikkel en om in 'n groter mate ondernemer te word. Tot dusver is die Afrikaner die werknemer, maar nou moet ons begin organiseer om ook werkgewers op groter skaal te word. Dink maar as voorbeeld aan die opkoms van die kettingwinkels. Twintig jaar gelede het Suid-Afrika net drie kettingwinkels met meer as 50 takke elk gehad. Vandag is daar talle waarvan minstens vier met meer as 300 takke en etlike ander met meer as 50 takke elk. Ses kettingwinkels tel onder Suid-Afrika se 100 grootse maatskappye, terwyl minstens twee wat 'n netwerk van 'n paar honderd takke elke het, nie eers onder die eerste 100 maatskappye tel nie. Kort voor lank sal minstens 80% van distribusiehandel deur kettingwinkels geskied.

 

DIE KLEINER SAKE-ONDERNEMINGS

Die kettingwinkel het reeds heelwat van die kleiner, en dikwels Afrikanerhandelsondernemings, op die knieë gebring. Goeie paaie en vinnige motors bring die stede nader aan die platteland en bedreig nou ook die plattelandse handelaars, wat tot nou toe nog verseker was van 'n redelik bestendige bestaan.

Reeds groei die kleiner saak baie stadiger as die publieke maatskappy omdat hulle enersyds nie oor die kapitaalbronne beskik nie en andersyds omdat hulle (veral die eenmansake) deur die publiek as uitbuiters beskou word, in teenstelling met die publieke maatskappy wat deur sy finansieringsmiddele 'n beeld van die gebondenheid skep en dit dan gewoonlik nog prakties bevestig met 'n groter voorraadverskeidenheid wat teen laer pryse bemark word, omdat hy weens massa-aankope spesiale kortings kan bewerkstellig. Die posisie is reeds bereik waar sommige kettingwinkels produkte kan aanbied teen pryse wat slegs effens hoër is as dié waarteen die kleiner onderneming dit by die groothandelaar kan aankoop.

Hoe gaan die Afrikaner tred hou met hierdie soort ontwikkeling?

Die kleinhandel, en in die besonder dié deel in Afrikanerhande, is dus vir sy voortbestaan aangewese op groepvorming en die oprigting van groot ondernemings met aansienlike kapitaal indien die Afrikaner wil verseker dat hy nie kosbare veld verloor nie.

As sulke pogings suksesvol is, sal dit vir die Afrikaner 'n breë pad oopkap na die groothandelswese en fabriekswese.

Soos met die Ekonomiese Volkskongres van 1939, moet 'n nuwe spesiale oproep om die mobilisering van Afrikanerkapitaal gemaak word.

Soos professor LJ du Plessis van Potchefstroom dit in 1939 gestel het:

"Die Afrikaner sal weer moet terugkeer na sy eie goed toe... en in die besonder sal die Afrikaner hom moet bevry van sy ekonomiese knegskap deur... ook doelbewus beslag te lê op die magtige stedelike rykdomsbronne van handel en industrie. Daarvoor is nie nodig 'n anti... beweging nie – al wat nodig is, maar dit sal volle kraginspanning vereis – is dat die Afrikanerdom die Afrikanerbesigheid sal ondersteun deur samesnoering van hul koopkrag, hul kapitaalkrag en hul besigheidsvernuf."

Die Afrikaner sal met alle krag moet investeer – óf regstreeks in nuwe Afrikanerondernemings van groot omvang, óf dan onregstreeks deur tot maksimum by die Afrikanerfinansiesaak te spaar, wat dit dan op hom moet neem om te sorg dat Afrikaner-spaarkrag sover moontlik in nuwe Afrikaner-produksiekapasiteit belê word.

Die Afrikaner se kapitaalkrag en sakevernuf moet saamgesnoer word. Hierdie twee faktore, kapitaal en bedryfsvernuf, is van deurslaggewende belang.

In die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika en sy oorgang tot 'n eersterangse nywerheidsland, word daar tans in Suid-Afrika 'n belangrike groep nywerheidsleiers en ondernemers tot stand gebring wat met ervaring, vernuf en kennis wat hulle opdoen, goed toegerus is om verdere nuwe terreine te ontgin en nuwe ondernemings van stapel te laat loop.

'n Groot gedeelte van bestaande bedryfsleiers in diens van die nywerhede en ondernemings wat onder beheer van ons mede-Suid-Afrikaners is, is Afrikaans.

Die gebrek aan kapitaal waarmee die Afrikaner maar altyd te kampte gehad het, het verder 'n ontwikkeling meegebring waarin 'n betreklike groot gedeelte van die Afrikaners hulle wy aan arbeidsrigtinge wat nie tot verstewiging van die Afrikaner se posisie in die sakewêreld lei nie. Die Afrikaner oorheers in die Staatsdiens, Polisie, Provinsiale Administrasie, plaaslike owerhede, onderwys, landbou-beheerrade, Spoorweë en staats-instellings soos Yskor. Dit is ook belangrike terreine, en die Afrikaner beklee dikwels hierdie uitvoerende en ander betreklike senior poste wat beslis nie sonder betekenis is nie en 'n bydrae tot landswelvaart lewer; maar die betrokkenheid van die Afrikaner as ondernemer in die sakelewe en in die vervaardigingsproses word nie hierdeur verbeter nie. Dit veroorsaak trouens 'n verdere skeefheid daarin dat 'n groter gedeelte van ons volksgroepe uit ander kulture beskikbaar kom vir ontwikkeling van hul eie sake.

Hierdie Afrikaner-arbeidsmag, wat uit die geneigdheid van die Afrikaner om verder te studeer, goed toegerus is in die bestuurskunde en bedryfsvernuf, moet aangewend word om vir die Afrikanersaak te werk. Dit moet van 'n reserweposisie tot 'n benuttingsposisie omgeskep word.

Daarom is my oproep dat die Afrikaner nou moet oorgaan tot die tweede fase in sy ekonomiese aksie, dat hy so gou moontlik organiseer om sy kapitaalkragte saam te snoer vir die vestiging van nuwe groot Afrikaner-ondernemings in elke sektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie; dat hy so gou moontlik organiseer om sy arbeidsmag aan te wend in rigting en op terreine wat sy aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie nog vinniger sal laat groei.

Dr CGW Schumann het met die eerste Reddingsdaadbondpoging gesê:  "             'n Volk, of volksgroep, kan nie opgehef word deur 'n enkele reddingsdaad nie. Ons sal moet bereid wees om vir baie jare hard te werk, op te offer en te ontbeer... maar daardie ontbering... moet 'n vrywillige offerande wees wat as besieling het die vaste geloof in eie waardiger volksbestaan."

Dit geld vandag nog, hoewel opoffering en ontbering waarskynlik ten dele vervang is deur te waag. Ons, die Afirkaners, moet die risiko loop om ons kapitaal wat vir sekuriteit in die trommeltjie gebêre word, aan te wend vir die vestiging van nuwe ondernemings; en ons, die Afrikaners, moet die risiko loop om ons arbeid wat vir sekuriteit in die een of ander verskanste organisasies soos die Staatsdiens aangewend word, beskikbaar te stel vir die bestuurskunde en bedryfsvernuf wat daardie nuwe ondernemings gaan vereis.

Die tyd is nou ryp vir hierdie tweede fase deur die Afrikaner vir die Afrikaner, maar vir sukses is sekere basiese vereistes nodig waarvan 'n paar die volgende is:

  • Daar moet nooit enige twyfel bestaan oor die eerbaarheid, in die wydste sin, van die Afrikaner-sakeman nie;
  • Deur studie en harde werk moet die Afrikaner steeds poog om beter toegrus te wees vir sy taak;
  • Die bestaande Afrikanersake moet so bestuur word dat dit 'n voorreg en plesier moet wees vir die Afrikaner om sy eie te ondersteun, sodat sodanige steun outomaties kom en nie afgesmeek moet word nie;
  • Die Afrikaner moet sy gesindheid teenoor sekere beroepe verander. Daar is bv heeltemal te min Afrikaners met universiteitsopleiding wat bereid is om handelsreisigers of verkoopslui te word, terwyl te veel Afrikaners daarna streef om sogenaamde statusposte te beklee en neersien op eersgenoemde soort beroep;
  • Die Afrikaner moet steeds op alle terreine sy eie bly handhaaf.