NOG 'N KLAG TEEN ANC SE LULU

HNP lê ’n klag van haatspraak teen ANC se minister

Die voorsitter van die HNP, mnr Peet Joubert, het vandag ’n klag van Crimen Injuria en haatspraak teen Lulu Xingwana, ANC-minister, gelê oor haar uitspraak dat jong Afrikaner-mans in die Calvinistiese geloof opgevoed is en daarom glo dat hulle vrouens en kinders besit en daarom hulle lewens kan neem omdat dit hulle besit is.

Die HNP het met afsku kennis geneem van dié uitlating van die ANC-minister. Hierdie is 'n direkte aanval op die lewensbeskouing en wese van die Afrikanervolk. Dit is bewys daarvan dat sy geen kennis of begrip van die Calvinisme as lewenswyse of van die Calvinistiese geloof het nie. Die Calvinisme is juis die teenoorgestelde van wat Xingwana sê, nl liefde vir die naaste en die gehoorsaming van die Christelike opdrag van leef en laat leef.

Die Calvinisme is te alle tye regverdig. Dit duld geen onreg nie. Dit erken die verskeidenheid in die Goddelike Skepping (ook die volke verskeidenheid) en gun juis daarom ander om hulleself  te kan wees. Die uitlating van Xingwana bots lynreg met die beginsels van die Calvinisme. Dit is gemik teen die blanke mans van Suid-Afrika. Dit is ongegrond, rassisties en haatdraend.

‘n Klagte van crimen injuria en haatspraak is by die Wonderboompoort polisiestasie gelê.