EEN SE DOOD MAAR ANDER SE BROOD

BERIGTE VAN AKTUELE BELANG

Hoewel die reën in die meeste streke in ons land broodnodig en welkom is, is daar gebiede wat baie skade hierdeur ly, veral waar vrugte ter sprake is. Dit is ook nie net die reën nie maar totale veranderinge in weerpatrone, soos hittegolwe in die blomtyd van avokado’s, koueskade, hael en nou die reën, wat die afgelope vier jaar besig om groot skade aan oeste aan te rig.

Boere in die Politsie-omgewing naby Tzaneen is bekommerd oor die ontsettend baie reën wat sedert die begin van die maand feitlik daagliks uitsak. Meer as 500mm reën is sedert die begin van Januarie daar gemeet, terwyl Desember reeds ‘n “nat maand” was. Die reën maak dit onmoontlik om belangrike bespuitings te doen, knou sitrusoeste en kan interne vruggehalte by avokado’s benadeel. Boonop het heelparty avokado-boorde in Oktober en November onder swaar haelbuie deurgeloop.

Mnre. Graham en Tony Lunt van die Inkwazi-vennootskap sê hulle is veronderstel om ‘n derde bespuiting op hul avokado’s te doen, maar moet wag omdat reën die spuitmiddels sal afwas. Hulle weet ook nog nie presies wat die interne skade aan avokado’s sal wees vanweë nat toestande so vroeg in die seisoen nie.

Mnr. Riaan Genis, bestuurder van die Macnoon-boerdery, sê die reën knou hul lemmetjie-oes en maak dit moeilik om in die boorde in te gaan om bespuitings te doen. “Ek het November se stinkbesie-bespuiting eers in Januarie gedoen. Ons het in Desember en Januarie reeds 1 200 mm reën gekry. Dis wat ons normaalweg in ‘n jaar kry.”

Mnre. Corné en Werner Basson, wat met lietsjies, piesangs en avokado’s boer en bloekomboomplantasies het, sê hulle is nogal bekommerd oor al die reën nou, veral omdat die gebied gewoonlik die meeste van sy reën in Februarie en Maart kry, en daar dus selfs meer reën kan kom. Tot dusver het die reën nog nie lietsjiegehalte beïnvloed of dit onmoontlik gemaak om die lietsjies te pluk nie, maar ander werk staan egter stil omdat die plaaspaaie onbegaanbaar raak met soveel reën.