HOU GELOFTEDAG IN STAND
Mediaverklaring
Herstigte Nasionale Party
Die aanbeveling deur die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens en Taalgemeenskappe dat Geloftedag afgeskaf moet word, is nog ’n aanslag teen die instellings en gebruike van die Afrikanervolk.Mediaverklaring
Herstigte Nasionale Party
Daarby beveel dié kommissie aan dat ook Tweede Kersdag en Paasmaandag as vakansiedae geskrap moet word. Alhoewel dié twee dae nie in wese Christelike dae is nie, is dit tog nog altyd aan die twee belangrikste christendae, Christus se opstanding en Christus se geboorte gekoppel.
Geloftedag is geskiedkundig die belangrikste dag vir die Afrikanervolk, maar dit is ook ’n dag wat soos ’n Sabbat aan God gewy moet word omdat op dié dag in 1838 die Afrikanervolk ’n bindende gelofte gemaak het aan die “heilige God van hemel en aarde... dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee... ons die dag en datum elke jaar dag as 'n dankdag, soos ’n Sabbat, sal deurbring...”
Met sy bewindsoorname het die ANC Geloftedag verander na Versoeningsdag. Dit was toe reeds ’n aanslag teen die Afrikaner en die christelike inslag van Geloftedag. Die ANC het misluk om Afrikaners hulle rug op die Gelofte te laat draai. Die gepoogde versoening het by die opregte Afrikaner geen inslag gevind nie en dié Afrikaners het voortgegaan om Geloftedag te herdenk. Inteendeel, die bywoning van Geloftefeeste groei jaarliks.
Die HNP sal, ongeag die besluit van die regime, voortgaan om Geloftedag te herdenk en landwyd Geloftefeeste vir die Afrikanervolk reël. Ons roep die volk op om te volhard om die Gelofte gestand te doen, en Geloftedag te herdenk soos ons voorvaders op 16 Desember 1838 in geloof beloof het om te doen.