CHINA DIE VOLGENDE IN REWOLUSIE?

BERIGTE VAN AKTUELE BELANG

Terwyl Tunisië en Egipte bontstaan midde in rewolusiehitte, en selfs Jordanië, Saudie Arabië en Jemen begin opborrel, kyk die wêreld in afwagting toe hoe ook China onstuimig begin raak met volksopstande wat die verstokte leiers slapelose nagte besorg.

Kommunistiese China is in soveel spanning oor die invloed van die opstande in Arabiese gebiede dat hulle selfs die woord 'Egipte' op hulle internet geblokkeer het. Op hierdie wyse hoop hulle om meer as 'n half miljard internetgebruikers in hulle land oningelig te laat oor die rewolusie aldaar. Ook die radio en televisie verskaf geen inligting oor die onrus in die Arabiese dele nie.

Die Chinese bevolking beleef ernstige inflasie in die algemeen en die stygende voedselpryse is besig om hulle onder te kry.

Maar die hele land is deeglik bewus van soortgelyke probleme in gebiede soos Tibet waar daar in 1959 en in aanloop na die Olimpiese Spele van 2008 toe betogings tot ten bloede in die kiem gesmoor is en is daarom maar baie versigtig.

Ondanks die feit dat daar sedert 1978  minstens 'n half miljard mense in China bo die armoedegrens uitgestyg het woon daar steeds 200 miljoen wat leef van minder as $1.25 per dag. Armoede alleen kan hierdie massas inspireer tot opstand, en daarvoor is die Chinese owerheid bitter bang, alhoewel opstandelinge weinig steun van die buitewêreld sal ontvang aangesien die Chinese ekonomiese 'voertuig' onontbeerlik vir die wêreldekonomie is. Geen land sal dit sommer waag om 'n opstand van die Chinese bevolking te steun ten koste van sy eie sak nie.

Dit wil lyk of dit in die komende maande erg warm in die wêreldpolitiek kan word...