BERIGTE VAN BELANG
Isabel Stoltz
Die Departement van Waterwese en Omgewingsake kan hom in ’n paar regsgedinge vasloop met sy nuwe dreigtaktiek teen waterverbruikers.Verskeie boere het briewe van Waterwese ontvang oor “agterstallige rekeninge”. Daarin dreig die departement om hul name op die Kredietburo se swartlys te plaas. “Dit is ’n geval van gogga maak vir baba bang. Waterwese wil geld invorder en hy weet boere se finansiering vir ’n volgende oes kan daaronder ly as hul name op die swartlys verskyn,” het adv. Jan Saunders, ’n kenner van waterregte gesê. Saunders het vroeër by Waterwese gewerk.
Hy meen die fout lê by die departement. “Waterwese se rekeninge is nie behoorlik gedoen nie. Dit word nie gespesifiseer nie en daar is dus geen manier om vas te stel of die berekeninge korrek is nie,” het Saunders gesê. Sy kommentaar volg na aanleiding van ’n lesersbrief oor probleme met foutiewe rekeninge van Waterwese waaroor hy gedreig word met ’n swartlys en ’n dagvaarding, terwyl die departement herhaaldelik oor die feite ingelig is.
Die Ouditeur-generaal (OG) het ook vroeër bevind dat R1 miljard se onreëlmatige besteding in die Departement van Waterwese en Omgewingsake en plaasgevind het.
Luidens ‘n verklaring het dié onreëlmatighede plaasgevind met die verlenging van kontrakte, afwyking van toekenningsbeleid en die betaling van diensverskaffers met wie geen kontrakte aangegaan is nie.
Volgens die verklaring het die OG aanbeveel dat daadwerklike optrede spoedig moet volg, en dat dit nie net ten opsigte van dít wat ondersoek is, moet plaasvind nie.
Direkteur-generaal geskors
Dié onreëlmatighede het gebeur terwyl Pam Yako die direkteur-generaal van die departement was. Yako is op 21 Julie 2009 geskors, hangende die ondersoek, maar het die afgelope jaar steeds haar volle salaris verdien.
Buyelwa Sonjica, ANC-Minister van Waterwese en Omgewingsake, het in April gesê dat die ondersoek tot op daardie tydstip die belastingbetaler reeds R950 000 gekos het. Die ondersoek deur PriceWaterhouseCoopers sou op die ou end veel meer kos.
Ook net 7,4% van Suid-Afrika se rioolwerke voldoen glo aan standaarde. Die vooraf-opsomming van die Departement van Waterwese en Omgewingsake se Groen Druppel-verslag dui aan dat slegs 7,4% van die land se rioolwerke ten volle aan standaarde voldoen. Aangesien net sowat 53% van munisipaliteite se rioolwerke vir die verslag getoets is, is dié syfer slegs 3,8%.