BRIEF AAN ZUMA

Mediaverklaring
Ope brief aan die President van Suid-Afrika
7 April 2014
Die President van die Republiek van Suid-Afrika
Uniegebou
Pretoria
E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Aan die President,
Vernietiging en verwaarlosing van die Afrikaner se erfenis
Volgens herhaalde mediaberigte word bewaarplekke soos staatsmuseums verwaarloos en word artikels daaruit verwyder of selfs gesteel. Dit strek die land nie tot eer nie.
• Bewerings oor verwaarlosing in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg en die
Paul Krugerhuis in Pretoria verskyn van tyd tot tyd in die media.
• Verlede jaar is daar berig dat historiese dokumente en selfs 'n ou Statebybel op 'n ashoop naby Pretoria opgetel is.
• 'n Onlangse berig het gelui dat die horlosie van genl. De Wet uit die oorlogsmuseum
in Bloemfontein verwyder of gesteel is.
Die bostaande drie voorbeelde is voldoende om die omvang van erfenisverwaarlosing aan te dui.
Die Volkseie Museumraad vestig u aandag daarop dat die Staat onderneem het om erfenisbewaring op 'n hoë vlak van diens te handhaaf. Dit blyk egter dat die Afrikanervolk se erfenis verwaarloos, vernietig en selfs gesteel word. Dit is onaanvaarbaar.
Indien u regering nie daartoe in staat is of belangstel om óns volk se kultuurerfenis op te pas nie, dring die Volkseie Museumraad daarop aan dat ons volkserfenis aan ons teruggegee word sodat ons dit self kan bewaar.
Ons het waardering vir u regering se strewe en pogings om die kultuurerfenis van ú volksgenote te bevorder en te bewaar. Dit kan egter nie geskied ten koste van ander kulture nie. Ons het immers dieselfde strewe om ons Afrikanererfenis te bewaar.
Ons versoek dat u hierdie aangeleentheid in 'n ernstige lig sal beskou en die betrokke departemente wat gemoeid is met erfenisbewaring sal aanspoor om 'n duidelike beleid en voorneme tot erfenisbewaring te openbaar en uit te voer.
 Prof. H. Van der Wateren
Voorsitter: Volkseie Museumraad