KOM KAMP SAAM!

CAROLINA CVO REIK UIT MET AVONTUURKAMP

Die einde van die winter is amper in sig en DV die 8ste tot die 12de Oktober hou Carolina CVO weer 'n Oorlewings/Avontuurkamp.  Die skool wil dan graag ook kinders van ander skole uitnooi om te deel in die besonderse geleentheid.  Met die kamp maak ons kinders weer bewus van hul kultuur en  erfenis.  Daar word ook gefokus op leierskapvaardighede.  Die kamp het 'n sterk evangeliese inslag wat soos 'n goue draad deur die program loop.  Tydens die kamp sal daar ook verskeie sprekers optree wat kinders teen die spesifieke gevare van ons dag sal bewapen.  Sondag is daar ook 'n erediens in die historiese kerkie op die terrein.  Die volledige program met besonderhede oor aktiwiteite en besprekingpunte is beskikbaar.

Soos gewoonlik is die program propvol met aktiwiteite waaronder 'n rit met perde oor die berge,  verfbal kompetisie, veldkuns, hindernisbaan, skilpadtrek, kattrek, parade, konsert,  'n uitstappie na Loopfontein se grotte,  boogskiet, skyfskiet en vele ander groepsaktiwiteite.  Natuurlik leer almal die basiese beginsels van oorlewing, wateropsporing, navigasie en al die lekker dinge van vuurmaak tot kosmaak.  Elke oomblik van die dag is volgelaai met aangename maar ook leersame aktiwiteite.  Dit is dan ook ons doel om in alle aktiwiteite die geestelike lesse uit te bring en heen te wys na die volheidslewe in Christus Jesus as enigste Saligmaker en Verlosser.

Daar is verskeie pryse te wen soos oa. 'n jag geleentheid, kontantprys vir 'n meisie, kammofleer-rugsak, flitse, Bear-mes, geestelike boeke en DVDs.

Die kampterrein is geleĆ« in die pragtige natuurskoon van Elandshoogte wat uitkyk oor die kranse en klowe van die Elandsvallei.  Daar is ses slaapsale met beddens en kampmatrasse vir almal.  Alhoewel daar geen elektrisiteit is nie,  is daar gelukkig warm water uit die ou donkie vir die storte.  Ongelukkig is daar net plek vir 80 kinders en moet ouers nou reeds bespreek om teleurstelling te voorkom.  Belangstellendes kan gerus die program en aansoekvorms aanvra by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of by die skool self afhaal.