Hierdie briefie verteenwoordig 'n aantal briewe wat ons van tyd tot tyd ontvang. Ons plaas dit omdat dit vir ander lesers iets kan beteken.
Aan die mense van Gelofteland,
So twee weke gelede nadat al die slegte dinge in Suid-Afrika gebeur het (die moorde, rooftogte en verkragtings onder die vaandel van vreemdelinghaat) het ek in 'n donker put geval en gewonder wat wag daar vir my kosbare babaseuntjies in hierdie land. Ek het alle hoop verloor en ek en my man het daaroor gepraat om dalk na Australië te verhuis.
Ek het so baie gebid en gehuil want ek wil nie my land verlaat nie - ek is trots-Afrikaans, lief vir my God, dankbaar oor wie ek is, trots op my geskiedenis, herkoms en my volk.
Terwyl ek 'google' het ek op julle webwerf afgekom! Dankie dat julle weer 'n vonkie hoop in my hart geplaas het. Ek het toe net weer besef ek is 'n Godsvresende vrou, 'n boer, 'n kind van God, en ons is nie bang nie en sal veg vir die Here. Ons vir jou Suid Afrika!
Ons moet julle boodskappe by baie mense uitkry want ek dink baie mense het hoop verloor. Ons volk kan berge versit; ons kan trots wees op wie ons is. Ons is so verdruk en so sleggesê as 'n volk dat ons nie eers meer in onsself kan glo as Boervolk nie. Maar julle leesstof bring weer nuwe hoop vir ons volk.
Kan ons nie êrens bymekaar kom vir 'n biddag wat nie politiek gedrewe is nie maar as Afrikanervolk wat bid, glo en vertrou?
Ek wil iets beteken vir ons volk en ek glo daar is baie vrouens wat soos ek voel. Wat kan ek doen?
Dankie julle weet nie wat hierdie boodskappe vir ons as Kappgesin beteken nie, ons boer in die Vrystaat en tye is baie moeilik vir ons; finansiëel, geestelik en lewensgevaarlik ook. Maar met die bietjie hoop het ons weer gesien dat ons as boere sal oorwin in JESUS se naam en dat sy laer om ons getrek is, maak nie saak wat vorentoe gebeur nie. Uit die diepte van my hart sê ek dankie dat ek net weer kon sien watter koningskinders ons waarlik is.
Matt 6: 8 Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
Ons Vader in die Hemel is so 'n wonderlike God en ons moet elke dag onthou hoe Hy ons lief het. Soms fokus ons meer op die wêreld se skatte as ons Vader se skatte vir ons.
God weet waarlik wat is goed vir ons en ons moet sy beloftes elke dag opsê, want deur dit te doen sal ons niks vrees nie. Jesus is in ons harte en Hy gee als nog voordat ons vra! Hoe wonderlik.
Mag almal 'n geseënde week beleef vol Jesus se liefde.
Vriendelike groete
Die Kappgesin