DIE KLIPPE ROEP LANK REEDS UIT!

OPE BRIEF AAN ALLE OWERHEDE EN GESAGSLIGGAME

Ds Faan Visser

Tydens die sogenaamde apartheidsjare is van Kerke en geestelike leiers verwag om hulle teen apartheid uit te spreek en dit selfs aktief te beveg en tot ʼn einde te bring. Baie het dan ook daaraan meegedoen. Dit kan dan sekerlik ook van Kerke en geestelike leiers verwag word om hulle teen enige ander politieke stelsel wat menseregte misken en waar menseregte inderdaad geskend word, uit te spreek en mee te werk ten einde hierdie vergrype te beëindig.

Ongelukkig is dit so dat op die oog af daar geen begeerte by die oorgrote meerderheid Kerke en geestelike leiers is om konsekwent te wees in hulle beoordeling van onreg nie, waarskynlik uit vrees vir viktimisasie en ter wille van sogenaamde politieke korrektheid. Integriteit gaan ongelukkig in die proses verlore. Is dit omdat die “verkeerde” bevolkingsgroep in die visier is?

In die Bybel staan in Lukas 19:40 die volgende – “Maar Hy antwoord: Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep." Alhoewel Jesus hierdie opmerking binne ʼn ander konteks as die huidige waarin ons verkeer, gemaak het, kan ek dit sekerlik ook van toepassing maak op omstandighede vandag waar mense onreg aangedoen word, maar van almal verwag word om eerder stil te bly. As die meerderheid Kerke en geestelike leiers dan stilbly of slegs saggies fluister, is ek wat dan ook as geestelike leier gedefinieer kan word, by die punt waar ek sê: as ek langer stilbly, sal die klippe dit uitroep!

Die land brand. Selfs aan Universiteite word voertuie en buitebande aan die brand gesteek, toerusting word vernietig, waardevolle items soos kosbare skilderye word verbrand, kafeterias word wetteloos geplunder, medestudente word aangerand, en so kan ʼn baie lang lys van kriminele en ander onbeskaafde aktiwiteite saamgestel word.

Dit alles onder die dekmantel van ongelukkigheid by ʼn sekere bevolkingsgroep omdat Afrikaans, as een van die amptelike tale wat deur die land se grondwet erken en beskerm word, steeds op enkele kampusse as onderrigtaal erken en gebruik word. Altans, dit is wat as redes vir die anargie aangegee word – redes wat sterk betwyfel word as die Freedom Charter se resep vir rewolusie in ag geneem word.

Ouers van kinders uit minderheidsgroepe wat studeer, leef in vrees vir die veiligheid van hul kinders. Dit hoort nie so nie en is ʼn onaanvaarbare situasie. As ouer van ʼn dogter op Universiteit, sê ek dit sonder skroom – as geweld uitbreek waar sy in vrede studeer en haar veiligheid op enige wyse in gedrang gebring mag word, sal ek haar met alles wat ek het, beskerm en verdedig. Ek glo dat God wat haar as my kind gegee het, dit van my sou verwag. Eerder my bloed en lewe as my onskuldige dogter s’n aan die hand van misdadigers voorgedoen as studente.

Twee onlangse gevalle waar studente, in beide gevalle dames, sonder enige moedswillige skadelike bybedoelings hul gesigte onderskeidelik swart en in die ander geval pers geverf het as deel van studentepret, kom in herinnering. In beide gevalle het Universiteitsowerhede dadelik en drasties teen die studente opgetree.

In die eerste geval is die twee dames geskors en kon eers na bemiddeling hul studies hervat. In die laaste geval is die dames wat hul gesigte pers geverf het na bewering sonder behoorlike ondersoek uit hul koshuis geskors. Eers na ʼn grondige ondersoek is die skorsing opgehef. Groot gewag is gemaak van die beweerde sielkundige en emosionele skade wat blykbaar weens die swart en pers gesigte deur studente van ʼn sekere bevolkingsgroep ervaar is. Min is egter gemaak van die sielkundige en emosionele trauma wat vier dames ondergaan het weens drastiese tugstappe en wie se studies daardeur in die weegskaal geplaas is. Kan die beweerde emosionele skade wat swart en pers gesigte by sommiges veroorsaak het, werklik opgeweeg word teen die skade by jongmense wie se studies in gedrang was en waarskynlik steeds geviktimiseer word?

Daarteenoor dra sommige swart studente openlik op kampus/se t-hemde met die slagspreuk “f…k white people” sonder dat daar klaarblyklik met dieselfde haas en doelgerigtheid teen hulle opgetree word of opgetree is. Eweneens is dieselfde slagspreuk teen mure op kampus/se geverf en dit het lank genoeg daar gebly sodat foto’s daarvan oral op sosiale media opgeduik het. Dit is ook so dat daar by navraag deur Universiteitsbesture verklaar is dat hierdie slagspreuke as “vryheid van spraak” gesien word! Jy mag ander vloek en haatspraak op jou t-hemp propageer, maar jy mag nie jou gesig swart of pers verf nie!

Vergelyk die gebeure rondom die swart en pers gesigte van blanke studente met die slagspreuke wat ek hierbo na verwys, en die ongelykheid in hantering daarvan staan soos ʼn seer vinger uit. Dit is totaal onaanvaarbaar.

Vanaand, 23 Februarie 2016 se nuusberigte pak op onaanvaarbare wyse eensydig die skuld vir rassegeweld met kampusonluste en as voorbeeld die ontwrigting van ʼn rugbywedstryd gisteraand, op blanke studente. Videos wat op internet beskikbaar is, wys egter duidelik op die teendeel. Met sulke onakkurate en klaarblyklik doelbewuste verdraaide nuusberigte dra nuusagentskappe by tot die spanning en steeds toenemende frustrasie by blankes.

Nogeens as voorbeeld verwys ek na die ontwrigting van ʼn rugbywedstryd op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Betogers het op die veld gestorm en die wedstryd tot stilstand gebring. Die ontwrigting het ʼn lang tyd geduur. Die eerste oortreding was die van die betogers. Sulke gedrag vra optrede en is tekenend van ʼn aksie wat uittartend is en wat tog sekerlik moet besef dat sulke gedrag reaksie gaan ontlok. Dit het toe ook so gebeur.

Ironies dat in verskeie nuusberigte wat ek oor die aangeleentheid gevolg het, nie na die gedrag en uitlokkende optrede van die betogers verwys word en dit as onaanvaarbaar afgekeur word nie. Inteendeel, die toeskouers word in sterk taal aangeval omdat hulle die betogers se regte deur hulle ingrype vertrap het!

Daarteenoor word in die sterkste denkbare taal na die toeskouers wat op die veld gestorm het, verwys en daadwerklike tugstappe en optrede word teen hulle beplan.

(Nou word die rugbyspan van Kovsies deur swart Ikey-studente gedreig met optrede tydens die wedstryd op 29 Februarie. Die Kovsies sal “met ope arms verwelkom word”, word gedreig. En nêrens word die veiligheid van die Kovsies gewaarborg of die wedstryd afgelas nie. — Ons toevoeging: Redaksie)

Dit is in skrille kontras met verklarings rakende die dames wat hul gesigte swart en pers geverf het. Toe is gesê dat die meisies moes kon voorsien dat hulle gedrag reaksie sou ontlok. Dieselfde geld egter nie die gedrag van die betogers nie. Volgens die stilswye word die afleiding gemaak dat owerhede waarskynlik reken die betogers nie kon voorsien dat hulle onbeskaafde gedrag reaksie sou of kon ontlok nie.

Sulke blatante teenstrydighede wek gevoelens van toenemende frustrasie by Blankes wat voortdurend as die sondebokke aangewys en veroordeel word. Ek maan owerhede dat hulle tot verantwoordelike inkeer moet kom en in die eerste plek onbeskaafde optrede wat teenreaksie ontlok, moet aanspreek en drasties daarteen moet optree. Dit is na alles die katalisator wat geweld tot gevolg het.

Ek doen ook  ʼn dringende beroep op nuusagentskappe om dit waarop hulle roem, naamlik ewewigtige nuusdekking, na te volg, want tans ondermyn hul op skandelike wyse hulle eie onderneming.

Moord en aanranding vorm deel van ons bestaan. Tog is dit ʼn feit dat in die besonder boere in Suid-Afrika deur misdadigers, moordenaars en terroriste geteiken word. Skokkende verhale van aanvalle op boere en hul gesinne wat nie anders as barbaars beskryf kan word nie, word daagliks vertel. Die slagoffers word op die mees grusame en brutale wyse denkbaar gemartel en vermoor. In baie gevalle is daar nie ʼn enkele item gesteel nie wat die vraag laat ontstaan of die aanvalle en brutaliteit daarvan enigsins met gewone misdaad verband hou. Objektief beoordeel, beslis nie.

As ʼn enkele voorbeeld is ʼn driejarige dogtertjie na bewering eers gedwing om toe te kyk hoe haar pa gemartel en toe vermoor is, waarna sy aan haar haartjies opgetel en in die lug gehou is en toe doodgeskiet is. Verhale soos dié kom onrusbarend en onaanvaarbaar gereeld voor.

Ten spyte van die wreedheid en frekwensie van moorde op boere, bly die regering steeds in gebreke om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar. Die vraag kan met reg gevra word: waarom?

Boonop ontstaan ʼn tendens dat boere wat daadwerklik optree en hulp verleen tydens plaasaanvalle deur byvoorbeeld die misdadigers vas te trek, eerder as die skurke uitgebeeld word en ook so hanteer word, as die werklike misdadigers self.

Instansies wat plaasaanvalle afmaak as gewone misdaad, doen niemand ʼn guns nie. Op die minste verbloem dit op onverantwoordelike wyse die waarheid van wat werklik aan die gang is.

Ek doen hiermee ʼn ernstige, ʼn baie ernstige beroep op alle owerhede en gesagsliggame, in die besonder die landsregering om die toestand in die land te sien en te hanteer vir wat dit is: bandelose, wettelose, barbaarse en uittartende optrede deur misdadigers wat onder verskeie dekmantels opereer en openlik verklaar dat alle Blankes uitgewis sal word. Dit, en nie die reaktiewe optrede van mense wat hulself, hul regte, hul eiendom en hul lewens wil beskerm nie, is die groot vlieg in die salf. Die gebrek aan geloofwaardige en daadwerklike optrede teen die aanvanklike misdade en aanhitsers tot haatspraak en geweld teen Blankes, skep die onaanvaarbare indruk dat die “jagseisoen” op Blankes amptelik en oënskynlik goedkeurend “oop” verklaar is. Die enkele voorbeelde dusver in hierdie verklaring uitgewys, spreek vanself. Die vraag is of owerhede die moed of die begeerte het om die werklikheid te erken en aan te spreek.

Die gevolg van al die faktore wat ek uitgewys het en soveel meer, is dat dit ʼn gevaarlike, maar verstaanbare emosie van “genoeg is genoeg” by waarskynlik die grootste deel van die blanke bevolking na vore bring, asook die gevoel dat blanke regte en lewens nie genoegsaam deur owerhede beveilig en beskerm word nie. Die owerhede moet besef hulle inkonsekwente optrede kan en sal waarskynlik daartoe lei dat Blankes uit frustrasie reg in eie hande neem – reg of verkeerd.

Ek doen daarom ʼn dringende beroep op die regering en alle gesagsliggame om alle landsburgers as gelykes te behandel wat betref die hantering van situasies wat ontstaan – van swart en ook wit geverfde gesigte (wat straffeloos toegelaat word), tot geweldsmisdaad en plaasaanvalle. Tans skiet die owerhede gruwelooslik tekort wat dit betref.

Verskeie onverantwoordelike uitsprake soos dié van mnr. Zuma ten opsigte van byvoorbeeld grondhervorming dra baie by tot polarisasie en waarskynlike gevolglike toename in aanvalle op landsburgers wat grond wettig besit. Dit as sulks skep by Blankes ʼn gevoel van magteloosheid en opstandigheid wat uiteindelik kan oorkook omdat hulle as “gronddiewe” geëtiketteer word, en dit nogal na aanleiding van onverantwoordelike en onware uitsprake van die president van die land!  Andersyds kan ander dit as ʼn groen lig beskou om (sogenaamd) “hulle” grond deur geweld en misdaad wat moord insluit, “terug te vat”. Die president is nie juis bekend daarvoor dat hy verantwoordelik dink, praat en optree nie. Optrede soos hierdie bevestig daardie vermoede.

As predikant en geestelike leier per definisie, beskou ek dit as my plig en verantwoordelikheid om die owerhede op te roep en in sterk taal te vermaan om hulle pligte in gelyke mate na te kom ter beskerming van alle bevolkingsgroepe en nie ʼn klimaat te skep en toe te laat waar Blankes basies gedwing word om reg in eie hande te wil neem ten einde wat vir hulle kosbaar is, te beskerm en op te staan vir hul eie belange.

Ek sê wat ek sê, anders gaan die klippe dit teenoor my uitroep. Ek praat in my privaat hoedanigheid as landsburger en nie namens enige kerklike instansie nie.

S Visser

(Skuus maar hoe vra mens aan 'n regime waarvan die president gereeld in die openbaar sing "whe are going to kill all the whites" om aan sy onderdane opdrag te gee om die witmense te spaar?!...red)