Media-akkuraatheid
12 April 2018
Aan: Die Bestuur van Afrikaanse Programme, SABC
Afskrif: RSG-Nuuskantoor.
Geagte Bestuur,
Oor die afgelope dae het u daagliks omstandig berig oor die afsterwe van mev Winnie Mandela, die gewese gade van Nelson Mandela. Ons het die volgende waargeneem:
1. Skielik is Winnie Mandela nou Madikizela Mandela. “Winnie” word weggelaat.
2. Sy word deurgaans voorgehou as heilige, as ’n held of vleklose ikoon van die stryd teen Apartheid.
3. Oor haar misdade waaroor sy in die hof skuldig bevind is word bitter weinig gerapporteer, laat staan nog oor haar betrokkenheid by MK, Chris Hani en Julius Malema se EFF.
4. Die redes waarom Nelson Mandela haar eenkant toe geskuif het word ook nie vermeld nie. Haar ondersteuning van die skandalige, brutale halssnoermoorde word deur u liefs verswyg. Oor Stompie Moeketsi Sepei word niks gesê nie.
5. Op Woensdag, 11 April 2018 lui u nuusbulletin: ”Suid-Afrika neem vandag afskeid van Madikizela Mandela…” ens.
Ons wil dit graag onder u aandag bring dat hierdie beeld wat u van Winnie Mandela skilder werklikheidsvreemd is. Dit kom neer op ’n onbillike aanbieding wat die duisende slagoffers van swart-op-swart geweld (gepleeg deur MK- en ANC-kaders) te na kom en hul opgeofferde lewens minag. Die hele Suid-Afrika was ook nie by die Orlando Stadium om van haar afskeid te neem nie; soos wat u in u nuusberigte te kenne gegee het nie. Trouens in die sosiale media en uit die dagblaaie sou u kon agterkom dat daar ’n wye skeptisisme jeens “Madikizela” se loopbaan bestaan.
Lees gerus in dié verband die verslag van Mondli Makhanya in Rapport Weekliks, 8 April 2018 (Bladsy 8: Anderkant van ikoon). Dit is verstommend dat u sodanige kommentaar deur ’n swart skrywer in u nuusberigte oor Winnie Mandela verswyg.
Daar is natuurlik geen manier waarop ons u deelname aan staatspropaganda kan verhoed of omkeer nie. Dit is u eie besluit; of dit is inderdaad u opdrag om op daardie pad te loop. Dit is wel vir ons belangrik dat u sal kennis neem dat die publiek nie daarmee genoeë neem nie. Dit sal ook waardeer word as u in die toekoms u berigte oor sulke aangeleenthede kan balanseer met billike kommentaar en met ’n meer akkurate weergawe van hoe “Suid-Afrika” werklik oor sulke sake dink en voel.
Die swart-op-swart geweld in die dekades van 1980-1990’s is alombekend en baie goed gedokumenteer. U kan gerus van die relevante publikasies van die SA Instituut vir Rasseverhoudings daaroor raadpleeg; in die besonder ’n artikel deur John Kane-Berman in Politicsweb, gedateer 17 Augustus 2017 waarin die doelstellings van die moorde en sluipmoorde uiteengesit word. Berman skryf: “The purpose was to make the country ungovernable, to rule black townships by terror, and to eliminate black po-litical rivals.”
Behalwe die SAIRR se navorsing is daar talle publikasies wat materiaal bevat oor die wrede halssnoermoorde en die strategie van terreur waarvan dit ’n integrale deel was. Winnie Mandela het haar ondersteuners met groot drif aangespoor om die petrol-, motorbande- en brandmetode te gebruik om van individue ontslae te raak. Daardeur is duisende swartmense aan dié onmenslike geweld en trauma uitgelewer.
Dit is vir ons vreemd dat u verkies om hierdie aspekte van die “stryd teen Apartheid” nou dawerend te verswyg. U aanbieding van die nuus pas in hierdie geval nie by ’n professionele nuusdiens of ’n openbare uitsaaidiens nie.
Met agting,
MEINHARD PETERS
Nms Media-Akkuraatheid