NUWEJAARS- WENSE 2020

Ons span hier by Gelofteland wens elkeen van ons lesers 'n veilige, Godsbeskermde en vreugdevolle 2020 toe. Ons boodskap aan u is dat u God se verbond nie moet vergeet in hierdie jaar nie, dan sal Hy ons nie onbeskermd laat in 'n land waar daar tans baie woelinge en misdaad is nie. Ons vyande is besig om die Afrikaner in hierdie land te probeer vernietig en die aanslae sal vinnig verskerp. Onsself is nie in staat om hierteen die hoof te bied nie maar ons Skepper en Redder sal op sy eie tyd 'n wonderwerk verrig om hierdie saak te verander. Intussen moet u doen wat u weet u christelike plig is want daarsonder durf u nie staat maak op die genade en wonderwerke wat ons Vader aan ons wil gee nie. Ons mag ook nie mismoedig word oor al die onregte huidiglik teen ons nie en moet ons, ons oë omhoog rig in fokus met Hom. As daar een ding is wat vasstaan, is dit dat die God van Israel, en ook van die Afrikanervolk en al sy kinders oral in die wêreld, geen behae daarin het om ons te sien ly nie.

Niks wat voorheen gebeur het en ook vorentoe sal gebeur is sonder ons Vader se wete nie; Hy bly in beheer van alles in ons lewens en Hy laat selfs sekere slegte dinge toe wat selfs baie pynlik vir ons is, dinge wat ons weer dwing om ons oë op Hom te vestig, en die afgelope jare reeds verandering in ons volk teweeg gebring het. Nou is die tyd naby dat daar groot dinge in Suid-Afrika sal gebeur en is die nuwe jaar 2020 dalk die jaar waarin die Afrikanervolk deur die laaste smeltkroes sal gaan voordat hy weer gereinig sal wees van al die afdwalinge waarna hy deur die genade van Bo weer in hierdie mooi land herstel sal word.

Laat ons dan in hierdie nuwe jaar opstaan uit hierdie strafgerig oor ons, ons verbond met Hom herbevestig, en aan Hom toon dat ons bereid is om met ons hele hart 'n volk vir Hom te wees want as ons harte reg ingestel is, sal ons hele saak, insluitende ons volkskap en die herstel van ons pragtige land, reggestel word.  Moet asseblief nie dat iemand u wysmaak dat die huidige toestand in hierdie godgegewe land onomkeerbaar is nie – dit strek aan ongeloof by Hom. By God is NIKS onmoontlik nie; Hy sál op die regte tyd ons van hierdie juk verlos en ons weer as volk in ons eie land herstel.

Mag 2020 die jaar wees waarin elke volksgenoot sy hele hart aan God oorgee, en met oortuiging, moed en volkome geloof die pad met Hom stap sodat ons gereed sal wees wanneer Hy hierdie land mooi land kom reinig, ons verlos, vergewe, en self kom regeer!