BEDROG EN VERRAAD (2)

DIE WARE INLIGTINGSKANDAAL

Eschel Rhoodie

Lees reeks by Bedrog en verraad - Inligtingskandaal

In 'n poging om my agter tralies te sit en sodoende my mond te snoer het iemand selfs die verloop van regspleging in die hof probeer verydel. 'n Kriminele oortreding. Iemand in magsposisie was so desperaat om my vir 12 jaar in die tronk te sien dat belangrike dokumentêre getuienis in die lêers van die Erasmus-kommissie opsetlik van die Prokureur-generaal weerhou is.

In die Appelhof in Bloemfontein en in antwoord op 'n sleutelvraag van die voorsittende Regter, is die Prokureur-generaal, 'n eerbare man, onwetend gedwing om 'n blatante onwaarheid te vertel. Indien al die beskikbare dokumentêre getuienis aan die Prokureur-generaal gestuur was, sou daar miskien nooit 'n hofsaak teen my gewees het nie. Dit sou nie nodig gewees het vir Frankryk en Suid-Afrika om 'n sogenaamde ekstradiksie ooreenkoms te kook ten einde my na Suid-Afrika te kon terugstuur nie. In 'n uiterste geval van siniese verontagsaming van internasionale konvensies is ek aan Suid-Afrika in terme van 'n Frans-Britse ooreenkoms van 1896 uitgelewer!

Benewens morele en geregtelike oorwegings, is die regering se standpunt, soos deur RF Botha gestel, dat ons R60 miljoen van die belastingbetaler verkwis het, een van die meer dringende redes waarom elke belastingbetaler hierdie boek moet lees. Indien soveel miljoene van u geld regtig 'verkwis' is, het u die reg om te vra wie hierdie besteding goedgekeur het. Dr Mulder kon sekerlik nie vyf jaar lank alleen die besteding van soveel fondse, waarvoor mnr Botha wettiglik teenoor die Parlement aanspreeklik is, goedgekeur het nie? Indien nie mnr Botha of dr Mulder nie, wie anders?

U het die reg om verskeie ander pertinente vrae te stel en u behoort hulle ook te vra:

Een. Waar het die geld in die eerste plek vandaan gekom en hoe was dit moontlik om dit in mnr. Botha se sorg te laat — weg te steek — van die oë van die Parlement? Van die Ouditeur-generaal weg te steek, vyf jaar lank?

Twee. Wie het aan die besluitneming deelgeneem? Glo u werklik dat die besluit om R10 miljoen te spandeer in 'n poging om die koerant The Washington Star in die VSA met die hulp van mnr John McGoff te koop, en die miljoene om The Citizen te vestig, net deur een Minister en een staatsamptenaar op hul eie geneem kon word? Sonder dat iemand anders in die Kabinet, in die Tesourie, of Verdediging daarvan te hore kom?

Drie. Wie het van die "onreëlmatighede" geweet soos deur die Erasmus-Kommissie uiteengesit?

Vier. Is dit denkbaar dat koerante, tydskrifte, 'n rolprentindustrie, verenigings en inrigtings wat miljoene rande kos, en waarby bekendes vanuit die Suid-Afrikaanse sake-, akademiese en kerklike dinge betrokke is, oor 'n tydperk van ses jaar daargestel kon word sonder dat die Veiligheidspolisie, die Minister van Justisie, Militêre Inligting en ander instansies daarvan te hore sou kom?

Vyf. Kon generaals van die weermagte van ander lande na Suid-Afrika deur die Departement van Inligting met geheime fondse gebring word, sonder dat die Hoof van die Suid-Afrikaanse Verdedigingsmag, generaal Magnus Malan of sy voorganger, admiraal Hugo Bierman, hiervan geweet het? Sonder dat hul Minister, mnr. P.W. Botha, ingelig is?

Ses. Kon ek miljoene in geheime fondse in die Departement van Inligting gebruik het, sonder dat die Ouditeur-generaal dit geweet het, soos wat hy beweer?

Sewe. Kon die Departement van Inligting met behulp van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en 'n vername Afrikaanse instansie, Volkskas, miljoene rand oorsee gekanaliseer het na, onder andere, Switserse bankrekenings, sonder dat die Minister van Finansies, dr. Owen Horwood, daarvan geweet het?

Agt. Hoe kon 'n verslag deur die Ouditeur-generaal, mnr. Gerald Barrie, gemerk Hoogs Vertroulik: Slegs vir die Eerste Minister, op die lessenaar van Kitt Katzin van The Sunday Express beland het nadat mnr Barrie hoog-en-laag gesweer het dat sy afskrif altyd veilig in sy persoonlike kluis weggesluit was?

Vra uself af: Was hierdie belangrike vrae ooit in die Parlement en in die pers bevredigend beantwoord of afgehandel — behalwe om meer vrae te laat ontstaan? Byvoorbeeld: Hoe is die geld verkwis? Op watter skemas? Die Erasmus-Kommissie het op stuk van sake slegs met 'n paar projekte te doene gehad. Wat dan van al die ander 180 projekte? Op grond waarvan was die onvermelde projekte  dan "reëlmatig" en "moreel" vir ons om die guste van 'n Afrika-President te koop,  om hom te help om Parlementslede, joernaliste  en andere te koop, maar" onreëlmatig" en "immoreel" om The Citizen te stig, veral aangesien die koerant die 300 000 Engelstalige immigrante, buitelandse maatskappye en handelsverteenwoordigers in Johannesburg en omgewing sou dien?

Die lys van vrae word al hoe langer, omdat elke regeringsinstansie, elke politikus en elke koerantredakteur stuksgewys met die saak te werk gegaan het, soos dit hulle gepas het. Niemand, totdat ek hierdie boek geskryf het, kon met 'n insiggewende, samevattende geskiedenis vorendag kom nie, mmdat niemand al die kennis gehad het nie. Van die twee boeke wat voorheen oor ierdie onderwerp in Suid-Afrika gepubliseer is, is een deur 'n amptenaar geskryf wat gerieflikheidshalwe vertrek het voordat die skandaal onthul is. Die ander boek is deur twee joernaliste van die Rand Daily Mail geskryf en die beste ding wat ek daaromtrent kan sê is dat ten spyte van hul ernstige en eerlike bedoelings, net die helfte van wat hulle geskryf het, die waarheid is. Die res daarvan was op hoorsê, spekulasie, venynige skinderpraatjies, onjuiste persverslae en inligting uit die drie Erasmus-verslae gegrond. Laasgenoemde was weer op duisende bladsye ongetoetste getuienis, statistiese onjuisthede, skinderpraatjies, gissings en soveel leuens gebaseer dat dit 'n mens nog siek maak, selfs na al die jare.

As u glo dat die antwoorde op die vrae wat ek aan u gestel het te vinde sal wees in verklarings van die Eerste Minister of  lede van sy Kabinet voor die Erasmus-Kommissie, dan moet u hierdie boek as verpligte leesstof beskou.

Enigeen, regsgeleerde of leek, wat lus het om daardie duisende bladsye vol ongetoetste getuienis te lees,sal saamstem nadat hulle hierdie boek gelees het, dat die kommissie hulle ondersoek op 'n skokkende wyse gedoen het. Die bevinding dat mnr PW Botha en sy hele kabinet almal onskuldige buitestaanders was, rym eenvoudig net nie met wat werklik gebeur het nie.  . Trouens, dit rym nie eens met die mondelinge getuienis en dokumentêre bewyse wat wel voor die kommissie gelewer is nie. Daarbenewens het die kommissie vooroordele aan die dag gelê wat ernstige vrae oor sy partydigheid oproep. 'n Mens kan 'n hele doktorale verhandeling skryf oor die onjuishede in die Erasmus-Kommissie se bevindige, die yslike flaters, die wankonstruksies, hopelose redenasies en onlogiese afleidings. Die feit is dat die Kommissarisse eintlik vir hulle besondere taak ongekwalifiseerd was en daarby nog onbeholpe opgetree het. Hulle het flaters gemaak, eenvoudige prosedurefoute begaan en waar dit om die verifiëring van belangrike feite gegaan het, was hulle nalatigheid betreurenswaardig! Sleuteldokumente is geïgnoreer en sleutelgetuienis is heeltemal onverklaarbaar, nooit geroep nie.

Byvoorbeeld, ek het altyd gesê dat ander getuies, behalwe dr Mulder en ekself, kon bewys dat dr Owen Horwood nie die waarheid gepraat het toe hy getuig het hy nog nooit besprekings van die geheime projekte van Inligting bygewoon het nie. Nogtans is die twee sleutelgetuies, nooit geroep om te getuig nie. Die implikasies hiervan is verreikend om dat dr Horwood daardeur beskerm, selfs van muneed gered is. Die Kommissie se enigste verweer kan wees dat 'n groot fout begaan is, wat dan al sy ander bevindings ook onder verdenking plaas. In die VSA, Brittanje, Frankryk, Israel of enige domikrasie sou 'n spesiale, onafhanklike aanklaer al die feite bymekaar gemaak het en al die getuies vir ondervraging deur 'n hof ingebring het. Mnr Rudolph Erasmus en die twee regeringsamptenare hom bygestaan het, was egter ondersoeker, aanklaer, regter, laksman en verdediger van die staat, alles ineen.

As "reg" geskied het, soos mnr. Erasmus beweer, dan het sy kommissie op bewonderingswaardige wyse daarin geslaag om hul prestasie te verbloem. Die Kommissie het nie alleen die hele kabinet van mnr. P.W. Botha van blaam gesuiwer wat die verantwoordelikheid ten opsigte van besluitneming betref nie,  maar ook van alle indirekte kennis van sogenaamde "onreëlmatighede" in die  geheime program van Inligting. Mnr. Erasmus was blykbaar salig onbewus van die leerstelling van onregstreekse aanspreeklikheid, wat so dramaties en duidelik deur die Israelse Geregtelike Kommissie na vore gebring is wat die slagting van Palestynse vlugtelinge in Lebanon in 1982 ondersoek het. Mnr Erasmus het nie een keer aan mnr. Botha gevra of hy by die toepassing van die Wet, wat sy geheime rekening gereël het, agterlosig was nie. Daardie Wet  vereis dat die Minister hom oor alle uitgawes uit die betrokke fonds op hoogte van sake moet stel.

My kennis is dat die volgende sewe Suid-Afrikaanse Ministers in die regering van mnr. Botha òf geweet het van, en aandeel gehad het aan die besluitnemingsproses, òf in werklikheid persoonlik aan geheime operasies van die Departement van Inligting deelgeneem het: Mnr. P.W. Botha self, dr Owen Horwood, dr. Piet Koornhof, mnr. Chris Heunis, mnr. Louis Grange, mnr. R.F. Botha en Generaal Magnus Malan. Nogtans het sommige onder eed gesweer of herhaaldelik in die Parlement of in die openbaar getuig dat hulle niks van die geheime program geweet het nie, en indien hulle wel soiets geweet het, dit niks "onreëlmatigs' was nie. Die waarheid soos ek dit persoonlik waargeneem het, lyk egter heelwat anders. En die nodige om my bewering te staaf sal u in hierdie boek vind. Sommige van hierdie bewysstukke kon die Erasmus-Kommissie op erg onverklaarbare wyse nie vind nie terwyl dit ongevraagd in my hande gestop is. Waarom kon die Kommissie, met al die geheime leggers van die Departement voor hom, nie Operation Cherry se betekenis vasstel nie, of die rol wat mnr. Botha en Generaal Malan in die projek gespeel het nie?

"Waarom", kan ek ook met volle reg vra, "is mnr. Louis le Grange, wat destyds die huishoudelike geheime program van die Departement van Inligting as adjunk minister van Inligting gelei het nooit geroep om voor die Erasmus-Kommissie te getuig nie? Waarom het hy nie — soos ek —vrywilliglik aangebied om dit te doen nie?

Minstens drie lede van mnr. P.W. Botha se kabinet, mnr. Botha self, dr. Owen Horwood en dr. Piet Koornhof was lede van die binnekring van die Nasionale Party wat om selfsugtige redes besluit het om die politieke lewens van mnr. John Vorster (as Staatspresident) en dr. Connie Mulder, keel-al te sny. In hierdie boek sal ek bewys dat ook hierdie drie nie die reg het om in die Parlement te sit nie, gebaseer op dieselfde inligtingsbronne waaroor die Erasmus-Kommissie beskik het, en met die gebruik van dieselfde politieke en morele maatstawe waaraan mnr. Vorster en dr. Mulder gemeet is.

Die politici wat ek genoem het, en ander individue wat ek sal uitsonder, het almal hulle beurt gehad om hulle standpunte te stel, of onder beskerming van die Parlement of in die geheimhouding wat Regter Erasmus aan hulle beloof het. Nou is dit my beurt om te praat.

Alhoewel ek in die tronk gestop is, in handboeie en kettings deur die strate in Frankryk gesleep is, iemand wie se vrou en kinders in Suid-Afrika vervolg en lastig geval is, was blote wraaksug of haat teenoor mnr. Botha en Regter Erasmus vir my nie 'n motief om hierdie boek te skryf nie. Om so 'n boek aan te pak bloot uit wraaksug teenoor diegene wat die mag van die staat misbruik het om my te vervolg, en angs en verdriet aan my gesin besorg het, sou net nie die moeite loon nie. Dit sou beteken dat ek my hele persoonlikheid moes verander, 'n ander mens word. Haat sou my sekerlik vernietig. Schillerhet tereg gesê dat haat 'n vorm van geleidelike selfmoord is, en ek het nog te veel om te sien en te doen om halfpad deur my lewe selfmoord te pleeg. (Rhoodie se dood was toe nie selfmoord nie maar moord – deur wie?) Nee, daar is belangriker redes waarom ek hierdie boek in druk wou sien. Sekerlik nie om geldelike gewin nie, want ek het alreeds genoeg in geld — en goed — van Perskor ontvang. Na twee jaar het ek die konsep-manuskrip terugontvang, met 'n vriendelike notatjie van hulle prokureurs: "Ons sal dit nie publiseer nie, maar hou die geld". Die Afrikaner-establishment het só my stilswye tydens die kritieke periode na mnr. Botha se oorname en tot na sy eerste verkiesing gekoop. Naar, maar waar! Op daardie stadium kon ek met massiewe regskostes, en met my inkomste en bates deur die staat bevrore, nouliks Perskor se aanbod weier. Nogal 'n slim stukkie werk. Takties goed gespeel.

Die redes waarom ek nou die boek wil publiseer is ver verwyderd van geld en wraak. Ek sou dit doen al het ek nie 'n sent vir die werk ontvang the — al moes ek self daarvoor betaal. Ek ontvang geen outeursfooie uit verkope van die boek nie en ek het dit grootliks self gefinansier. Ek is niks aan enigeen vir die produksie daarvan verskuldig nie, nie teenoor enige politieke party, pressiegroep of individu nie.

Ek het reeds genoem dat sekere bevindinge van die Erasmus-Kommissie 'n belediging was vir enige intelligente persoon in Suid-Afrika, en steeds sal bly. Die nageslag verdien iets beter as 'n goedpratery van mnr. Botha en aanwending van groot hoeveelhede wit verf ten koste van u en van my. Dit is ook noodsaaklik dat die groep helde: Retief van Rooyen, Kitt Katzin, Gerald Barrie, Koos Waldeck, Anton Mostert en andere wie die pers ontdek en vereer het, met meer kritiese perspektief— sonder vlerkies of stralekranse - onder oog gebring word. Sommige van hulle het so strydig met hulle karakter gehandel dat daar deeglik na hul motiewe gekyk moet word. Was mnr. A Mostert, voormalige Regter, op die lys van die Departement van Inligting se geheime agente? Indien wel, waarom het hy 'n massa staatsgeheime en onbewese getuienis, wat niks met sy eie kommissie se ondersoek te doen gehad het nie, aan die pers vrygestel? Wou adv. Retief van Rooyen werklik Suid-Afrika van 'n regse diktatuur red, soos wat hy beweer het toe hy die geheime van dr. Mulder se departement aan sy politieke opponente verraai het? Was mnr. Gerald Barrie, Ouditeur-Generaal, regtig in die duister gelaat oor al die geheime projekte?

Daar is ook die openbare rekord wat reggestel moet word:

Mense moet weet dat die beskrywing deur die Erasmus-Kommissie generaal Hendrik van den Bergh as 'n sinistere, verkrampte mag agter die Vorster-troon, 'n verregaande onwaarheid is. Van den Bergh was meer "verlig" as sommige koerantredakteurs en politici wat hom gekruisig. Wat 'n onreg is hierdie man, wat soveel vir Suid-Afrika beteken het aangedoen! Hy is verraai, verstoot, en in die rug gesteek deur diegene wat hul politieke loopbane en aansien juis aan hom te danke het d.w.s. die helfte van die Vorster-, en 'n kwart van die P.W. Botha-kabinet.

Mense moet weet dat dr. Connie Mulder alles behalwe die onverantwoordelike Minister was soos wat hy uitgemaak is. Hy was iemand wat jare lank deur L.V.'s en amptenare bewonder is. Wie deur die Afrikaanse en Engelse koerante in die sewentiger jare opgehemel is, een van die min manne werklik lojaal teenoor mnr. Vorster was. 'n Man met insig en moed en wat nie solank gelede nie deur Afrikaans en Engelstalige koerante met die kleed van grootheid behang was. Waarom is sy karakter en prestasies so doelbewus deur mnr. Botha se oorname afgetakel?

Net soos die administrasie in 1978 verander het, het die helde en natuurlik die houding van koerantredakteurs ook verander. "Heil Vorster!" in Beeld en Die Burger het binne ses maande verander na "Vergeet van Vorster!" en "Heil Botha!".

Ek het vir meer as ses jaar sestien uur per dag gewerk om twee take te probeer behartig: Ek was in beheer van die Departement van Inligting, met kantore in 16 lande oorsee en in 22 stede en dorpe in Suid-Afrika. Terselfdertyd moes ek die regering se eerste vyf-jaar, R75 miljoen geheime-propagandaprogram na die beste van my vermoë sonder die hulp van meer as 'n paar gekwalifiseerde en ervare medewerkers —tot uitvoering bring. In die proses het ek my vrou en kinders gruwelik verwaarloos.

Sommige jare het ek nie eers die musiekplate wat my kinders die vorige Kersfees al aan my gegee het, oopgemaak nie. Om daarna amptelik, en in die openbaar, daarvan beskuldig te word dat ek al hierdie tyd spandeer het aan die verkwisting van die belastingbetaler se geld, kan ek dus nie ligtelik opneem nie.

Die feit dat die regering 'n gevaarlik ambisieuse politikus soos mnr. Pik Botha uitgekies het om hierdie aantygings openbaar te maak, het my benadeel en boonop beledig. Dit was die man wat eenmaal vingerwysend aan Generaal van den Bergh gevra het: "Waarom doen jy nie iets om van daardie bliksem ontslae te raak nie!" Die onderwerp van sy gramskap? Mnr. P.W. Botha in sy destydse hoedanigheid as Minister van Verdediging, kort na die polities rampspoedige inval in Angola.

Dr. Mulder, generaal van den Bergh en ek is deur mnr. P.W. Botha en sy regering, deur die Erasmus-Kommissie en die nuusblaaie wat glo dat die son uit Pik Botha skyn, van baie dinge beskuldig. Dit is hulle reg. Maar ek verkies dat ons werk nie deur politici beoordeel word wat besig is om hul eie spore dood te vee nie; of op grond van skewe koerantstories nie. Sekerlik nie op grond van die bevindinge van onbekwame, onbedrewe en geniepsige geheime ondervraers wat hoogs selektief met die uitkies van "onreëlmatighede" te werk gegaan het nie. Ons algehele poging, goed of sleg, moet in oënskou geneem word.

Persoonlik verkies ek dat my motiewe gemeet word aan die taak wat aan my opgedra is, die doelwitte wat ons voor oë gehad het en die aard van die propaganda-oorlog, en nie volgens die vertolking daarvan deur ander mense wat alles sou verloor deur die waarheid te erken nie. Wat hulle oor dr. Mulder en myself verkondig het, om nie eers van generaal van den Bergh te praat nie, was 'n maklik verstaanbare en maklik toepasbare onwaarheid. Dit, soos elke politikus u kan vertel, werk baie beter wanneer daar "toegesmeer" moet word as enige komplekse, onverstaanbare waarheid.

U kan in hierdie boek dus vir die eerste keer lees waarmee ons besig was en wat ons probeer bereik het. Ons het nie net gesit en knoei nie. Ons het hard gewerk vir Suid-Afrika en baie bereik wat goed was. In sy internasionale isolasie was ons program nie alleen nodig nie, soos Mnr. Vorster en mnr PW Botha in Mei 1978 in die Parlement erken het nie, dit was noodsaaklik en in die nasionale belang.

U moet mnr. Pik Botha en die Staats-trustraad daarvoor bedank dat hulle my die geleentheid gebied het om talle geheime dokumente en ander iligting in hierdie boek te publiseer, wat ek andersins nie maklik sou kon doen nie. Om op mnr. Botha se onware, skadelike en onverantwoordelike aantygings van "vermorsing" van geld te antwoord verg veel meer van my kant af as net ontkenning of 'n brief aan 'n koerant. Die Eerste Minister het mos 'n nuwe cliché vir Suid-Afrika uitgedink: skoon administrasie. Wel, laat help met die "skoonmaak" van die kas! As alles "vuil" was, moet al die "vuilgoed" uitgegooi word. Aangesien mnr. Botha 'n belangrike rat in die vorige administrasie was, behoort hy dit te verwelkom.

Vervolg...