ANC- AANSLAG OP DIE KERK

Prof AWG Raath

Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie

(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies bv ANC-SAKP-alliansie ens.)

Sedert 1986 het die African National Congress (ANC) alles in sy vermoë gedoen om die kerk in Suid-Afrika as afspringplek van en instrument vir sy revolusionêre aanslag te gebruik. Vir hierdie doel het die ANC ’n “Departement van Godsdienssake” in die lewe geroep om die aanslag teen die kerk te voer. As hoofkapelaan van hierdie departement, is ’n Anglikaanse priester met die naam Fumanekile Gquiba, jarelange lid van die ANC, aangestel.

In sy oproep aan Christene in Suid-Afrika, het Gquiba in sy Circular to the Religious Community verklaar dat ’n demoniese regering, wat nie volgens die wil van God bestaan nie, in Suid-Afrika die oorsaak is van bloed, dood en ellende. In die lig hiervan, verklaar hy: “Now is the time to act!” Hy gaan voort: “No true religion can seek partnership, collaboration or any form of engagement with such a regime.”

In alle opsigte vertoon die aanslag op die kerk die kenmerke van die revolusionêre Marxisme. Dit is besonder insiggewend om na die uitsprake van die ANC self in hierdie verband te kyk.

Die Kerk en die Kapitalisme

In ooreenstemming met die Marxistiese sosialisme, verklaar die ANC dat die kapitalisme ’n onderdrukkende sisteem is, wat vir al die ellende en onderdrukking in die wêreld verantwoordelik is. Die taak van die kerk lê, volgens die ANC, primêr in die vernietiging van die kapitalisme. In ’n onlangse uitgawe van Phakamani, amptelike mondstuk van die ANC se Departement Godsdienssake, word verwys na ’n uitspraak van Michael Lapsley. Lapsley verklaar dat die Christelike kerk baie swaar dra aan sy verantwoordelikheid vir die feit dat hy, as gevolg van sy verbintenis met die kapitalisme, nie ’n eie kritiek oor die “ontmensing” van die mensdom het nie. Volgens Lapsley spruit vele ideologiese veronderstellings van die Christelike kerk uit die kapitalistiese produksiewyse en nie uit die Evangelie  van Jesus Christus nie.

Die oogmerk van die ANC is primêr daarop gerig om die kerk te gebruik om kapitalisme te bestry, en nie om mee te werk in die verwesenliking van die  koninkryk op aard nie. Die kerk is bloot ’n instrument om die Marxistiese kommunisme te vestig.

Die Kerk en die Freedom Charter

In die geledere van die ANC en sy vennoot, die S A Kommunistiese Party (SAKP) word die Freedom Charter as grondslag van die Marxistiese revolusie aanvaar. In ’n artikel “In Our Lifetime” van Nelson Mandela in Liberation, Junie 1956, verklaar hy dat die Charter nie bloot ’n lys van eise vir demokratiese hervorming is nie. Mandela bestempel dit as ’n revolusionêre  dokument juis omdat die veranderinge wat in die vooruitsig gestel word, nie bereik kan word sonder om die bestaande ekonomiese en politieke orde in Suid-Afrika te vernietig nie. Ten einde aan die eise van die charter te voldoen, moet, volgens Mandela, die stryd van die massa op die grootste moontlike skaal georganiseer en ontwikkel word.

Volgens die ANC sluit die taak van die kerk hierby aan. In sy mondstuk Phakamani (vol II, no 1 van 1988), verklaar die ANC dat die Freedom Charter volkome in ooreenstemming met die Christelike geloof en die taak van die kerk is. Met verwysing na vader A. Nolan van die Rooms-Katolieke Kerk, word van die Freedom Charter gesê dat, aangesien die kerk geroepe is om die tekens van die tye te lees, die Freedom Charter met al sy beperkinge ernstig as een van die tekens van die tyd gesien moet word, en as een van die plekke waar ons na die profetiese stem van God moet soek.

Dit was P. Selznick wat dit in sy boek, The Organizational Weapon: A Study of the Bolshevik Strategy and Tactics, besonder duidelik gestel het dat geen organisasie - selfs nie die kerk nie - van infiltrasie deur die Kommunistiese partye uitgesluit is nie. Hiermee word gepoog om die kerk as ’n “periferale organisasie” te gebruik om die massa van die bevolking teen die bestaande regering te mobiliseer. In hierdie proses word soos “burgervryhede” en “menseregte” dikwels gehoor, ten einde die bevolking teen die regering in opstand te bring.

In die loop van sy mobiliseringsaktiwiteite, is kommunistiese partye baie versigtig om nie hulle ware antipatie jeens burgervryhede en menseregte bekend te maak nie. Selznick verduidelik dit treffend:

"It (the Party) does not favour freedom for its enemies, ultimately even for those who presently consider themselves its friends. Conspiracy is inherent in bolshevism, for the moment it attempts to mobilize support on a non-communist basis - and this is fundamental to its political strategy - it must train its agents in deception.”

Die ware oogmerke van die ANC met die Departement van godsdienssake kom egter duidelik aan die lig wanneer die kerk sentraal In die revolusionêre aanslag van die ANC/SAKP-alliansie gestel word.

Die Kerk en die Revolusie

In ’n vroeëre uitgawe van Sound Faith, Love and Endurance (vol I, no.2, 1W7) word in die redaksionele artikel verklaar dat die ontwaking van die godsdienstige gemeenskap van groot belang in Suid-Afrika is. Voorts word gesê dat die teologie tot dusver die fundamentele perspektief van "revolusionêre transformasie” ontbeer.

In ’n uitgawe van Phakamani word van die kerk gesê dat dit nie neutraal kan staan nie; die kerk moet ook ’n belangrike rol in die revolusie speel. Van die kerk word ook verwag om homself te verbind aan die noodsaaklikheid van gewapende geweld. Hierdie versoek word afgesluit met die oproep dat die Christelike revolusionêres en lede van die ANC alle Christene moet aanspoor om die stryd op die basis van die Freedom Charter te vergroot.

In ’n redaksionele artikel in die mondstuk van die ANC se Departement van Godsdienssake (vol I, no. 2, 1987) verklaar die hoof van die departement, Fumanekile Gquiba, dat die “ontwikkeling” van die godsdiensgemeenskap in Suid-Afrika die opstanding in Christus van die eeue-oue beweging van revolusionêre profete is, wat vryheid aan die gevangenes en oordeel aan die onderdrukkers verkondig.

In ’n verklaring van Oliver Tambo tydens die Liberation Movement Dialogue van die Wêreldraad van Kerke (4 tot 8 Mei 1987) het hy uitdruklik verklaar dat die perspektief op die toekoms van Suid-Afrika een is van politieke en militêre stryd wat in felheid sal toeneem. Hy het voortgegaan deur te verklaar dat die ANC sal aanhou om aan die deur van die kerk te klop en te vra vir die volle betrokkenheid van die kerk in alle aspekte van die stryd.

Die ANC en die Kerk in Suid-Afrika

Die kerk is ’n handige werktuig in die aanslag van die ANC/SAKP-alliansie aangesien "ongeveer sewentig persent" van die inwoners van Suid-Afrika Christene is en omdat die kerk ’n sterk gewetenshouvas op sy lidmate het. Deur homself as ’n Christelike organisasie voor te doen, slaag die ANC daarin om die direkte en indirekte steun van kerklike bewegings in Suid-Afrika te verkry. Wat binnelandse kerklike groepe betref, kan byvoorbeeld verwys word na die sinodesitting van die NG Kerk in Afrika in September 1984, waartydens die Regering van Suid-Afrika versoek is om die ANC as ’n politieke organisasie te erken.

In die geledere van die NG Sendingkerk, het dr A. Boesak sy solidariteit toe reeds by verskeie geleenthede met die ANC betoon. Tydens sy besoek aan Maputo van 14 tot 17 Februarie 1985 het hy verskeie kere in die openbaar saam met die ANC-figure verskyn en na die ANC verwys as “ons mense” en “ons organisasie”.

Wat die Rooms-Katolieke Kerk betref, is dit veral biskop Hurley wat nouer bande met die ANC bevorder het. Tydens ’n perskonferensie op 31 Januarie 1981 het hy verklaar dat die ANC gereken moet word as die magtigste faktor met betrekking tot swart bevryding in Suid-Afrika.

Uit samesprekings van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke met die ANC, onder meer tydens die Wêreldraad van Kerke se beraad in Harare in Desember 1985, blyk ook ’n duidelike gees van solidariteit met die ANC.

Marionette Deel van die Front

Die ANC/SAKP-alliansie, funksioneer op die grondslag van die twee-fase-revolusie. Volgens hierdie klassieke Marxistiese benadering speel die ANC-leierskap ’n belangrike rol deurdat dit die nasionale demokratiese revolusie op die basis van die Freedom Charter moet bewerkstellig. Tydens die tweede fase kom die SAKP op die voorgrond met ’n sosialistiese revolusie en die vestiging van ’n werkerstaat, synde ’n “volksdemokrasie”, op weg na die uiteindelike doelwit, naamlik ’n klaslose kommunistiese samelewing.

Met die oog op die eerste fase van die revolusie, probeer die revolusionêre alliansie om die massa van die bevolking oor ’n wye spektrum teen die bestaande regeringsinstellings te mobiliseer. Hiervoor word selfs die kerk gebruik. In Viëtnam het byvoorbeeld ’n nasionale front na vore gekom wat verskeie nie-kommuniste ingesluit het. ’n Wye verskeidenheid “demokratiese” elemente het hulleself as marionette teen die regering laat gebruik, insluitende akademici, Boeddhiste, Rooms-Katolieke en studente. Die oomblik toe die “nasionale bevryding” bewerkstellig is, het die kommunistiese leierskorps egter op die voorgrond gekom en liberale bondgenote in die front uitgeskakel.

Dalk behoort die gebeure rondom eerw Tran Huu Thanh, ’n Rooms-Katolieke priester, die ANC-bondgenote in die geledere van die kerk uit hulle naïwiteit te skok. In 1973 het hy ’n anti-regeringsbeweging in Suid-Viëtnam georganiseer in ’n poging om “hervorming” te weeg te bring. Hy was veral behulpsaam om mense in protes-kampanjes te organiseer. Deur hierdie kampanjes is die regering tot ’n val gebring en het dit tot ’n kommunistiese oorname gelei. Na die kommunistiese oorwinning is eerw Thanh en sy medewerkers gearresteer en aangehou.

Soos so dikwels in die verlede, het die revolusionêre alliansie bewys dat hy bereid is om die liberate elemente te gebruik solank as wat dit tot sy voordeel is; daarna word hulle konsekwent uit die weg geruim. ’n Mens wonder onwillekeurig hoeveel van die marionette in kerklike gewaad na ‘’n ANC/SAKP-oorname hier te lande vir die revolusionêre alliansie van nut sal wees.

Vervolg...