ANC- AANSLAG OP DIE KERK (4)

Prof AWG Raath

Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie

(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies oa ANC-SAKP-alliansie ens.)

" Van die regters wat in die Nasionale Hof dien word verwag om ’n onvoorwaardelike lojaliteit aan die ANC af te 1ê. Hierdie regters kan ook na willekeur deur die Nasionale Uitvoerende Komitee ontslaan word. By die bestudering van die bepalings van die Kode van die ANC ontvou ’n makabere prentjie wat ’n mens met afgryse vervul...dat ’n instansie tot sulke laagtes van juridiese en staatlike manipulasie kan daal, ten einde ’n goddelose magsdiktatuur in stand te hou.

STRAF- EN SIVIELE KODE VAN DIE ANC: ’N MAKABERE WERKLIKHEID

Waarskynlik een van die belangrikste berigte wat gedurende 1988 in die pers verskyn het, het feitlik ongesiens verbygegaan. In die Citizen van 16 Maart 1988 (p. 13) het ’n berig onder die volgende opskrif verskyn: “Code, ‘a form of revolutionary law’: Nurenberg-type courts for ‘apartheid criminals”. In hierdie berig van Tony Stirling word onder andere vermeld dat ’n dokument wat deur die ANC opgestel is, ’n konvensie vir voorlegging aan die Verenigde Volke-Organisasie en ’n kriminele kode bevat. Voorts word ’n uiteensetting van die inhoud van die dokument gegee en verklaar dat akademici deur die regering om kommentaar genader is en dat hulle soos volg op die dokument gereageer het (p.13):

“Among other things they said it was based on a ‘form of revolutionary law’, and had been drawn up in support of the ANC’s aims. It was designed not only to protect the ANC’s leaders, but strict adherence to the document would entitle the ANC to ‘declare almost anyone a criminal. Under the document the ANC or its organs were set up as ‘judge, jury and executioners', and it was clear that an independent judiciary would not be tolerated”.

Hierdie dramatiese beweringe in die Citizen het feitlik ongemerk verbygegaan. Vervolgens is dit nodig dat ons kortliks op die inhoud van hierdie Kode van die ANC let ten einde te bepaal tot welke mate dit ’n afwyking of ’n voortsetting van die bestaande opvattinge van die ANC/SAKP-alliansie in hierdie verband is.

Die Straf- en Siviele Kode van die ANC

Die betrokke dokument wat deur die ANC opgestel is, gee voor die Criminal and Civil Code of the People of South Africa te wees, en is gedateer 4 Junie 1985. Hierdie dokument is ooglopend nie vir algemene konsumpsie bedoel nie, omdat die inhoud getuig van die makabere wyse waarop die ANC/SAKP-alliansie bereid is om op grond van die Marxistiese samelewingsfilosofie die staat en die reg te misbruik om ’n proletariese diktatuur in Suid-Afrika tot stand te bring. Teenoor die Freedom Charter wat tot ’n groot mate ’n versoeningspoging tussen die Marxisme en die liberalisme weerspieël, is die Straf- en Siviele Kode ooglopend sosialisties met ’n duidelike Marxistiese inhoud. Vervolgens kan kortliks na enkele fasette van die ANC se staats- en regsbeskouinge, soos dit in die Kode na vore kom, gekyk word.

Die ANC en die Staat

In lyn met die klassieke Marxistiese staatsteorie is die staat vir die ANC op ekonomiese wette gegrondves. ’n Staat wat op die “reg” gebaseer is, is vir die ANC ’n blote illusie. Die Marxistiese staat waarvoor die ANC plek inruim is wesenlik ’n ekonomiese magsinstelling - ’n diktatuur. Die gevolge hiervan spreek duidelik uit die inhoud van die Kode:

(a)       Vir die ANC is dit belangrik dat alle teenstand teen sy ideologieë uitgeskakel moet word. So bepaal die Straf- en Siviele Kode dat alle teenstand teen die Freedom Charter ’n “misdryf teen die mensheid” is (vol. I, hoofstuk IV). Voorts is enige daad strafbaar wat teen die revolusionêre optrede van die ANC gerig is (vol. II, hoofstuk I, arts. 2 en 3).

Volgens die Kode bestaan die misdaad van hoogverraad nie meer in verset teen die staat nie, maar in verset teen gehoorsaamheid aan die ANC se oogmerke (vgl. vol. II, hoofstuk II). As sodanig bestaan hoogverraad uit enige verset teen die ANC, omdat hoogverraad baie vaag omskryf word (vol. II, hoofstuk II, art. 3):

“Any Act that in the eyes of the judicial authorities can be interpreted as disloyalty, faithlessness or perfidy towards the aims and objectives of the movement shall be liable to trial as treasonable offence”.

Die ANC gaan so ver dat selfs enige weerstand teen die doelstellinge van die ANC, wat die “aansien” van die beweging kan aantas, strafbaar gestel word (vol. II, hoofstuk II, art. 5). Onder meer word die volgende as misdade verbied: terrorisme (vol. II, hoofstuk III); sameswering teen die oogmerke van die ANC (vol. II, hoofstuk IV); teen-revolusionêre propaganda teen die beweging (vol. II, hoofstuk VII); “arbitrêre verlating” van die beweging (vol. Ill, hoofstuk VII); verontagsaming van enige bevel van die beweging (vol. Ill, hoofstuk III); moord van ’n lid met die doel om die ANC te verswak (vol. IV, hoofstuk I), ensomeer.

(b)       In die geval waar die ANC die bewind oorneem, sal hy alle middele en ekonomiese mag gebruik om sy doeleindes te verwesenlik. Selfs die howe word onder beheer van die ANC gestel. In die Kode word onder meer vir ’n hoogste Nasionale Hof voorsiening gemaak, wat onder beheer van die ANC staan en wat sy “revolusionêre juridiese funksies in ooreenstemming met die konstitusie en norme van die ANC, die gevestigde humanitêre tradisies en die gebruike van die Suid-Afrikaanse bevrydingsbeweging” moet uitoefen (vol. VII, hoofstuk I, art. 1).

Voorts het hierdie hof onbeperkte strafjurisdiksie, soos deur die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC bepaal (vol.

VII,      hoofstuk I, art. 3). Vanaf hierdie “hoogste” hof is daar ’n direkte appel na die NUK van die ANC (vol. VII, hoofstuk I, art. 5):

“This Court shall have original and appellate jurisdiction in all political, criminal and civil matters. Appeal lies from it to the NEC and the President of the ANC, some¬times as a right, sometimes requiring its consent and if this is refused, the consent of the NEC or the President”.

Van die regters wat in die Nasionale Hof dien word verwag om ’n onvoorwaardelike lojaliteit aan die ANC af te 1ê (vol. VII, hoofstuk I, art. 7). Hierdie regters kan ook na willekeur deur die NUK ontslaan word (vol. VII, hoofstuk I, art. 7).

Voorsiening word voorts vir die instelling van ’n Streekstribunaal gemaak. Hierdie tribunaal sal deur die Revolusionêre Raad van die ANC aangestel en in hulle poste deur die NUK bevestig word (vol. VII, hoofstuk V, art.l). Hierdie tribunaal sal bestaan uit vyf persone wat lede moet wees van die revolusionêre vleuel van die ANC - Umkhonto we Sizwe. Een lid moet kom uit die kommissariaat van die ANC, een uit die veiligheidsorgane van die ANC en drie ander lede (vol. VII, hoofstuk V, art. 2). Hierdie tribunaal staan in diens van die ANC vir sover hersiening van sy vonnisse by die NUK berus (vol. VII, hoofstuk V, art. 9).

(c)       Omdat alle burgers van die staat - volgens die ANC - gelyk is, het dit die skyn van ’n demokratiese staat, maar die party (wat vereenselwig word met die staat), is in die hande van slegs ’n paar mense, wat outoritêre bevele gee en waarvan ’n diktator die hoof is. Om lid van die ANC te wees, moet persone bewys van hulle Marxistiese oortuiginge lewer. Kort-kort word partylede weer ondersoek met die oog op hulle oortuiginge ten einde elemente wat nie ten volle vertroubaar is nie, uit die party te skop. In volume VIII, hoofstuk III en verder, word uitvoerig vir die suiwering van die beweging voorsiening gemaak. Aldus kan enige lid van die beweging wat ’n misdryf begaan wat hom/haar “onwaardig” maak vir lidmaatskap van die ANC en/of Umkhonto we Sizwe geskors word (art.l), so ’n lid kan van die eiendom van die beweging uitgesluit word (vol. IX, hoofstuk III), en selfs geskors word (vol. IX, hoofstuk VIII). Voorts word ’n spesifieke misdaad van oorlogsverraad geskep waardeur hulp aan die “vyande” van die beweging strafbaar gestel word (vol. II, hoofstuk II). Voorsiening word ook gemaak vir misdrywe waardeur oordrag van geheime van die beweging aan “die vyand”, sowel as enige propaganda om die stryd teen die ANC aan te wakker, strafbaar gestel word (vol. II, hoofstuk VII, arts. 1-3).

(d)       Die ANC duld geen opposisie teen sy opvattinge nie. In besonder wil die ANC enige verset teen sy revolusionêre oogmerke in die kiem smoor. ’n Verskeidenheid sogenaamde “misdrywe teen die revolusie” is daarop gerig om enige weerstand teen die ANC te onderdruk. So word byvoorbeeld enige optrede verbied wat gerig is teen die bepalings van die Freedom Charter (vol. II, hoofstuk I, art. 1); enige teen-revolusionêre optrede wat gerig is teen die verwesenliking van die bevrydingstryd (vol. II, hoofstuk I, art. 2), ensovoorts. Ook word ’n verskeidenheid handelinge verbied wat op “propaganda” teen die ANC neerkom (vgl. vol. Ill, hoofstuk VII, arts. 1-3).

Die ANC en die Reg

(a)       Vir die ANC is slegs die stoflike bestaan van die mens van wesenlike belang. Die ander aspekte van die mens se bestaan is bloot bykomstig. Om hierdie rede is die presiese formulering van die inhoud van misdrywe en regsvergrype vir die ANC geen prioriteit nie. Die gevolg is dat misdrywe so wyd as moontlik omskryf word en aan die howe onder ANC-beheer oorgelaat word om inhoud daaraan te gee. So word byvoorbeeld vir ’n verskeidenheid misdrywe van “persoonlike wangedrag” voorsiening gemaak wat in hoofsaak daarop gerig is om enige handeling wat die “gewoonlik aanvaarde norme” van sedelike gedrag oortree, op straf te verbied (vgl. vol. VI, hoofstuk I):

“Any person other than those who are mentally disturbed who, transgresses the usually accepted norms of moral behaviour, and thereby unlawfully or commits any forbidden act wilfully, shall have committed an act of personel misconduct, and shall be liable to punishment”.

(b)       Waar magsuitoefening vir die ANC hoofsaak is, daar is regshandhawing bloot ’n bykomstigheid. Dit blyk onder meer uit die vereistes van die regters wat die hoogste hof beman. Benewens die feit dat die regters ’n onbetwiste lojaliteit aan die ANC moet hê, word slegs vereis dat hulle “waar moontlik ’n algemene idee van regsprosedures” behoort te hê (vol. VII, hoofstuk I, art. 7):

“The Court shall be composed of a chairman and four other members who should all be of impeccable character, unquestionable loyalty to the ANC and should possess high moral qualities and a rich life experience. When possible they should have a general idea of legal procedure.

They shall hold office at the pleasure of the NEC. They shall determine among themselves who shall be chairman.” (My kursivering).

(c)       In die Kode word geen vaste vereistes gestel waaraan ’n klagstaat, in die geval van misdrywe, moet voldoen nie. Dat hier ’n groot moontlikheid vir arbitrêre regspleging is, is voor die hand liggend. Daar word byvoorbeeld slegs bepaal dat “indien die omstandighede dit toelaat” die beskuldigde aangekla word, uiteengesit sal word (vol. VIII, hoofstuk I, art. 2).

(d)       Van regsverteenwoordigers word geen formele regskwalifikasies vereis nie (vgl. vol. VIII, hoofstuk II):

“All accused persons shall be entitled to a defender who shall not necessarily be a trained lawyer and who shall be acceptable to the court”.

(e)       By die oplegging van strawwe word vereis dat die howe die norme ten aansien van die heersende omstandighede van die vryheidsbeweging in aanmerking moet neem (vol. IX, hoofstuk XV, arts. 1-2). Hiermee word die howe tot blote politieke instrumente van die Marxistiese revolusie gereduseer. Die reg word as’t ware in diens van die ANC se revolusionêre en magsbehepte opvattinge gestel. Vorme van die standaarde van regspleging wat uit hierdie stelsel voortvloei het ons prakties met die sogenaamde “peoples’ courts” beleef, toe talle landsburgers deur die “halssnoermetode” lewend in die openbaar verbrand is. Hierdie is geoorloofde regspleging “deur die volk”, volgens die ANC.

Kommentaar

(a)       By die bestudering van die bepalings van die Kode van die ANC ontvou ’n makabere prentjie wat ’n mens met afgryse vervul. Die leser word stom van verbasing gelaat dat ’n instansie tot sulke laagtes van juridiese en staatlike manipulasie kan daal, ten einde ’n goddelose magsdiktatuur in stand te hou. Wat des te meer verbasend is, is die feit dat tientalle regs- en staatsgeleerdes bereid is om “in gesprek” met die ANC te tree en al die kluitjies wat deur die ANC/SAKP-alliansie gebak word, vir soetkoek op te eet.

(b)       Uit die Kode blyk onteenseglik dat die “gematigde” beeld wat die ANC teenoor “onderhandelaars” openbaar, nie te versoen is met die ware motiewe van die beweging soos dit in die binnekringe van die organisasie gestalte kry nie.

(c)       Onteenseglik blyk uit die Kode dat daar van ’n onafhanklike regbank onder ANC-bewind geen sprake kan wees nie vir sover die organisasie in finale instansie die aanklaer sowel as die regspreker in enige strafgeding is. Voorts is misdade vaag en wyd omskryf, sodat van die strafregtelike legaliteitsvereiste bykans niks tereg kom nie. Die bepalings van dje Kode illustreer deurgaans dat die reg en regsnorme aan die outoritêre bevoegdhede van die ANC ondergeskik is. Die wyse waarop die reg en die regbank in die sogenaamde vryheidstryd - wat niks anders as die Marxistiese revolusie is nie - gebruik moet word, illustreer hierdie aspek besonder treffend.

(d)       Dit behoort selfs vir die mees oortuigde meelopers van en “onderhandelaars” met die ANC duidelik te wees dat die ANC nie die vryheidsliewende en “gematigde” organisasie is, wat so dikwels vermoed word nie.