ANC- AANSLAG OP DIE KERK (7)

Prof AWG Raath

Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie

(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies oa ANC-SAKP-alliansie ens.)

DIE FREEDOM CHARTER - GRONDSLAG VAN DIE REVOLUSIE

" Volgens die ANC moet alle besit genasionaliseer word... Hierdie uitgangspunt vind ook sy neerslag in die opvatting van die ANC dat die herverdeling van grond in Suid-Afrika nie sal geskied aan individue nie, maar dat die grond sodanig verdeel sal word dat kollektiewe plase naas staatsbeheerde plase sal bestaan."

In De Kat van 26 November 1986 skryf prof. J. van der Westhuizen oor die Freedom Charter dat dit ’n dokument is wat deur die ANC opgestel is en dat dit eerder anti-kapitalisties is as wat dit pro-sosialisties is.Hieraan voeg hy toe dat die stryd wat die ANC met hierdie dokument wil voer eerstens een vir bevryding en nie vir ’n bepaalde ekonomiese filosofie is nie. Ook verklaar hy dat die Freedom Charter as ’n basis vir onderhandeling en as ’n nuttige bron by die opstel van ’n menseregtehandves kan dien. Dit is opvallend dat Van der Westhuizen die vorm van die Freedom Charter bloot op sigwaarde beoordeel sonder om met die materiële inhoud wat die ANC en die SAKP aan die dokument gee, rekening hou. Die vraag ontstaan gevolglik of dit hoegenaamd moontlik is om die waarde van die Freedom Charter los van die lewens- en wêreldbeskoulike gronde waarop dit rus te beoordeel. By die beantwoording van hierdie vraag moet eerstens op die alliansie tussen die ANC en die SAKP gelet word. Tweedens behoort die Freedom Charter op grond van die inhoud en betekenis wat die ANC en die SAKP aan die dokument gee, beoordeel te word.

Die Alliansie van die ANC en SAKP

Sedert 1928 het ’n hegte band tussen die ANC en die SAKP ontwikkel. Hierdie selfde jaar het die Uitvoerende Komitee van die Komintern verklaar dat die SAKP besondere aandag behoort te skenk aan die opkoms van die ANC. Die SAKP moes aktief meehelp om die aktiwiteite van die ANC te bevorder. Die doel moes wees om die ANC in ’n nasionale revolusionêre organisasie te verander wat die doelstellinge van die SAKP moes bevorder.

Sedertdien het die alliansie tussen hierdie twee organisasies al hoe hegter geword. Die ineengevlegtheid van die politieke organisasie van die SAKP en die ANC is so heg dat uit hierdie geledere by geleentheid verklaar is:

“There are no significant differences of policy or strategy between us.”

Vanuit die oogpunt van die SAKP moet die ANC die rol van ’n massabeweging vervul wat alle mense ongeag geloof, ras en volksverband tot ’n enkel massabeweging saamsnoer. Die SAKP sien dan sy taak as ’n party wat leiding aan hierdie massabeweging sal verskaf. Die rol van die SAKP in die politieke organisasie van die ANC is een van die belangrikste doelwitte van die SAKP. Die SAKP stel die verband tussen hierdie twee organisasies soos volg:

“Concretely related to the CP, we maintain that it would be an act of dishonesty on our part if we failed to mention that the ANC helped a great deal to keep the CP alive. Of course this was a mutual process.”

Hierdie uitsprake moet gesien word teen die agtergrond van die kommunistiese teorie dat Derde Wêreldlande nie direk na die fase van die kommunistiese revolusie kan oorgaan nie. Eers moet hierdie lande deur die fase van “nasionale bevryding” beweeg. Gedurende hierdie fase behoort ’n breë nasionale front tot stand gebring te word onder leiding van die ANC. Die Freedom Charter is veronderstel om die grondslag van die nasionale bevrydingsfase te vorm.

Wanneer die “nasionale bevryding” bewerkstellig is neem die tweede fase van die revolusie onder die SAKP ’n aanvang. Hierna moet, onder leiding van die SAKP, ’n sogenaamde “people’s democracy”, oftewel kommunistiese staat, tot stand gebring word. Vir die SAKP speel die Freedom Charter ’n onontbeerlike rol tydens die eerste fase van die revolusie. In die program van die SAKP word dit soos volg gestel:

“The Communist Party pledges its unqualified support for the Freedom Charter. It considers that the achievement of its aims will answer the pressing and immediate needs of the people and lay the indispensible basis for the advance of our country along non-capitalist lines to a communist and socialist future. It is in this situation that the Communist Party advances its immediate proposals, before the workers and democratic people of South Africa. These are not proposals for a socialist state. They are proposals for the building of a national democratic state. The proposals are put forward within the framework of the Freedom Charter which the party considers to be suitable as a general statement of the aims of a state of national democracy.”

Die Inhoud van die Freedom Charter volgens die ANC en die SAKP

Eerstens moet daarop gelet word dat die Freedom Charter geen konstitusie is nie, maar bloot ’n stel breë riglyne waarvolgens die eerste fase van die revolusie verwesenlik moet word. Ook is die inhoud van die dokument ooglopend dubbelsinnig geformuleer deur terme soos “democratic state”, “democratic organs” en “democratic change” te gebruik. Volgens die kommunistiese siening van hierdie begrip staan “people’s democracy” vir ’n diktatuur van die proletariaat. Van “demokrasie” verklaar die ANC byvoorbeeld:

“We must develop a revolutionary perspective of democracy that is uncompromisingly hostile to narrow nationalism.”

Tweedens word die materiële inhoud en betekenis wat die ANC en die SAKP aan die Freedom Charter gee, in die lig van hulle eie interpretasie van die dokument, besonder duidelik. Hiervan kan enkele voorbeelde genoem word:

(a)       Volgens die ANC moet alle besit genasionaliseer word. Die ANC stel dit soos volg:

“An ANC government shall restore the wealth of our country, the heritage of all South Africans to the people as a whole. The mineral wealth beneath the soil, the banks and monopoly industry shall be transferred to ownership of the people as a whole.”

Hierdie uitgangspunt vind ook sy neerslag in die opvatting van die ANC dat die herverdeling van grond in Suid-Afrika nie sal geskied aan individue nie, maar dat die grond sodanig verdeel sal word dat kollektiewe plase naas staatsbeheerde plase sal bestaan.

(b)       Volgens die ANC kan die ideale van die Freedom Charter slegs deur middel van ’n gewelddadige revolusie bereik word. ’n Segsman van die ANC het onlangs verklaar dat ten einde die ideale van die Freedom Charter te bereik, die ANC en sy bondgenote alle vorme van stryd - ook gewelddadige en gewapende revolusie - sal gebruik om die bestaande orde in Suid-Afrika omver te werp. Voorts word verklaar dat die Freedom Charter ’n revolusionêre dokument is - dit lê die grondslag vir ’n “nasionale demokratiese revolusie” wat gerig is teen die bestaande orde in Suid-Afrika.

(c)       Volgens die ANC is die Freedom Charter geen bloudruk vir ’n regverdige staatsorde in Suid-Afrika nie. Die Freedom Charter is bloot ’n korttermyninstrument wat die komende revolusie in Suid-Afrika moet verhaas. Die ANC sien die Freedom Charter as ’n besondere bron van inspirasie wat die afgelope vyf-en-twintig jaar die oog van die swartman op die komende revolusie moes vestig. As sodanig bestaan daar geen twyfel dat die ANC die Freedom Charter se waarde grootliks in verband met die fase vir die voorbereiding van die revolusie bring nie.

By geleentheid het die ANC self verklaar dat hy nie die Freedom Charter as ’n “heilige dokument” sien nie en dat die Freedom Charter selfs in die toekoms geskrap kan word indien dit sy doel gedien het.

Hierdie gedagte kry besondere betekenis teen die agtergrond van die opvatting van die twee-fase revolusie wat deur die A/VC onderskryf word.

Volgens die Marxistiese kommunisme behels die twee-fase revolusie eerstens ’n “nasionale bevrydingsfase” en ’n tweede fase waarin ’n volksdemokrasie of kommunistiese staat tot stand gebring moet word. Volgens die ANC is hierdie “nasionale stryd” en die “sosialistiese” stryd nie dieselfde verskynsel nie en hulle behoort nie tot dieselfde historiese periode nie. Hierdie is twee verskillende fases van die revolusie en die belang hiervan word deur die ANC soos volg gestel:

“....it is very important for our theoretically grounded organisers to give to our people a concrete understanding of the course our revolution will follow, that is the stages it will necessarily pass through.”

(d)       Met die aanvaarding van die program “The road to South African freedom” deur die SAKP in 1962, is eksplisiet verklaar dat die totstandkoming van ’n “nasionale demokratiese staat” op die SAKP-lees geskoei, slegs binne die raamwerk van die Freedom Charter moontlik is. Met die onderskrywing van die Freedom Charter deur die SAKP is die besondere hegte band tussen die SAKP en die ANC duidelik bewys. Voorts het dit egter ook die grondslag vir toekomstige samewerking tussen hierdie twee organisasies gelê.

(e)       Volgens die ANC is die “revolusionêre demokrasie”, soos dit in die Freedom Charter tot uitdrukking kom, geen statiese begrip nie, maar ’n dinamiese sosio-politiese begrip wat inherent aan die klassestryd is. Dit is egter duidelik dat die begrippe “revolusionêre demokrasie” deur die ANC as sinoniem vir die diktatuur van die werkersklasse gebruik word.

Samevatting

(a)       Die ANC sien die Freedom Charter as geen bloudruk vir hervorming in Suid-Afrika nie - inteendeel, dit is ’n revolusionêre dokument wat ’n belangrike rol in die eerste fase van die kommunistiese revolusie moet speel.

(b)       Die Freedom Charter het vir die ANC dus slegs instrumentele waarde om ’n revolusie in Suid-Afrika tot stand te bring - hiermee sal die waarde van die Freedom Charter dan meteen verdwyn.

(c)       Die inhoud wat die ANC en die SAKP aan die Freedom Charter gee, getuig daarvan dat dit met die Christelike staatsopvatting onversoenbaar is. Die Freedom Charter is dus geen “neutrale” dokument waarin willekeurige inhoude gegee kan word om hervorming in Suid-Afrika te bepleit nie.

(d)       Teen die agtergrond van die Marxistiese inhoude wat die ANC en die SAKP aan die dokument gee, en gegewe die nihilistiese en revolusionistiese uitgangspunte waarop hierdie organisasies staan, is dit meteen duidelik dat ondeurdagte en naïewe oproepe tot steun vir die Freedom Charter die revolusionêre oogmerke van organisasies kan bevorder, wat geen wesentlike bydrae tot die vernuwing van die Suid-Afrikaanse staatsinrigting kan maak nie.

(e)       ’n Ernstige beroep moet dus gedoen word dat die aard en die rol van die Freedom Charter slegs vanuit die lewens- en wêreldbeskoulike grondslae waarop dit berus, beoordeel kan word. Die voor-die-hand-liggende onaanvaarbare inhoude van die dokument sal dan meteen aan die lig kom.