Lees reeks by Goddelike waarskuwings
SUID-AFRIKA EN DUITSLAND
In Julie 1921 sien Siener van Rensburg hoe die Boere optrek na Lichtenburg en daarna na Prieska. Boy Mussmann en dr SH Rossouw het beide aantekeninge oor hierdie visioene van Siener gemaak.
In Lichtenburg kom ons bymekaar en daar kom 'n man met 'n bruin pak klere en hy spreek ons toe. Daarna draai ons terug en trek weer hier af, net soos in 1914, maar dié keer op óns tyd.
In Mei 1925 sien Siener ook hoe Europa in hierdie tyd in oorlog verkeer: In Europa staan twee groot potte en daar is vuur onder... In Europa trek waens met rooi osse; agter hulle is groot blauw osse. Die wêreld word zwart na die Unie toe. Die buitelandse oorlog sal Suid-Afrika wel in 'n mate raak. Duitsland sal 'n groot rol speel in hierdie oorlog; Siener het 'n visoen gehad waarin Duitsland aan die kop van 'n groot tafel sit saam met talle lande waaronder ook Suid-Afrika; Engeland was egter glad nie aan die tafel nie. Siener het voorspel dat Engeland heeltemal onder die water sal verdwyn as straf van God vir al die ellende wat hy deur baie jare aan talle wêreldlande veroorsaak het.
Wat die Boere se trek na Prieska betref om die wapens wat die Duitsers vir hulle daarheen bring te gaan haal, sien Siener geen struikelblokke nie; daar is geen mobiele regeringstroepe wat hulle sal probeer verhinder om dit te doen nie: al die hekke staan oop en die gras is groen.
In Prieska ontmoet die Boere die Duitsers met die wapens en die Duitsers beweeg verder op in Afrika om daar te gaan 'skoonmaak', terwyl die Boere van Prieska na Kimberley en verder uitbeweeg. Boy Mussmann beskryf die hele prentjie van Siener so: Van die koppe noord van Lichtenburg draai ons weg, en trek af na Prieska. Totdat ons, dit is Suid-Transvaal en Suid-Vrystaat asook Kaapland, vanaf Prieska terugkom, keer Noord-Transvaal en Noord-Vrystaat die slang, die wiel en die springbokke by Vereeniging vas; die plek in Vereeniging waar die wiel, die slang en die springbokke gaan lê het, lyk hol soos 'n put. Wanneer die bomme inrol in die put, tel die slang vir die eerste keer sy kop op en kyk oor die Unie waarheen hy moet vlug. Reg oos bars hulle uit en vlug na Durban. Ons agtervolg hulle. By Durban skiet hulle nog vanaf die skepe terug en dan sê oom Niklaas is die teks voor hom Eksodus 14:3 en beskou dit as Gods Woord dat ons nooit weer 'n 'Engelsman' sal sien wat ons volk benadeel nie.
Boy Mussman vertel wat Siener aan hom vertel het in verband met ekonomiese toestande: "In verband met die geldwese het die Siener vir my gesê hy sien die geel perskeboom verander in 'n sipresboom – die goue ponde verdwyn en note sal hulle plek inneem, en as die oorlog wat nog moet kom, verby is, sal 'n mens met Engeland se note jou huis kan uitplak, hulle sal minder as plakpapier werd wees."
In Oktober 1923 stuur Siener 'n briefie aan mev JJ Steyn: "Geagte nig, hier by ons in die noorde staan 'n vrou met haar gesig na die noorde gerig. Sy is wit aangetrek, haar bokleed sak af en toe is die klere wat uitkom, swart. Sy draai om en gaan sit. Toe is sy 'n groot ou dik tannie, heeltemal swart aangetrek... dis die kapitalis wat in rou kom wanneer die land se geld nikswerd is nie..."
Siener het hierna ook vertel van sy visoen oor 'n geheime Duitse wapenopslagplek iewers in die berge van Europa: Ek gaan na Europa en gaan oor berge. Toe kom ek by 'n plek en daar lê nieuw Mauser-geweers onder planke. Daar is 'n groot dam wat vol water is (Engeland se ekonomie?) en dit reën maar al die uitlope is oop en die dam loop leeg. Op die wal van die dam staan 'n geelperskeboom en die perskes (ponde soos hy dit altyd gesien het) lê onder die boom op die grond. Die Mausers is nog in die ghries. Kaste vol van hulle word van die trein afgelaai. Garingbome ontwortel en rol ooswaarts as Duitswes se mense terugkom. Brittanje is dus finansieel in groot moeilikheid terwyl Duitsland baie sterk in hierdie oorlog sal vertoon.
Interessantheidsonthalwe: Angela Merkel was as Duitse Kanselier in Oktober 2007 op 'n amptelike besoek aan Suid-Afrika om die toestand in Zimbabwe met Mbeki, toe nog president van die ANC, te bespreek. Maar dit het geblyk dat sy nie-amptelik om 'n ander rede hier was – tolke by die geheime samesprekings tussen Merkel en Mbeki het inligting laat uitlek.
Tydens die gesprekke het Merkel Mbeki laat verstaan dat sy nie net oor Zimbabwe bekommerd is nie maar ook oor die stygende geweld in Suid-Afrika, en dat sy vrees dit kan afstuur op totale chaos en burgeroorlog. Mbeki het haar verseker dat hy in volle beheer is en dat sy niks te vrees het nie. Maar uit Merkel se reaksie was dit duidelik dat sy haar bedenkinge het en het hom laat verstaan dat sou dit in die toekoms blyk dat Duitsland se reusesake- en ander belange in Suid-Afrika op enige wyse bedreig word, haar regering nie sal aarsel om direk te kom ingryp om dit te beskerm nie.
Kyk mens na hierdie gebeure teen die agtergrond van Siener se voorspellings, ook oor die drie blou briewe wat as Duitse ultimatums aan die SA-regering gestuur word, het Merkel se waarskuwende besoek betrekking. Siener het dit so gestel: Die parlement sal weer sit, dit het gereën en die gras word groen. Dan word die gras weer wit en droog, en net soos dit weer mooi groen word vir die tweede keer, kom die drie blou briewe in die parlement aan.
Duitsland en die Boerevolk se verbintenis strek in 2014 presies oor 'n honderd jaar. Met die Rebellie van 1914 is hierdie eensgesindheid plegtig met die ondertekening van traktate oor Duitswes verseël nadat die Boererebelle geweier het om Duitswes in te val. En nadat die Rebelle in 1915 by Upington deur Louis Botha se magte verslaan is, het genl Manie Maritz vir genl Jan Kemp geneem om met Botha se offisiere te gaan onderhandel. Die kommando's het toe teruggetrek na Duitswes se kant tot op 'n plaas met die naam Koegoeskop, om daar die uitslag van die onderhandelinge af te wag. Op die plaas was baie Duitsers saam met die burgers. Siener het voordat hyself ook daar was, 'n visoen hieroor gehad waarin hy gesien het hoe elke burger vir hom daar op die plaas 'n geelperske (goue pond) van 'n soetdoringboom afpluk, maar hy (Siener) kry eers sy geelperske in Pretoria. Die gesig is kort daarna bewaarheid toe die Duitse owerheid aan elke Rebel wat oorgegee het, een goue pond vir padgeld uitgedeel het. Maar omdat Siener se naam nie op die korporaals se naamlys voorgekom het nie, het hy nie daar sy pond gekry nie, maar wel later in Pretoria.
Die huidige situasie in Suid-Afrika en in die res van die wêreld dui daarop dat Siener se profetiese tydtafel besig is om gedek te word vir 'n groot krisis. Maar ons moet ook onthou dat hy gesê het om vas te staan en met alle mag te veg al is jou rug teen 'n muur, en selfs al is dit so donker dat jy nie jou hand voor jou oë kan sien nie, want, het hy gesê: wanneer die onderlinge stryd en rebellie tussen die swartes uiteindelik tot 'n einde kom, sien ek hulle agter 'n newel verdwyn. Daarna, gaan ons met die hulp van Duitsers die land tot by die Ewenaar skoonmaak."
Vervolg...