WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan A R Newby-Fraser
"Die navorsings- en ontwikkelingswerk wat onderneem moes word, was by uitstek daarop gerig om die maksimum voordeel vir verskeie nywerhede te verseker, in die eerste plek die mynbedryf maar ook elektrisiteitsontwikkeling, swaar ingenieurswese, elektronika en soortgelyke nywerhede. Eerstens is talryke onderhandelinge met owerhede binne Suid-Afrika gevoer soos Staatsdepartemente, universiteite, die WNNR, EVKOM en die mynbedryf, wat almal by die ontwikkelings in die kernveld betrokke sou wees."
Abraham Johannes Andries Roux, seun van 'n boer, is 'n paar maande nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek bet, gebore. Sy kinderjare het hy naby Bethlehem deurgebring in die vreedsame landelike omgewing van die noordoostelike Oranje-Vrystaat. Na die jare op die plaasskool het hy aan die Hoërskool Bethlehem gematrikuleer. Hy wou graag op dieselfde grond boer waar hy opgegroei het, maar op aandrang van sy vader het hy in 1932 as ingenieurstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf en daardeur met 'n akademiese loopbaan begin wat deur die volgende dekade sou duur. Gedurende hierdie tydperk het hy die grade B.Sc., M.Sc. en D.Sc. in meganiese ingenieurswese verwerf en onderwyl hy twee jaar lank praktiese ondervinding op die myne opgedoen het, het hy aandklasse bygewoon en die bykomende onderskeiding van 'n B.Sc.-honneursgraad in toegepaste wiskunde, cum laude, verwerf.
Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was hy senior lektor aan die Universiteit van Stellenbosch. Dit was hier waar hy weer by 'n ou vriend, dr R L Straszacker aangesluit het wat later die Voorsitter van die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie sou word en onder wie se leiding die besluit geneem sou word om kernkrag in Suid-Afrika in te voer. Hulle het baie rustige aande in die mooi universiteitsdorp, Stellenbosch, deurgebring met wydlopende besprekings en die skepping van nuwe ingenieursterme en -uitdrukkings wat tot op daardie stadium nog nie in die jong, vinnig-groeiende Afrikaanse taal bestaan het nie. Laasgenoemde was 'n voortsetting van'n belangstelling in terminologie wat Ampie Roux gedurende sy studentedae aan die Universiteit van die Witwatersrand ontwikkel het waar hy by die oprigting van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Natuurwetenskap en Wysbegeerte betrokke was en waar hy die eerste redakteur van die Vereniging se publikasie Die Suid-Afrikaanse Denker geword het. Die doelstelling van hierdie publikasie was die bevordering van die Afrikaanse taal soos in die natuurwetenskap gebruik.
Toe die land sy eerste stappe in die rigting van na-oorlogse ontwikkeling gedoen het, het dr Roux 'n aanstelling by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad aanvaar. Met hierdie stap het hy onwetend 'n reeks gebeurtenisse aan die gang gesit wat bestem was om hom een van Suid-Afrika se welbekendste wetenskaplike leiers te maak. Onwetend, want op daardie stadium was lugdinamika sy groot voorliefde, hoewel hy erken het dat hy 'n sterk persoonlike belangstelling in kernenergie het en in die vroeë dertigerjare wyd oor die onderwerp gelees het. Hy het sy navorsingswerk in die Bounavorsingsinstituut van die WNNR terdeë geniet. Dit was gedurende hierdie tydperk dat 'n ander jong wetenskaplike, W L Grant, wat ook bestem was om beroemdheid op kerngebied te verwerf, by sy personeel aangesluit het. Meer as 20 jaar later sou hulle twee gesamentlik die Hendrik Verwoerdprys vir hulle ontwikkeling van die nuwe proses vir uraanverryking ontvang.
Vanaf 1952 het die tempo van dr Roux se opgang versnel. In Januarie van daardie jaar het hy beampte-in-bevel van die WNNR se Navorsingseenheid vir Meganiese Ingenieurswese geword en nege maande later was hy Direkteur van die Nasionale Fisiese Laboratorium waarby die Navorsingseenheid ingelyf is. Drie jaar later het die Eenheid 'n volwaardige instituut geword, die Nasionale Navorsingsinstituut vir Meganiese Ingenieurswese en het dr Roux sy direkteurskap van die NFL op eie versoek neergelê om hoof van die nuwe Instituut te word. Dr E J Marais het hom opgevolg as direkteur van die NFL en binne dieselfde maand is altwee genomineer om namens die WNNR as lede van die Raad op Atoomkrag se nuutgevormde Fisikakomitee te dien. Hierdie Fisikakomitee was 'n samestelling van die Raad se Instrumentasie- en Gidskomitees.
Later in dieselfde jaar is dr Roux as die Raad op Atoomkrag se deeltydse Direkteur vir Atoomenergienavorsing aangestel met die uitdruklike verantwoordelikheid om die land se kernnavorsings- en ontwikkelingsprogram te beplan en te formuleer. Slegs drie maande later word hy tot Vise-President van die WNNR bevorder. Meer en meer eise is aan sy tyd gestel totdat hy, kort voordat sy bloudruk formele kabinetsgoedkeuring ontvang het, as voltydse Navorsingsdirekteur van die RAK aangestel en so van sy verantwoordelikhede by die WNNR vrygestel is. Sy titel is daarna tot Direkteur en Uitvoerende Hoofbeampte en nog later tot Direkteur-generaal verander. Toekennings, grade en aanstellings, akademies en professioneel, sommige ere en ander aktief, het opgehoop en vul vyf bladsye van sy curriculum vitae – in hierdie geval elke een daarvan met verdienste en nie soos deesdae die geval met die sogenaamde gegradueerdes in die nuwe Swart regime wat voorgee dat hulle gegradueer het en in poste beland waartoe hul nie instaat is nie.
Onder sy prestasies tel ook sy verkiesing tot Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en sy benoeming as Voorsitter van die Nasionale Instituut vir Metallurgie, Voorsitter van die Uraanverrykingskorporasie van Suid-Afrika, lid van die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad, lid van die Wetenskaplike Adviesraad van die Eerste Minister, die Nasionale Raad vir Universiteite, die toekenning van die Havengaprys vir Ingenieurswese, die Spoorwegprys en die Hendrik Verwoerdprys en van ere-doktorsgrade deur die Universiteite van Stellenbosch, Pretoria, die Oranje-Vrystaat en die Witwatersrand. Hierdie en ander aanstellings en toekennings dui op die agting en bewondering wat sy talente uitgelok het.
Met die wysiging van die Wet op Atoomkrag in 1967 het hy Voorsitter van die Raad op Atoomkrag geword, 'n posisie wat tot op daardie stadium vir die Minister van Mynwese uitgehou is, en ongeveer drie jaar later, volgende op 'n verdere wysiging, word hy President van die Raad. As die leier van Suid-Afrikaanse afvaardigings na talryke internasionale konferensies het hy welbekend geword aan leidende kernpersoonlikhede dwarsoor die wêreld.
Dit was dan die skitterende loopbaan van die jong man wat op 12 Junie 1958 sy voorstelle vir Suid-Afrika se kernenergie- en ontwikkelingsprogram aan die vergadering van die Raad op Atoomkrag, met die destydse Minister van Mynwese in die Voorsitterstoel, voorgelê het. Die formulering van die voorstelle was 'n gedugte taak. Eerstens is talryke onderhandelinge met owerhede binne Suid-Afrika gevoer soos Staatsdepartemente, universiteite, die WNNR, EVKOM en die mynbedryf, wat almal op een of ander wyse by die ontwikkelings in die kernveld betrokke sou wees. Gewapen met hierdie agtergrond van tersaaklike gesigspunte het dr Roux die menings van nie minder nie as 235 gesaghebbendes en owerhede in 10 lande van die Westerse Wêreld ingewin. Al hierdie gesaghebbendes was in 'n mindere of meerdere mate met kernontwikkeling gemoeid. Daarna het hy die hooftaak aangepak om hierdie menings tot 'n gebalanseerde program saam te voeg wat ontwerp is om in die komende jare aan die besondere behoeftes van Suid-Afrika te voldoen.
Die samestelling van die program was so ontwerp dat dit drie hoofrigtings sou omvat, nl. materiale, kernkrag en radioaktiewe isotope, en straling, met 'n vierde bykomende rigting naamlik fundamentele navorsing. Die doelstellings wat onderliggend aan die temas en aanbevelings was, was om Suid-Afrika in staat te stel om soveel voordeel as moontlik te behaal uit sy posisie as 'n belangrike uraanprodusent, uit sy besit van beduidende afsettings van ander materiale wat van belang in die kernkonteks is, en uit destydse en toekomstige kernontwikkelings in die res van die wêreld. Dit was verder bedoel om die land in staat te stel om ook sy eie bydrae tot die wêreld se groeiende skat van kernkennis te lewer en om sodoende te verhoed dat hy van sy beste wetenskaplikes en ingenieurs na ander lande verloor.
'n Verdere doelstelling wat dr Roux gehad het was om die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse nywerheid van 'n herstel- en instandhoudingsnywerheid soos dit toe was, in die rigting van 'n hoogs gesofistikeerde nywerheid aan te moedig wat uiteindelik in staat moes wees om die volledige vervaardiging van reaktore en hulle samestellende dele te onderneem.
Tegelyk is voorgestel dat die wyse waarop die navorsing onderneem moes word, sodanig moes wees dat bykomende uitgawe tot 'n minimum beperk sou word deur opgeleide personeel en geriewe te benut wat reeds plaaslik beskikbaar was. Altesaam twaalf temas het die program uitgemaak. Die meerderheid van die temas het om verstaanbare redes, met materiale verband gehou. Die temas was die volgende:
- Verbetering van die mynbou- en ekstraksiemetodes vir uraan;
- Studie van verdere stappe in verband met uraanprosessering;
- Studie van die eienskappe van uraan in verband met die gebruik daarvan as 'n kernbrandstof;
- Prospektering na torium;
- Die ontwikkeling van ekstraksie- en prosesseringsmetodes vir torium. (Torium is 'n kweekstof waaruit 'n kloofbare isotoop van uraan (233U) gekweek kan word wat dan as 'n brandstof in vinnige kweekreaktore gebruik kan word. Daar is reeds op daardie stadium aan die toepassing van die toriumsiklus as 'n toekomstige langtermyn-moontlikheid erkenning verleen.);
- Uitbreiding van die opsporing van reaktormateriale;
- Die ontwikkeling van ekstraksie- en prosesseringsmetodes vir reaktormateriale; en
- 'n Studie van die moontlikhede van ekonomiese swaarwaterproduksie.
Twee ander hoofrigtings was in die volgende drie temas beliggaam:
- Navorsing na en ontwikkeling van 'n kragreaktorkonsep wat vir Suid-Afrika toepaslik is;
- Die bevordering van die reeds gevestigde gebruike van radioisotope en straling; en
- Navorsing om nuwe gebruike van radioisotope en straling vas te stel.
Die twaalfde en laaste aanbeveling het die belangrikheid van die universiteite erken en was:
- Ondersteuning van fundamentele navorsing wat as grondslag vir kernenergieontwikkeling kon dien.
Die praktiese implikasies van hierdie temas is in spesifieke aanbevelings uitgespel. Baie van hierdie aanbevelings het op die basiese begrip berus dat organisasies wat sowel voordeel kon trek as bydrae tot hierdie nuwe ondernemingsgebied by kernnavorsing en ontwikkeling betrek moes word — organisasies soos die mynbedryf, die Staatsmetallurgiese Laboratorium, die Geologiese Opname, die WNNR en die Universiteite. Ander aanbevelings bet verband gehou met die verspreiding van inligting en publikasies en opleidingskursusse, die vestiging van die toekomstige Kerninstituut van die Suidelike Universiteite, die toekenning van beurse, beplanning en begroting op die vyfjaargrondslag wat die Raad op Atoomkrag later gevind het by uitstek prakties te wees, die aanskaffing van die eerste navorsingsreaktor wat gevolg sou word deur die ontwerp en konstruksie van 'n gevorderde reaktor met 'n hoë termiese neutronvloed, die oprigting van 'n nasionale kernnavorsingsentrum so naby as moontlik aan die WNNR en die Noordelike Universiteite en die finansiering van die eerste vyf jaar teen £800 000 per jaar —'n bedrag wat geblyk het uiters realisties te wees en waarvan die grootste gedeelte van die mynbou- en vervaardigingsnywerhede en van EVKOM afkomstig was.
Dr Roux het dit as van die uiterste belang geag dat die nywerheid tot die finansiering van die program moes bydra. Die navorsings- en ontwikkelingswerk wat onderneem moes word, was by uitstek van 'n toegepaste aard en daarop gerig om uiteindelik die maksimum voordeel vir verskeie nywerhede te verseker, in die eerste plek natuurlik die mynbedryf, maar ook elektrisiteitsontwikkeling, swaar ingenieurswese, elektronika en soortgelyke nywerhede. Vrywillige finansiële bydraes het die bydraers 'n belang in die Raad se werk gegee en sodoende ook 'n intense belangstelling in die vooruitgang wat gemaak is.
Belangrike nywerheidsorganisasies het waardering vir hierdie benadering gehad en met die mynbedryf aan die spits het hulle diep in hulle beursies gedelf en hulleself op gulhartige wyse verbind om 'n aansienlike bydrae tot die program te lewer.
Namate een vyfjaarsiklus deur die volgende opgevolg is, het die koste onvermydelik gestyg en was dit nodig om 'n beroep op die Staat te doen om na verhouding meer en meer by te dra, maar dit het op geen wyse afbreuk gedoen aan die waarde van die nywerheid se bydrae en hulle heelhartige ondersteuning veral gedurende die vroeë jare nie.
Die voorstelle, met 'n paar wysigings wat deur die Navorsingsadvieskomitee aangebring is, was reeds by die Regering aanbeveel toe die eerste tekens van 'n gebrek aan eenparige steun verskyn het. Die verskille het om die verantwoordelikheid vir die uitvoering van die program gedraai en die afwesigheid van algehele eenstemmigheid het gedreig om aanvaarding deur die Regering in gevaar te stel en om die Staat se finansiële ondersteuning te beïnvloed.
Die verdeling in twee kampe binne die Raad het in wese sy oorsprong in verskillende wetsvertolkings van 'n klein sinsnede in die Wet op Atoomkrag gehad. Gevoelens het hoog geloop, soveel so dat daar 'n aansienlike vertraging was voordat die Kabinet die groen lig vir die program gegee het.
Die dooiepunt het meer as 'n jaar voortgeduur maar uiteindelik is die betrokke Kabinetsministers teen die einde van Augustus 1959 van die logika van die argumente oortuig wat deur die meerderheid van die Raad se lede en hulle Navorsingsdirekteur aangevoer is. Senator De Klerk, die Minister van Mynwese, het op 5 September in Carletonville aangekondig dat die Kabinet die voorgestelde navorsings- en ontwikkelingsprogram van die Raad op Atoomkrag goedgekeur het en het die Raad sodoende die groen lig gekry.
Vervolg...