'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (4)

WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig

Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser

" Dr Verwoerd se toespraak by die ingebruikneming van SAFARI-1, was nie net merkwaardig vir die inhoud daarvan nie maar ook weens die feit dat hy dit gelewer het sonder om 'n enkele keer na sy notas te kyk. Hiermee het die Eerste Minister die aanvangsfase van die SuidAfrikaanse kemnavorsingsprogram afgerond en die drywing en aktiwiteite van 'n kettingreaksie wat reeds aan die gang was, versterk."

In 1959 toe daar met kernnavorsing in Suid-Afrika begin is was daar natuurlik nog geen opgeleide wetenskaplikes hiervoor nie.  Dr M G Atmore is eerste genader en op 'n tydelike grondslag aangestel van twee jaar aangestel. Weens sy kennis en ondervinding van navorsing en ontwikkeling op mynbougebied was hy besonder geskik vir die uitvoerige formulering van die deel van die program wat oor grondstowwe gehandel het. Die ander vier was dr W L Grant, dr J P Hugo, dr S J du Toit en dr L J le Roux. Dr Roux het 'n uitstekende vermoë gehad om nie slegs van die mees uitstaande en briljante wetenskaplikes en ingenieurs te vind en aan te stel nie, maar om ook manne te vind wat volmaak in die posisies ingepas het waarvoor hulle uitgesoek is. 'n Treffende voorbeeld van hierdie sonderlinge gawe was die aanstelling van dr W L Grant wat later Besturende Direkteur van die Uraanverrykingskorporasie van Suid-Afrika geword het.

Wally Grant het teen die einde van 1940 as vakleerling op vliegtuigenjins en -rompe by die Suid-Afrikaanse Lugmag aangesluit. Hy het egter'n sterk drang gehad om te studeer, in so 'n mate dat hy ten spyte van die verpligtinge wat oorlogsdiens meegebring het, nogtans matriek deur middel van 'n korrespondensiekursus gevolg en in 1942 met onderskeiding in 5 van die 6 vakke geslaag het. In twee van hierdie vakke, Meganika en Hittemasjiene het by die hoogste punte van al die kandidate in die Unie van Suid-Afrika behaal. Sy uitstaande bekwaamheid het hom 'n logiese keuse gemaak om as lid van 'n lugmagspan 'n jaar in Brittanje met werk aan gasturbines deur te bring. Teen daardie tyd het die oorlog gedurende vier jaar dwarsoor die wêreld steeds in heftigheid toegeneem. Dit het behalwe ongeluk en smart ook ongelooflike tegnologiese vooruitgang meegebring. Jare lank het die aansprake van die Britse ingenieur, Frank Whittle, dat die gasturbine — die straalenjin soos dit bekend was — geweldige potensiaal besit, op dowe ore geval, maar die dringende krygsbehoefte aan steeds beter vliegtuigenjins het uiteindelik erkenning vir sy uitvinding meegebring en dit was op hierdie gebied dat Grant tesame met sy kollegas gaan werk het, onder die leiding van Whittle self wat later vir sy bydrae tot die oorlogspoging tot ridder geslaan is.

Toe hy in Oktober 1945 na Suid-Afrika terugkeer was die oorlog verby en die jeugdige Wally het geen tyd verspil nie maar dadelik aan die Universiteit van die Witwatersrand as 'n ingenieurstudent ingeskryf. Twee jaar later is die graad B. Sc. in ingenieurswese cum laude aan hom toegeken en in 1948 het hy by die personeel van die WNNR aangesluit waar sy lang verbintenis met dr Roux begin het. Hier is hy in staat gestel om die navorsing aan te pak wat tot die graad M.Sc. in toegepaste wiskunde — weer eens cum laude — en uiteindelik tot die begeerde D. S c.-graad in Ingenieurswese gelei het. Gedurende sy tien jaar by die WNNR was sy werk streng op hitteoordrag en termodinamika toegespits — ondervinding wat later van onskatbare waarde vir sy werk sou wees — en hy is bevorder, eers tot hoof van die Afdeling Hitteoordrag en Termodinamika van die NFL se Navorsingseenheid vir Meganiese Ingenieurswese, en later tot Direkteur van die Nasionale Navorsingsinstituut vir Meganiese Ingenieurswese (NNlivil).

Met die aanvang van die Nasionale Kernnavorsingsprogram het die uitdagings en vooruitsigte hom as Hoofingenieur na die Raad op Atoomkrag gebring en is sy kennis en ervaring uitgebrei deur 'n opleidingstydperk van 17 maande in die buiteland. Toe hy die uitdaging moes aanvaar om 'n geskikte navorsingsprogram vir die ingenieurs te ontwerp wat onder horn sou werk, het dr Grant se vrugbare brein vorendag gekom met die konsep van 'n kragreaktor wat natuurlike uraan as brandstof sou gebruik, swaarwater as remstof en vloeibare natrium as koelmiddel. Alhoewel die konsep nie oorspronklik was nie — dit was reeds vroeër in die VSA ondersoek maar nie opgevolg nie — het geen land toe nog probeer om dit verder te ontwikkel nie. Dit wou egter voorkom of dit aansienlike moontlikhede vir Suid-Afrika ingehou het en daarom het dr Grant binne enkele maande na sy terugkeer na Suid-Afrika sy voorstelle vir navorsing in hierdie rigting aan die Raad voorgelê wat dit sonder aarseling goedgekeur het. Dit was die PELINDUNA-projek.

Drie jaar later terwyl hy nog Hoofingenieur was, is hy as Adjunk-direkteur-generaal van die Raad aangestel met verantwoordelikheid vir die RAK se belangrikste projekte en, toe nog drie jaar later, het by Direkteur-generaal geword nadat dr Roux in 1967 as Voorsitter aangestel is. Teen daardie tyd het sowel die PELINDUNA- as die uraanverrykingsprojekte uitstaande vooruitgang getoon en het albei 'n stadium bereik waar 'n belangrike verhoging in bedrywighede en finansiële belegging 'n noodsaaklike volgende stap geword het. Gelyktydige voortsetting van albei hierdie groot projekte was egter onuitvoerbaar vir 'n land met die grootte van Suid-Afrika en 'n besluit moes geneem word om die PELINDUNA-projek te laat vaar en voorkeur aan uraanverryking te gee. 'n Besluit, wat agterna gesien, ongetwyfeld die regte was. Dr Grant het hierna sy volle aandag aan uraanverryking gewy en in 1970 het by Adjunk-president van die Raad op Atoomkrag geword. Kort hierna, in dieselfde jaar, het die Eerste Minister sy openbare aankondiging oor die sukses van die Raad se verrykingsprojek en oor die oprigting van die Uraanverrykingskorporasie van SuidAfrika gedoen en 'n paar maande later word dr Grant Hoofbestuurder van die Korporasie.

'n Soortgelyke man is die Raad op Atoomkrag se Adjunk-president, dr J P Hugo, 'n Transvaler, gebore en getoë aan die Witwatersrand.

Sy graad in Metallurgiese Ingenieurswese aan die Universiteit van die Witwatersrand was kenmerkend van hierdie energieke, gevatte individu want hy erken dat hy hierdie studierigting gekies het omdat dit in die eerste jaar uit meer vakke bestaan het as enige ander eerstejaarskursus. Hy het dit opgevolg met 'n tydperk in die staalnywerheid in Sheffield in die VK, lank genoeg om horn feitlik as een van die taai broederskap van staalmakers aanvaar te kry. Hy het teruggekeer huistoe gewapen met 'n Ph.D.-graad.

Met hierdie ondervinding agter die rug, het hy logieserwyse na die Suid-Afrikaanse Yster- en Staal Industriële Korporasie (YSKOR) beweeg, maar 'n jaar later is hy deur dr Roux opgespoor wat toe Direkteur van die NFL was. Dr Roux het dr Hugo omgepraat om by horn aan te sluit as lid van die nuutgevormde Navorsingseenheid vir Meganiese Ingenieurswese van die Nasionale Fisiese Laboratorium. Hier het hy hom by manne gevoeg wat later naam op kerngebied sou maak, of by die Raad, of by die Uraanverrykingskorporasie. Dit was dr Roux wat dr J P in die kernveld ingelei het deur hom te gebruik om inligting gedurende 'n uitgebreide buitelandse besoek te versamel wat toevallig met dr Roux se eie feitesendings saamgeval het. Tot sy verbasing vind dr Hugo homself daarna besig om die getikte teks van die kernnavorsingsprogram te proeflees wat later aan die Raad op Atoomkrag voorgelê sou word. Die omvang van hierdie navorsingsgebied het dr Hugo se gebruiklike geesdrif vir navorsing sodanig aangewakker dat hy nie 'n oomblik geaarsel het om aansoek te doen toe 'n pos vir 'n fisiese metallurg geadverteer is nie. Hy is aanvaar. 'n Opleidingstydperk in die VSA het hom vir sy nuwe kernverantwoordelikhede gevorm en ná sy terugkeer was hy eers gemoeid met verskeie aspekte van die skepping van Pelindaba voordat hy in staat was om sy aandag op die beplanning en implementering van navorsing in verband met fisiese metallurgie toe te spits.

Eers is hy Eerste Navorsingsbeampte, daarna hoof van sy afdeling en toe Direkteur. In 1967 het hy uit sy besondere veld opwaarts beweeg na die wye omvang van verantwoordelikhede verbonde aan die pos van Adjunk-direkteur-generaal wat in 1970 tot dié van Adjunkpresident omskep is.

Die volgende President van die Raad op Atoomkrag,  dr J W L de Villiers, was die opvolger van dr Roux. Gebore en getoë in die klein dorpie Smithfield in die suidelike deel van die Oranje-Vrystaat, is hy gedurende sy skooljare deur radio betower wat tot die gebied van elektronika gevorder het. Op advies van sy wiskundeonderwyser het hy aan die Universiteit van Stellenbosch vir 'n graad in fisika ingeskryf. Sy baccalaureus-graad is twee jaar later gevolg deur die toekenning van die M.Sc. cum laude. Die onderwerp van sy keuse was die toepassing van isotope in die landbou. Met hierdie graad het hy hom by die Onderafdeling Massaspektrometrie van die NFNL by die WNNR aangesluit waar by instrumente gebou het en ontledings van verskeie rotsformasies vir, onder andere, uraan en torium, uitgevoer het. Vir hierdie werk het die Universiteit van Stellenbosch die graad D.Sc. aan hom toegeken. Sy werk oor die uraanafsettings aan die Witwatersrand is in 1955 op die tweede Konferensie oor die Vredesgebruike van Atoomenergie van die VVO voorgedra.

Nog 'n skakel in die kernontwikkelingsketting, was die feit dat die SASOL-patent vir swaarwaterproduksie gedurende hierdie tydperk baie in die kalklig was. Die grondliggende inligting vir hierdie patent het uit massaspektrografiese ontleding gespruit en die massaspektrometer wat vir die ontledings gebruik is, is deur niemand minder nie as dr De Villiers ontwerp en gebou.

Op hierdie stadium het sy rustelose energie hom gedryf om na nuwe weivelde te soek en het hy die onverwagte aanbod van 'n beurs van die Raad op Atoomkrag aangegryp. Hierdie beurs het hom in staat gestel om 'n tydperk in die NFNL se Onderafdeling Kernfisika deur te bring en daarna vir verdere opleiding na die buiteland te gaan. Sy versiende blik blyk uit sy keuse, reeds op daardie vroeë stadium, van plasmafisika as sy studieveld, maar toe dr Roux daarop gewys het dat Suid-Afrika se moontlike belangstelling in hierdie vertakking van die fisika so ver in die toekoms gelê het dat sodanige keuse nie werklik 'n uitvoerbare voorstel was nie, het hy sonder aarseling reaktorfisika gekies as die gebied waarop toekomstige toegepaste bedrywighede na sy mening sou plaasvind.

Ná 'n jaar by die WNNR het hy na die Nasionale Laboratorium by Argonne in die VSA vir gespesialiseerde opleiding in reaktorfisika gegaan en hier het hy saam met 'n aantal van die navorsingsafdelingshoofde, dr W L Grant (Hoofingenieur), dr L J le Roux (Hoofchemikus), dr S J du Toit (Hooffisikus) en dr J P Hugo (Hoof van Fisiese Metallurgie) gewerk.

Teen die einde van 1967 word dr De Villiers Direkteur van die Afdeling Reaktorontwikkeling nadat hy 'n leidende rol in die ontwikkeling van die PELINDUNA-reaktorkonsep gespeel het; maar hy was reeds besig om die aantrekkingskrag van die nywerheid daarbuite te voel. Vroeg in 1970 het hy die besluit geneem om op eie bene te staan, en het hy uit sy pos by die Raad op Atoomkrag bedank om sy eie gespesialiseerde nywerheidsondernemingte stig.

Hierop het twee jaar van geweldige harde werk gevolg. Gedurende hierdie tydperk het hy veel mensekennis opgedoen en baie van die probleme van kleinskaalse vervaardiging geleer. 'n Aanbod om na die kerngebied as Hoof van die Veiligheidsafdeling van die Uraanverrykingskorporasie terug te keer, was onweerstaanbaar. Vir Wynand de Villiers was hierdie 'n baie beduidende beweging want na bietjie meer as 'n jaar, het hy hom as een van die Vise-presidente by die Raad op Atoomkrag aangesluit. Drie jaar later word hy een van die twee Adjunk-presidente en binne 'n verdere drie jaar is hy aangewys om dr Roux as President van die Raad op te volg.

Gelyktydig met die opleidingstydperk van die hoofde van navorsingsafdelings, is 'n navorsingsreaktorbedryfspan van sewe man aangestel en vir opleiding na die Nasionale Laboratorium te Oak Ridge gestuur waar die ORR-reaktortipe ontwerp en ontwikkel is. Van hierdie sewe beklee drie later uitstaande posisies in die Raad op Atoomkrag naamlik dr R van der Walt, Vise-president; dr E van der Spuy, 'n briljante teoretiese fisikus van internasionale aansien en later Direkteur van Fisika te Pelindaba; asook mnr C Moller, onder wie alle tegniese, teenoor wetenskaplike, werksaamhede van die RAK geressorteer het.

By Oak Ridge het hulle vertroud geraak met die ingewikkeldhede van hulle reaktor want by hulle terugkeer sou hulle vir die veiligheid en doeltreffendheid van SAFARI-1 verantwoordelik wees.

Ook die afdelingshoofde wat intussen hulle oorsese opleiding voltooi het, het hulle daaraan gewy om die organisasie van hulle afdelings te ontwikkel en om hulle onderskeie navorsingspogings te omskryf.

Terselfdertyd het die werwing van gekwalifiseerde wetenskaplike en tegniese personeel deurlopend voortgegaan en spoedig is die mikpunt van die aanstelling van 75 wetenskaplikes bereik. In werklikheid was die hele patroon van die Raad se navorsingsbedrywighede in die vroeë sestigerjare 'n ineengestrengelde mengsel van boubedrywighede, die installering van toerusting, aktiewe navorsing asook die werwing en opleiding van personeel.

Teen die einde van die eerste vyfjaartydperk was daar reeds ver met 'n beduidende reeks navorsingsprojekte gevorder. Nog twee jaar later, toe die reaktor in bedryf gestel is en bestendig gewerk het, kon die hele navorsingsprogram as synde in volle swang beskou word.

Ter ere van hierdie stadium het 'n sprankelende seremonie plaasgevind wat nie slegs deur sowel die Eerste Minister, dr Verwoerd, as lede van sy kabinet bygewoon is nie, maar ook deur verteenwoordigers van vername lande in die buiteland wat kernenergie betref. Tussen hulle was sir William Penny, Voorsitter van die Atoomenergie-owerheid van die Verenigde Koninkryk, professor Andre Gauvenet die Chef du Cabinet van die Hoë Kommissie van die Franse Comissariat a l'Energie Atomique, professor Carlo Salvetti, Vise-president van die Italiaanse Comitato Nazionale della Energia Nucleare, dr Alvin Weinberg, Direkteur van die Nasionale Laboratorium te Oak Ridge in die VSA, mnr B Dargan, 'n kommissaris van die Australiese Atoomenergiekommissie, prof dr A Boettcher, Direkteur van die Navorsingsinrigting by Jülich in Wes-Duitsland en verder ook verteenwoordigers van die Internasionale Atoomenergieagentskap en van die navorsingsentrum van Euratom by Ispra.

Dr Verwoerd se toespraak by die ingebruikneming van SAFARI-1, was nie net merkwaardig vir die inhoud daarvan nie maar ook weens die feit dat hy dit gelewer het sonder om 'n enkele keer na sy notas te kyk. Hiermee het die Eerste Minister die aanvangsfase van die SuidAfrikaanse kemnavorsingsprogram afgerond en die drywing en aktiwiteite van 'n kettingreaksie wat reeds aan die gang was, versterk.

Vervolg...