WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser
Een van Suid-Afrika se mees uitstaande teoretiese wetenskaplikes het besonder voortreflike teoretiese werk in verband met die ontwerp van moontlike kaskaderangskikkings onderneem. Hierdie studie het tot die helikonproses gelei waaraan die Suid-Afrikaanse verrykingsproses veel van sy doeltreffendheid te danke het. Dr Grant het 'n intense besorgdheid oor elke aspek van die projek aan die dag gelê en sy verstand was gedurig besig om, waar hy ookal was, probleemgebiede te peil.
Een sodanige gebied was die behoefte aan die noukeurige meting van molekulêre massas van die komponente van die UF6-H2- gasstroom waarvoor geen instrument in die handel beskikbaar was nie. Hierdie metings was egter onontbeerlik. Terwyl dr Grant en sy familie een Sondag 'n kerkdiens bygewoon het, het hy opgemerk dat die klein orrel wat daardie dag tydelik in gebruik was note van groot suiwerheid voortgebring het. Terwyl hy hieroor gepeins het, het by gedink aan 'n moontlike verklaring en besef dat die frekwensies van die note 'n funksie van die eienskappe van die lug in die orrelpype was. Onmiddellik het'n moontlike toepassing van hierdie beginsel op sy probleem by hom opgekom. As die frekwensie van die natuurlike trillings van die gasmengsel in 'n pyp soortgelyk aan 'n orrelpyp individueel bepaal kon word, sou hy 'n noukeurige meting van die verhouding van die samestellende molekule kon uitvoer. Toe hy die volgende oggend in die laboratorium terugkom, het hy sy deskundiges aan die werk gesit, met soveel sukses dat die aanvoorverrykingsaanleg later met letterlik honderde van hierdie uiters doeltreffende meetinstrumente toegerus is.
Teen die einde van 1967 was die uitvoerbaarheid van die werwelbuis-verrykingsmetode volledig op laboratoriumskaal bewys terwyl dit wou voorkom asof die wetenskaplike en tegniese probleme wat nog opgelos moes word, hoegenaamd nie onoplosbaar was nie. Om te besluit of die proses vir 'n verrykingsaanleg van volle grootte lewensvatbaar sou wees, was dit egter nodig om ekonomiese en nywerheidsverwante gegewens te bekom wat nie deur werk op laboratoriumskaal voorsien kon word nie. Kortom kon hierdie inligting slegs bekom word deur die oprigting van 'n volle aanvooraanleg gegrond op die werwelbuisskeidingselement. Die koste en inspanning wat hierby betrokke sou wees, was egter van 'n ander aard as dit wat tot op daardie stadium vir die laboratoriumwerk nodig was. Daar is besef dat daar nie van die regering verwag kon word om slegs op grond van die aanbeveling van die topwetenskaplikes en -ingenieurs wat met die projek besig was 'n belangrike besluit hieroor te neem nie, nl. om met die volgende stap van die projek voort te gaan. Op aanbeveling van dr Roux het die regering in die eerste kwartaal van 1968 'n onpartydige, deskundige komitee aangestel waarvan die lede tot op daardie stadium nie by die ontwikkelinge betrokke was nie. Hierdie komitee was onder voorsitterskap van die uitstaande nyweraar, dr H J van Eck en sy opdrag was om 'n onafhanklike aanbeveling oor die toekomstige voortsetting van uraanverryking in Suid-Afrika aan die Kabinet te doen.
Die Komitee het nie met die nakoming van sy verpligtinge gedraal nie. Na 'n kort, maar nietemin hoogs intensiewe en deeglike studie van die talle verslae en ander dokumente wat op die werk van die voorafgaande jare betrekking gehad het, het hy drie dae, van 'n Dinsdag tot 'n Donderdag, bestee om te Pelindaba-getuienis aan te hoor, die geriewe te inspekteer en gesprekke met die navorsers te voer. Die volgende oggend, op Vrydag 19 Februarie 1968 om 10hOO, het die komiteelede versamel en met instemming geluister terwyl hulle voorsitter die verslag en aanbevelings kort en bondig gedikteer het. Na voltooiing van elke bladsy het die snelskriftiksters na hulle tikmasjiene gehaas en hul snelskrifnotas in die finale vorm getik. Dr Van Eck het persoonlik die hoogsgeheime verslag om 14h30 saamgevoeg (dr Roux en dr Grant het toe reeds kortliks insae daarin gehad) en het toe stappe gedoen om te verseker dat die verslag teen die volgende Maandag in die hande van die Minister van Mynwese sou wees, die Minister aan wie die Raad toe verantwoordelik was. Uit hierdie verslag was dit duidelik dat die Komitee diep onder die indruk van die geesdrif, toewyding, vermoë en integriteit van die wetenskaplikes en hulle geïnspireerde leiers gekom het.
Die Komitee het bevind dat die vooruitgang gedurende die twee jaar wat hulle ondersoek onmiddellik voorafgegaan het, besonder treffend was en in besonder dat die probleme eie aan die gebruik van UF6 in so 'n mate oorkom is dat 'n groot aanleg ontwerp en opgerig kon word. Hulle het van die voordele van die nuwe proses kennis geneem, nl. die hoë skeidingsfaktor, die moontlike verhoging van die waarde van die republiek se uraan en van die besparing wat die gebruik van verrykte brandstof in kernkragsentrales kon meebring. Die gevolgtrekking was dat dit ten spyte van die nadele wat aan die toepassing van enige nuwe proses eie is, nogtans voorgekom het asof die Suid-Afrikaanse proses ontwikkel kon word vir toepassing in 'n grootskaalse aanleg wat gunstig, sowel ten opsigte van kapitaal- as bedryfskoste, met bestaande aanlegte elders sou vergelyk. Dit was die Komitee se mening dat 'n aanvooraanleg voor 'n volskaalse aanleg opgerig moes word om eers die nuwe proses op 'n veel groter skaal te beproef as wat in die laboratorium moontlik was. Die gevolge van sodanige stap was, sowel finansieel as internasionaal, baie beduidend en om hierdie en verskeie ander redes is dit nie verbasend dat die regering gedurende daardie jaar geen finale beslissing geneem het nie.
Tussenbesprekings met die Minister van Finansies, dr N Diederichs, het hom egter van die deugsaamheid van die Komitee se beskouinge oortuig. Mnr B J Vorster, op wie die mantel van Eerste Minister intussen geval het, het soos sy voorganger, dr Verwoerd, duidelik die belangrikheid en gewigtigheid van die verrykingsprojek ingesien. Onder sy leiding en met die steun van dr Diederichs was die Kabinet op 11 Februarie 1969 sterk ten gunste van die Van Eck-aanbevelings en het die nodige geld gestem, nie slegs vir die oprigting van 'n volledige aanvooraanleg nie, maar ook vir voortsetting van die navorsing gedurende die tydperk 1969 tot 1974.
Daardie jaar was 'n jaar van geweldige bedrywigheid. Met die groen lig aan, moes beduidende getalle nuwe personeellede gewerf word. 'n Voltydse topbestuur is onder leiding van dr Grant aangestel. Gelyktydig moes 'n heroriëntering van benadering plaasvind want die suiwer wetenskaplike aard van die verrykingsgroep het nou tot een met 'n meer industriële geaardheid verander waarin ekonomiese faktore 'n oorwegende rol sou speel want die aanvooraanleg moes bewys dat die Suid-Afrikaanse proses ekonomies met buitelandse prosesse kon meeding.
Gevolglik het massaproduksiemetodes vir die vervaardiging van skeidingselemente byvoorbeeld hoë voorkeur geniet. Dit het nie lank geduur voordat die besonderhede van die aanvooraanleg begin het om vaste vorm aan te neem nie, en die datum vir die aanvang van oprigting het vinnig nader gekom. Die Roberts Construction Co. is as bestuursmaatskappy en oprigtingskontrakteur aangestel. Hierdie keuse is daardeur beïnvloed dat die maatskappy sowat tien jaar vantevore die hoofkontrakteur van die navorsingsreaktor SAFARI-1 was en dus oor meer as 'n oppervlakkige kennis van die streng vereistes van die kernbedryf beskik het. Daar is in hoogste versnelling met die beplanning van die nuwe aanleg voortgegaan met die benadering dat dit as die grondslag vir die beplanning van 'n handelsaanleg sou dien indien verdere navorsing en ontwikkeling sou aandui dat sodanige onderneming mededingend met buitelandse verrykingsaanlegte sou wees.
Dit was onvermydelik dat steeds meer organisasies en persone buite die RAK, by die voorlopige werk betrokke sou raak en gevolglik het dit toenemend moeiliker geword om die aard van die bedrywighede geheim te hou. Eerlank sou honderde werkers die uitgesoekte terrein binneval en op daardie stadium sou dit onvermydelik wees om te voorkom dat los praatjies die rondte doen en die doelstelling met die projek bekend sou word. Daar is met die Eerste Minister oorleg gepleeg en hy het besluit dat die aankondiging gedoen moes word. Daarna het sy historiese verklaring in die Parlement gevolg wat, nie onverwags nie, wêreldwye aandag getrek het en alle denkbare reaksies, behalwe onverskilligheid, uitgelok het.
Die kommentaar van die wetenskaplike gemeenskap het van egte belangstelling tot uitgesproke skeptisisme gewissel. Op die politieke front was die kommentaar grootliks voorspelbaar met kritici en anti-Suid-Afrikaanse liggame wat doelbewus die republiek se vredesmotiewe in twyfel getrek het ten spyte van die Eerste Minister se uitgesproke uitnodiging aan ander lande om seaam te werk met die toepassing van die proses.
As deel van sy aankondiging het mnr Vorster aangedui dat die regering van voorneme was om wetgewing in te dien om 'n korporasie vir uraanverryking op te rig. Inderdaad is die Wet op Verryking van Uraan deur die Parlement aanvaar en gedurende die daaropvolgende maand, Augustus 1970, deur die Staatspresident onderteken. Daardeur het die Uraanverrykingskorporasie van Suid-Afrika Beperk, kortweg as UKOR bekend, op 16 November 1970 met 'n aandelekapitaal van R50-miljoen ontstaan.
Die aandele mag slegs deur die Staat opgeneem word en is nie oordraagbaar nie. Dr A J A Roux het Voorsitter van die Raad van Direkteure geword. Die personeellede van die Raad op Atoomkrag wat met uraanverryking besig was, is na UKOR oorgeplaas en het dus hulle verbintenis met die Raad verbreek. Daar was egter nie in alle opsigte 'n totale skeiding tussen die twee organisasies nie want hulle terreine lê naasmekaar en dit was gevolglik veel praktieser en doeltreffender om sekere dienste gemeenskaplik voort te sit.
Vervolg...