'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (10)

WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig

Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser

"Ten spyte van die Republiek se herhaalde verklarings dat sy kernprogram uitsluitlik op vredesgebruike toegespits was, is gifpropaganda naarstiglik deur die land se vyande versprei. Hierdie gifpropaganda het wrange vrugte afgewerp. Die brandstoftoevloei uit die VSA vir die navorsingsreaktor SAFARI-1 het sonder verduideliking opgedroog. Dit het op sy beurt aanleiding gegee tot twyfel oor die voorsiening van brandstof vir die Koeberg-kernkragsentrale wat aan die einde van 1982 in bedryf gestel moes word."

Valindaba

So spoedig moontlik nadat redelike sekerheid oor die daarstelling van die uraanverrykingsaanvooraanleg verkry is, is 'n terrein daarvoor gekies. Daar was baie goeie redes waarom UKOR digby die RAK geleë moes wees en aangesien daar in die vroeë sestigerjare met die keuse van die Pelindaba-terrein doelbewus besluit is om 'n ylbevolkte gebied te kies, was daar genoeg ruimte vir die nuwe korporasie in die onmiddellike omgewing van die RAK. Ten spyte van die geologiese tekortkominge het die gebied wat uiteindelik op die grens van Pelindaba gekies is aan die vereistes voldoen. Dit het genoeg afsondering van nuuskierige verbygangers gebied terwyl 'n versigtige keuse van die bougebiede beskikbare geologiese formasies sou benut wat swaar laste kon dra. Die simboliese begin van boubedrywighede was 'n eenvoudige gebeurtenis sonder publisiteit, amper soos 'n familie-uitstappie.

Op 13 November 1970 het 'n paar manne hulle weg langs'n stowwerige plaaspad in die vallei gevind. Dr Roux en dr Grant het die lang gras opsy gedruk en elk 'n graaf geneem en 'n paar grawe vol grond uit die veld gespit wat reeds deur die vroeë somerreëns sag gemaak is. Nog sonder naam het die versteekte vallei vinnig tot 'n byekorf van kontrakteurs verander en die vreedsame, verstrooide bome en gras moes vir die stewels van arbeiders, die dreunende uitgrawingsmasjiene en 'n menigte bouershutte plek maak. Soos dit gebruiklik is vir kerninrigtings dwarsoor die wêreld moes hierdie plek ook 'n eie onderskeidende naam kry. 'n Lang tyd is heelwat aandag daaraan gewy om een te vind.

Soos so dikwels gebeur, het daar uiteindelik inspirasie gekom as gevolg van eenvoudige redenering — die vraag `wat gebeur hier?' is gevra. Die antwoord was natuurlik `ons praat nie daaroor nie'. Deur dieselfde idioom as in die geval van Pelindaba te gebruik, is die nuwe terrein Valindaba genoem; 'n samevoeging van twee woorde wat gemeen is aan baie van die sewentig stuks inheemse tale in die suidelike punt van die Afrika-vasteland. Die twee woorde was 'vala' en `indaba' wat onderskeidelik `om af te sluit' en `die beraad' beteken. Die woord Valindaba beteken dus eintlik die beraad is afgesluit en by wyse van uitbreiding 'hieroor word nie gepraat nie'. Sommige terggeeste het daarna na die perseel as 'geen kommentaar' verwys. Hoewel laasgenoemde uitdrukking se gebruik van korte duur was, was dit nietemin 'n besonder beskrywende term sover dit die groot getal mense aangegaan het wat by die projek betrokke was.

Die sekuriteit was van die beste en een van die weinig oorblywende, oorspronklike lede van die sekuriteitsmag van daardie tyd vertel met smaak hoe die Generaal-majoor wat aan die hoof van die Afdeling Sekuriteit gestaan het, in alle erns ná normale werksure toegang geweier is toe hy op 'n onaangekondigde besoek daar opgedaag het.

Die formele ingebruikneming van Valindaba het teen die middel van Augustus plaasgevind, minder as 'n jaar nadat die terreinontwikkeling aangepak is. Teen daardie tyd was goeie vordering reeds met verskeie geboue gemaak en Eerste Minister John Vorster het in sy toespraak na die Parlement verwys waarin hy klem gelê het op Suid-Afrika se gewilligheid om sy kundigheid en kennis met ander goedgesinde volke te deel —'n aspek wat toe reeds heelwat aandag ontlok het want daar was veel ten gunste van internasionale samewerking ten opsigte van die toepassing van die proses te sê. Die oprigting van 'n volskaalse uraanverrykingsaanleg in Suid-Afrika sou 'n stimulerende uitwerking op die plaaslike vervaardigingsbedryf hê en dit aanmoedig om veel beter gebiede te betree as dié waartoe dit homself tot op daardie stadium beperk het.

Dr Roux het hierdie doelstelling deurgaans bestendig gehandhaaf vanaf die tyd toe hy die eerste kernnavorsingsprogram opgestel het. Bowendien sou die besit van beduidende verrykingsvermoë dit moontlik maak om al Suid-Afrika se uraan, waarvan die grootste gedeelte vir uitvoer bedoel was, te verryk met enorme gepaardgaande ekonomiese voordele en die versekering van 'n aansienlike inkomste aan buitelandse valuta. Buitelandse deelname is in der waarheid as feitlik noodsaaklik vir die oprigting van 'n volskaalse aanleg beskou omdat die eise wat dit aan mannekrag en finansiële en vervaardigingshulpbronne sou stel so groot was dat dit buite die land se vermoë sou val en die Republiek swaar op die buitelandse vennoot of vennote sou moes leun om hierdie eise die hoof te bied. Die voordele wat uit die oprigting van 'n volskaalse aanleg verkry kon word, was egter nie eensydig nie want sodanige samewerking sou die buitelandse deelnemers 'n versekerde toevoer van verrykte uraan vir die toekoms waarborg en, afgesien van toegang tot die geheime tegnologie van die proses, kon hulle verwag dat die uitruil van gedagtes tussen wetenskaplikes en tegnoloë uiters vrugbaar sou wees.

Met oorwegings van hierdie aard in gedagte, is voorlopige voelers teen die middel van 1970 uitgesteek. Die reaksie was so positief en belowend as wat gehoop kon word. Van die kant van die Westerse lande was daar 'n lewendige belangstelling in die UKOR-proses en in die moontlikheid om 'n kommersiële verrykingsaanleg as 'n internasionale onderneming te bou. Die gevolg van hierdie belangstelling was 'n toenemende stroom belangrike en invloedryke buitelandse besoekers aan Pelindaba. Hierdie belangstelling was so belowend dat UKOR 'n filiaalmaatskappy, ISASA (Edms) Bpk, kragtens die Wet op Maatskappye geregistreer het om as die Suid-Afrikaanse aandeelhouer in enige internasionale bedryfsmaatskappy op te tree wat moontlik tot stand kon kom. In 1970 het die eerste benadering tot gesamentlike ontwikkeling met lande in die buiteland die begin van 'n ses jaar tydperk van delikate samesprekings ingelui wat die uiterste finesse en diplomasie geverg het—'n taak wat die Eerste Minister self aan dr Roux persoonlik opgedra het. Na ongeveer drie jaar van onderhandeling is soveel vooruitgang gemaak dat 'n begin met konkrete onderhandelings met een potensiële vennoot gemaak kon word met die doel om 'n gesamentlike uitvoerbaarheidstudie oor die oprigting van 'n kommersiële verrykingsaanleg in Suid-Afrika te onderneem.

Die resultaat van hierdie studie was 'n triomf en 'n regverdiging van die geloof in die nuwe proses wat dr Grant en sy kollegas onverminderd gehandhaaf het. Die ondersoek het getoon dat daar op daardie stadium geen twyfel bestaan het nie dat die proses in die omstandighede wat toe in Suid-Afrika geheers het, ten volle mededingend met ander prosesse van daardie tyd elders in die wêreld sou wees en dat daar vooruitsigte was om die doeltreffendheid daarvan nog verder te verhoog.

Groot belangstelling in en geesdrif vir die nuwe ontwikkeling kon duidelik dwarsdeur die range van wetenskaplikes en ander deskundiges in die verrykingsveld bespeur word en gedurende besoeke van UKOR-beamptes aan ander ontwikkelde lande het hulle onder die indruk daarvan gekom dat die ongeloof waarmee die eerste aankondiging oor die proses ontvang is, grootliks verdwyn het. Suid-Afrika se bydraes op internasionale vergaderings is nie meer skeef aangekyk of met beleefde ongeloof behandel nie en talle internasionale publikasies het nie gehuiwer om die UKOR-proses te erken as 'n proses wat net so uitvoerbaar was as sowel gasdiffusie of die gassentrifugestelsel nie.

'n Hoogtepunt is in April 1975 bereik toe dr Roux en dr Grant op die Europese Kernkonferensie in Parys 'n bydrae gelewer het. In hierdie bydrae is in hulle eie woorde 'die sluier ietwat gelig' en die eerste maal is besonderhede van die proses in die openbaar beskikbaar gestel. Enige twyfel wat oor die intense belangstelling in die UKOR-ontwikkeling kon bestaan het, is verdryf deur die bywoning toe die tyd vir dr Roux se spreekbeurt aangebreek het. Elke beskikbare sitplek in die saal was beset en selfs die gang buitekant was met afgevaardigdes gepak wat ore gespits het om selfs net 'n gedeelte op te vang.

Na 'n kort historiese inleiding het dr Roux dadelik weggeval met 'n beskrywing van die proses en sommige van die voordele daarvan genoem soos dat die druk dwarsdeur die stelsel altyd gemaklik bo atmosferiese druk sou wees, dat die gedeeltelike druk van die UF6 nogtans laag genoeg was om prosesverwarming gedurende bedryf onnodig te maak en dat die maksimum kompressorleweringstemperatuur 75 °C was. Hy het verder uitdruklik die aandag op die inherente hoë skeidingsfaktor van tussen 1,025 en 1,030 oor 'n element gevestig. Daarna het hy die wese van die helikonkaskadetegniek onthul. Hierdie tegniek is ontwikkel om die beginsel aan te wend dat 'n aksiaalvloeikompressor gelyktydig verskeie strome met verskillende isotopiese samestellings kan deurlaat sonder dat beduidende menging tussen hulle plaasvind. 'n Lewendige bespreking het net na die aanbieding gevolg. Gedurende die bespreking was daar tekens van bitterheid by 'n klein gedeelte van die gehoor te bespeur wat gepoog het om die oorspronklikheid van die proses in twyfel te trek. Rustig in die wete dat die begrip en daaropvolgende ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse proses niks aan ander verrykingstelsels te danke gehad het nie, is dr Roux nie deur hierdie bewerings geraak nie. Dr Roux het dikwels opgemerk: "Alhoewel daar heel aan die begin dalk gemeenskaplike kenmerke kon wees, is die UKOR-proses in sy ontwikkelde vorm net so ver van enige ander verrykingsproses verwyder as die noordpool van die suidpool".

Hierdie eerste onthulling van besonderhede van die proses is deur ander gevolg waarvan veral een teen die einde van 1976 aan die verstrekking van voile besonderhede oor die helikonkaskadetegniek gewy is. As erkenning vir die hoë aansien van UKOR, is dr Grant persoonlik uitgenooi om 'n vergadering in Chicago toe te spreek. Ná dr Grant se toespraak het prof Manson Benedict van die Massachusetts Institute of Technology hom in kennis gestel dat dit sy voorneme was om die teorie van die helikontegniek in sy gevorderde kursusse in te sluit. Sodanig was dan die trefkrag en internasionale erkenning van Valindaba se pionierswerk.

Verdere bevestiging van die potensiaal van die proses het etlike maande later op die konferensie van die IAEA in Salzburg aan die lig gekom. Toe dr Roux in Parys die oorgang tot 'n volskaalse aanleg bespreek het hy onthul dat die ontwerp van 'n prototipe module van 6 t/a reeds voltooi was, d.w.s. van 'n skeidingseenheid wat uit een stel kompressors en een stel skeidingselemente bestaan het. Verdere ontwikkelingswerk het dit moontlik gemaak om die vermoë van die prototipe module tot iets meer as 10 t/a te verhoog — 'n verbetering van ongeveer 70%.

Navorsing, ontwikkeling en bouwerk het intussen op Valindaba voortgegaan en in 1977, na sewe jaar van toegespitste bedrywigheid, kon die kontrakteurs die terrein ontruim. Alhoewel al die blokke waaruit die aanvooraanleg bestaan op 31 Januarie in kaskade geskakel is, kon die finale inbedryfstelling van die aanleg, waarvan 'n deel reeds sedert ongeveer twee jaar vantevore in bedryf was, nou aangepak word. Dit was nie sonder probleme nie. Een vir een is die hindernisse egter oorkom en op Vrydag 4 Maart 1977 was die aanvooraanleg in volle bedryf tesame met die toevoer- en produkafvoergeriewe. Die hele kompleks was toe beskikbaar en is bedryf soos 'n aanvooraanleg bedryf behoort te word — om voorspellings te bevestig, bedryfsgegewens vir optimering te versamel en om vas te stel waar daar nog probleemgebiede is.

Terwyl die vaardigheid en vermoë van die Suid-Afrikaanse kernwetenskaplikes en ingenieurs besig was om die goedkeuring van tegniese manne van lande oor die hele aardbol te wen, was onheilspellende donker wolke besig om op die politieke toneel saam te pak. In die noorde is beleërde Rhodesië, self 'n brandpunt van internasionale twis, se twee buurstate Angola en Mosambiek deur regerings oorgeneem wat in staat was om anti-Suid-Afrikaanse gevoelens aan te blaas.

'n Wêreldpers wat op sensasie ingestel is, het die Soweto-onluste aangegryp, oordryf en buite verhouding verwring. Die sluiting van die kontrak vir die Koebergkernkragsentrale het 'n sinlose, histeriese reaksie aan die lande van die Derde Wêreld ontlok. Lande in die Westerse Wêreld wat normaalweg vriendskaplik teenoor Suid-Afrika gesind was, het die verslegtende politieke stabiliteit in Suidelike Afrika met besorgdheid oor hulle eie belang gade geslaan en het oornag teensinnig geword om met Suid-Afrika saam te werk of langtermynverpligtinge in Suid-Afrika aan te gaan.

Ten spyte van die Republiek se herhaalde verklarings dat sy kernprogram uitsluitlik op vredesgebruike toegespits was, is gifpropaganda naarstiglik deur die land se vyande versprei. Hierdie gifpropaganda het wrange vrugte afgewerp. Die brandstoftoevloei uit die VSA vir die navorsingsreaktor SAFARI-1 het sonder verduideliking opgedroog. Dit het op sy beurt aanleiding gegee tot twyfel oor die voorsiening van brandstof vir die Koeberg-kernkragsentrale wat aan die einde van 1982 in bedryf gestel moes word. Dit was ook duidelik dat daar nie op buitelandse deelname in 'n volskaalse verrykingsaanleg staatgemaak kon word nie en dat die land dus op sy eie nywerheidspotensiaal sou moes steun om die hoogs gesofistikeerde toerusting vir sodanige aanleg te lewer wat die buiteland nie meer gewillig was om te voorsien nie. Soos in die buiteland die geval was, het ook die binnelandse ekonomiese toestande die enorme kapitaalinvestering wat vir so 'n groot aanleg nodig is, onmoontlik gemaak.

Teen hierdie agtergrond moes besluite oor die verdere uitvoering van UKOR se program geneem word wat natuurlik reeds 'n beduidende momentum opgedoen het, want ongeveer twee jaar vantevore het die Minister in sy aankondiging dat in beginsel besluit is om 'n groot verrykingsaanleg te bou, die jaar 1978 as die jaar genoem waarin die grootte en plasing van die nuwe aanleg vasgestel sou word. Onsekerheid by die publiek is in Februarie 1978 verwyder deur 'n verklaring deur die Minister van Mynwese wat bevestig het dat die ontwikkelingswerk so suksesvol was dat 'n uitbreiding van Suid-Afrika se verrykingsvermoë onderneem kon word. Hy het daarop gewys dat daar, in die lig van heersende omstandighede, besluit is dat eerder as om met die oprigting van 'n geheel afsonderlike aanleg te begin, die volgende stap sou wees om die aanvooraanleg te Valindaba tot 'n produksie-aanleg uit te brei wat in staat sou wees om met verloop van tyd aan die behoeftes van die Republiekte voldoen. Die uitbreiding sou van die helikonbeginsel gebruik maak en verder die tegnologie toepas wat deur die oprigting van die prototipe module ontwikkel is. Die oprigting van 'n groter aanleg sou oorweeg word sodra die uitbreidingsfase agter die rug was.

Teen die tyd dat hierdie aankondiging gedoen is, was UKOR reeds oorgehaal om sonder versuim die nuwe uitdaging die hoof te bied. 'n Aansienlike hoeveelheid beplannings- en ontwerpwerk was reeds voltooi en voorlopige onderhandelings met kontrakteurs was aan die gang. Dit was nie slegs die manne en vroue van UKOR wat, op grond van hulle kosbare ondervinding met die ontwikkeling en afhandeling van die aanvooraanleg, in 'n veel sterker posisie was as dié waarin hulle hul ongeveer agt jaar vantevore bevind het nie, maar ook die Suid-Afrikaanse nywerheid was op 'n veel hoër peil van verfyndheid waardeur dit meer as in staat was om die lewensbelangrike toerusting te vervaardig. Nie minder nie as 235 verskillende nywerheidsondernemings het hulle deskundigheid en vaardigheid tot die ontwerp en oprigting van nuwe en vreemde masjiene en instrumentasie vir die aanvooraanleg bygedra. Deur moeilike en frustrerende uitdagings die hoof te bied, het hierdie ondernemings hulle bekwaamhede en vermoës onmeetbaar verhoog.

Nadat die stootskrapers en uitgrawers die grond by Valindaba gelykmaak en op ander plekke nuwe heuwels gebou het, was van dieselfde firmas hard besig met die vervaardiging van benodigde komponente. Die uitbreidings wat ten ooste van die Valindaba-aanvooraanleg verrys het en wat, volgens program, in die middel-tagtigerjare in bedryf sou wees, was veel kleiner as 'n volskaalse handelskompleks, maar verteenwoordig nietemin 'n klinkende oorwinning vir die Suid-Afrikaanse wetenskap en tegnologie en in die besonder vir die twee manne wat 'n denkbeeld in 'n projek omskep het wat die wêreld se respek afdwing — dr Ampie Roux en dr Wally Grant. Slegs vir hul bydraes tot die vroeë ontwikkeling van die UKOR-proses is die Hendrik Verwoerd-toekenning gesamentlik in 1971 aan hulle toegesê — 'n onderskeiding wat "vir uitstaande diens van nasionale betekenis" toegeken is.. Uit die lang verbintenis van hierdie twee meganiese ingenieurs het een van die Republiek se voortreflikste prestasies voortgespruit — 'n prestasie van betekenis vir sowel Suid-Afrika as vir die internasionale gemeenskap.

Vervolg...