'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (16)

WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig

Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser

OM DIE MENIGTE TE VOED

"Hierdie kerntoepassing kry dwarsoor die Ontwikkelende Wêreld waar ondervoeding en hongersnood elke jaar toeneem, steeds meer momentum. Dit is stellig geen oordrywing om te sê dat Suid-Afrika een van die leiers op hierdie gebied was nie en moontlik een van die grootste sou word indien ons nie onder 'n swart regering en die geldmag-hiërargie gedwing was om ons kernprogram te staak nie."

Met die ontdekking van kernklowing was dit moontlik om Iets te doen wat in vroeër dae as toorkuns beskou sou word, naamlik om een metaal tot 'n ander totaal verskillende metaal te omvorm. Namate die nuwe wetenskap ontwikkel het, het ander opsienbarende moontlikhede van kernenergie aan die lig gekom — moontlikhede wat ook as `toorkuns' bestempel kon word.

Deur middel van kernenergie is dit moontlik om die eienskappe van gewone stowwe te verander, om nuwe samestellings te vorm, om nuwe variëteite van vrugte en groente te skep, om bederfbare voedsel te preserveer en om bakteriese besmetting van mediese toerusting uit te skakel sonder dat dit nodig is om'n enkele artikel uit te pak. Hierdie vertakking van kernwerk word stralingstegnologie genoem. Dit is, soos sy onderliggende fundamentele dissipline naamlik stralingschemie, 'n veld wat vinnig ontwikkel het en wat sy buiging in die suiwer handelsarena in Suid-Afrika sou maak.

Beginnende met die vroeë pionierswerk met 'n primitiewe bestraler waarin 'n uitgediende teleterapie-kobaltbron gebruik is, het die navorsing op Pelindaba van krag tot krag ontwikkel. Die hoogs bedrewe groep wetenskaplikes wat die nouste samewerking met hulle eweknie in die Departement Landbou-Tegniese Dienste gehandhaaf het, het oor al die deskundigheid en kennis wat nodig is beskik om die nywerheid in staat te stel om die jare van navorsing tot handelswerklikhede te omskep. Genoemde staatsdepartement het hierdie gebied in der waarheid reeds in die middelvyftigerjare betree, d.w.s. nog voor die RAK se program aan die gang gekom het. Hulle het die belangrikheid van radioisotooptoepassings in die landbou besef en, gesien die belangrikheid van landbou vir Suid-Afrika waar dit so 'n belangrike deel van die landsekonomie uitmaak, het hulle met verskeie projekte begin waarin radioisotope as 'n ondersoekhulpmiddel aangewend is.

Erkenning kom die destydse Vrugtenavorsingstasie van die Westelike Provinsie, later die Navorsingsinstituut vir Vrugte en Vrugtetegnologie (NIVV) op Stellenbosch toe omdat hy die voortou geneem het toe dr P G Marais, sy voorganger as Direkteur van die Instituut oorreed het om'n isotoopnavorsingseksie in die lewe te roep. Dr Marais en sy kollegas het van geesdrif oorgeborrel en die gebruike van radio-isotope as spoorders ondersoek. Onder andere is die eerste keer vasgestel hoeveel fosfaat in die grond vir plante toeganklik was. Hulle het bewys dat daar geen migrasie van fosfaat in die grond plaasvind nie en ook talle ander gapings in ons kennis aangevul. Hulle het die eerste neutronvogmeter vir die bepaling van grondvog ontwerp en gebou. Daarna het die Instituut Suid-Afrika se eerste kobaltbestralingsbron vir landboudoeleindes aangeskaf en dit op grond- en insektesterilisering en vir die ondersoek van die bestraling van vrugte en groente toegepas. Kortom was dr Marais met sy voortdurende belangstelling in die menging van fisika en landbou en met sy lang en noue verbintenisse met dr Roux en die Raad op Atoomkrag, een van Suid-Afrika se wetenskaplike pioniers op die gebied van die toepassing van kerntegnieke op die landbou.

Ander institute van die Departement van Landbou-Tegniese Dienste het programme om die sogenaamde sterielemannetjie-tegniek as 'n metode vir selektiewe insekbestryding te ondersoek, van stapel laat loop. Die RAK was self ten nouste met hierdie ondersoeke gemoeid en het 'n uitgebreide veldondersoek in samewerking met die sitruslandgoed op Zebedela onderneem. In wese bestaan die sterielemannetjie-tegniek uit die bestraling van manlike insekte tot subdodelike dosisse om sodoende steriliteit te veroorsaak. Hierdie insekte word daarna in die omgewing vrygelaat waar hulle met vrugbare insekte om die wyfies meeding en sodoende die getal suksesvolle parings verminder. Deur groot getalle steriele mannetjies met reëlmatige tussenpose vry te laat, word die inheemse insektebevolking in getalle oortref en die getal lewensvatbare parings word progressief verminder totdat die spesies uitgeroei is. 'n Groot voordeel van hierdie tegniek is dat dit, anders as in die geval van chemiese gifstowwe, op 'n bepaalde spesie toegespits word en die ekologiese uitwerking gevolglik minimaal is. Die resultate van die verskeie ondersoeke was hoogs bemoedigend en het veel belofte vir die toekoms ingehou.

Op 'n heel ander gebied van stralingstoepassing wou dit voorkom asof daar aansienlike potensiaal vir die gebruik van straling is om mutasies te skep wat belangrik in die kweek van plante mag wees. Die merkwaardige welslae wat in hierdie verband in ander lande behaal is, was voldoende aanmoediging om die werk voort te sit. Opwindende ontwikkelinge kon ook op die verwante gebied van saadbestraling om ontkieming te vergemaklik, verwag word.

Hierdie kerntoepassing kry dwarsoor die Ontwikkelende Wêreld waar ondervoeding en hongersnood elke jaar toeneem, steeds meer momentum. Dit is stellig geen oordrywing om te sê dat Suid-Afrika een van die leiers op hierdie gebied was nie en moontlik een van die grootste sou word indien ons nie onder 'n swart regering en die geldmag-hiërargie gedwing was om ons kernprogram te staak nie. Daar is verskeie redes vir hierdie leiersposisie, maar die belangrikste was waarskynlik die byna unieke posisie van die Republiek in die opsig dat dit die meeste van die kosbederfprobleme met die Ontwikkelende Wêreld gedeel het terwyl dit terselfdertyd oor tegnologiese deskundigheid gelyk aan dié van die ontwikkelde volke beskik.

Erkenning van die betekenis van hierdie toestand het die Departement van Landbou-Tegniese Dienste tesame met die RAK aangemoedig om energieke steun aan hierdie ondersoeke en aan die vorming van 'n begaafde, multidissiplinêre span, met die modernste geriewe toegerus, te verleen. Hierdie benadering was uiters nodig want alhoewel Suid-Afrika 'n wetenskaplik georiënteerde landboustelsel gehad het, is nogtans geraam dat 40 % van die landbouproduksie — toe teen ongeveer R25-miljoen gewaardeer - elke jaar verlore gegaan het. Dit was duidelik dat dit nie geduld kon word nie en die voedselbestralingsprogram sou die Republiek in staat te stel om nie slegs sy eie verliese te verminder nie, maar terselfdertyd die tegnologie aan ander lande met soortgelyke klimate en verwante probleme te toon.

Ioniserende straling het drie belangrike eienskappe wat in hierdie metode van voedselbewaring aangewend kon word, naamlik sy teenbakteriese uitwerking wat die uitskakeling van voedselbederfpatogene moontlik maak, sy indringvermoë wat veroorsaak dat straling sy uitwerking diep binne-in reeds verpakte voedsel uitoefen, en in die derde plek, die afwesigheid van enige noemenswaardige temperatuurverhoging wat meebring dat sensitiewe voedsel behandel kon word sonder dat dit gekook word. Hierdie gebruik van straling het twee bykomende voordele, naamlik 'n aansienlik kleiner vraag na elektriese energie en die potensiële vermindering van die gebruik van swam- en insektedoders met 'n gevolglike vermindering van omgewingsbesoedeling deur chemikalieë.

Die vroegste werk oor voedselbestraling is met 'n plaaslik ontwerpte en vervaardigde kobalt-60-bron by die NIVV uitgevoer maar met verloop van tyd is die bedrywighede van die Instituut aan bande gelê deur die beperkte vermoë van hierdie bron, en selfs toe die aktiwiteit in 1970 tot 5 000 Ci verhoog is, was dit nog nie moontlik om die hoeveelheid materiaal wat vir 'n indringende kommersiële en tegnologiese ondersoek nodig was, te behandel nie. Daar het 'n verbetering in hierdie posisie gekom toe die RAK besluit het om 'n groot bestralingsgerief op Pelindaba op te rig. Na talryke vergaderings met die Departement van LandbouTegniese Dienste is 'n nasionale program vir die toepassing van bestraling in die landbou op gestel wat deur 'n multidissiplinêre span, met Pelindaba as hoofkwartier, uitgevoer sou word wat in noue samewerking met gesekondeerde personeel van die NIVV en die Navorsingsinstituut vir Sitrus en Subtropiese Vrugte (NIssv) van Nelspruit sou werk. Toe die voorkeure vasgestel is, is besluit om op daardie gebiede toe te spits waar stralingsprosessering 'n aansienlike ekonomiese voordeel sou meebring en waar dit tot die oplossing van belangrike na-oesprobleme kon bydra.

Die hoofgebiede waarop in daardie vroeë stadium besluit is, was die verlenging van die rakleeftyd van subtropiese vrugte met die oog op die uitbreiding van uitvoermarkte en uitloopvertraging by aartappels wat vir die aartappelverwerkingsbedryf bestem was. Gelyktydig met hierdie tegnologiese ondersoeke is 'n program in noue samewerking met die Departement van Gesondheid oor die wetlike aspekte aangepak met die doel om goedkeuring vir die onbeperkte verkoop van bestraalde aartappels vir huishoudelike gebruik te verkry. Aandag is terselfdertyd ook aan die probleem verleen om die internasionale klarings te verkry wat nodig sou wees voordat behandelde vrugte uitgevoer kon word. Weens die belangrikheid van hierdie vereiste het Suid-Afrika in 1970 by die Internasionale Projek op die Gebied van Voedselbestraling aangesluit en in 1974 daarin geslaag om hierdie Projek van die belangrikheid daarvan te oortuig om die heilsaamheid van bestraalde veselperskes deur middel van duur, dierevoedingsondersoeke oor die lang termyn vas te stel. 'n Vaste bewys van die veiligheid van bestralingsbehandeling van hierdie en, by wyse van ekstrapolering, ander subtropiese produkte, sou goedkeuring van die invoerlande vir die verkoop van behandelde vrugte grootliks vergemaklik.

Gedurende die daaropvolgende jare het die grootte en omvang van die algehele program beduidend gegroei met die byvoeging van uie, knoffel, speserye, aarbeie, hoendervleis en rooivleis tot die lys van kommoditeite wat bestudeer is en met die aanvang van 'n projek insake inseksterilisering en vrylating met die doel om die verwoesting deur die kodlingmot in sitrusboorde te bekamp.

Oor die algemeen was die resultate van die verskeie produkwaarderings uitstekend, en veral in die geval van die subtropiese vrugte, wou dit voorkom asof bestraling die meeste van die probleme wat met uitvoere ondervind word, te bowe kon kom. Waardebepalings, na spoorweg- of padvervoer van hierdie subtropiese produkte, is gelyktydig by die NIVV, Pelindaba en Tzaneen, waar die Letaba-koöperasie'n geesdriftige vennoot in die program geword het, deurgevoer. Die evaluasies was so belowend dat die Koöperasie aangebied het om veselperskes vir 'n proefversending na die buiteland te voorsien sodat die metode onder werklike uitvoeromstandighede getoets kon word. Vir hierdie proef is die samewerking van die Instituut vir Atoomwetenskappe in die Landbou te Wageningen in Nederland verkry en is 'n ooreenkoms oor die uitruiling van bestraalde produkte tussen die twee lande aangegaan.

Terselfdertyd is 'n versoekskrif aan die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid gerig om 'n voorlopige klaring vir die beperkte verkoop van bestraalde veselperskes te verkry. Dit is toegestaan en op grond van hierdie klaring het die Nederlandse Gesondheidsowerhede regulasies vir die invoer en menslike verbruik van die proeflot veselperskes uitgevaardig. Die werklike verskepingsproef het vroeg in 1975 plaasgevind en het daarin bestaan dat 60 kissies veselperskes (met die insluiting van onbehandelde kontrolevrugte saam met die bestraalde vrugte) per spoor na Kaapstad vervoer is, daarvandaan per skip na Southampton en toe per pad en seeveerboot na Wageningen. Daar is hulle vir swamsiekte, rypheidsgraad en organoleptiese eienskappe ondersoek. Die uitslag van hierdie toets het duidelik getoon dat daar 'n verskil was tussen die behandelde vrugte wat oor die algemeen in 'n goeie toestand was, en die kontrolevrugte wat hoofsaaklik onbemarkbaar was.

Vervolg...