'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (18)

WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig

Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser

Geneeskunde (1)

" 'n Baie beduidende gevolg van die RAK se navorsing in die lewenswetenskappe wat noue samewerking met die H F Verwoerdhospitaal in Pretoria en die Transvaalse Provinsiale Administrasie meegebring het, is die gesofistikeerde geriewe wat later in hospitale beskikbaar gestel is wat duisende mense se lewens bevoordeel het tot hierdie voorreg onder 'n  onbevoegde swart regering nou byna totaal vernietig en ons hospitale in die haglikste toestande is...   ... Die bestek van mediese navorsing was so wyd dat dit mag voorkom of sommige van die prestasies van RAK-werkers op hierdie gebied geen verwantskap met kernenergie het nie, maar in elke geval was die kernkennis en kernvaardigheid van die wetenskaplikes vir die sukses van elke projek noodsaaklik. "

Weinig mense sal ontken dat baie van die ingrypende vooruitgang in die biologiese wetenskappe nie sonder die hulp van radioisotope en straling moontlik sou gewees het nie. Van fundamentele navorsing na die geheime van lewende materie tot by diagnostiese en terapeutiese geneeskunde, het hierdie uitvloeisels van kernenergie hulp van onskatbare waarde aan die mediese beroep gelewer. Die RAK het in Suid-Afrika die leiding geneem toe die eerste navorsingstoekenning op mediese gebied vir 'n ondersoek van heelliggaambestraling, en die gevolglike beenmurgskade by mense, met die geesdriftige aanmoediging van een van sy raadslede, prof S F Oosthuizen, gedoen is. Prof Oosthuizen is op 'n baie vroeë stadium, selfs nog voor die nasionale navorsingsprogram goedgekeur is, op grond van sy uitstaande kennis en ondervinding van die geneeskunde en, die besef van die belangrikheid van hierdie gebied vir kernenergie, as lid van die Raad gekoöpteer. Hy het elke geleentheid benut om aan sy oortuiging uiting te gee dat die RAK se navorsing voldoende voorsiening vir medies-biologiese studies moes maak. Dit was grootliks as gevolg van sy ondernemingsgees dat toekennings aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mediese Navorsing en vir verdere navorsing aan groot hospitale en ander navorsingsinrigtings gemaak is.

Mediese navorsing het 'n geweldige groot omvang en by die kies van geskikte projekte moet die tersaaklikheid van die onderwerp in verhouding tot ander lopende navorsing en die betekenis van die resultate in gedagte gehou word. Die gebied van orgaanoorplanting waarin Suid-Afrikaanse mediese werkers pionierswerk gedoen het, het 'n menigte ander aspekte wat verdere ondersoek geverg het, aan die lig gebring. Een hiervan was die verwerping van oorgeplante organe. Hierdie gebied was een van die RAK se belangrikste langtermynstudies. Dit het uit 'n vroeër projek met betrekking tot die gedrag van limfosiete gedurende die buiteliggaamlike bestraling van bloed voortgespruit. Dít het op sy beurt weer tot werk oor die rol van limfosiete in die verwerpingsproses gelei en daarna op 'n natuurlike wyse tot 'n studie van die hiperakute verwerpingsproses wat op oorplanting volg. Belangrike bevindings oor die rol van vogteenliggaampies in verwerping het getoon dat sikliese veranderings in die gevoeligheid van veloorplantings vir hierdie teenliggaampies plaasvind en 'n kennis van hierdie sikliese reaksie het die grondslag vir 'n beter insig in hulle rol voorsien. Hierdie ondersoeke oor die verwerpingsverskynsel het tot interessante opvolgwerk oor immunologie aanleiding gegee waar'n antimitogeniese faktor uit menslike serum afgeskei en gekenmerk is. Die belangrikheid van hierdie bevinding was daarin geleë dat die faktor 'n moontlike onderdrukker van die immuniteitsreaksie kon wees en dus moontlik in die na-operatiewe sorg gebruik kon word wat op orgaanoorplantings volg. Die verwerpingsondersoeke het ook tot die ontwikkeling van aansienlike deskundigheid op die gebied van mikrosnykunde gelei. 'n Hoogtepunt is hiermee bereik deur 'n eerste hartoorplanting in 'n klein eksperimentele diertjie wat nog 'n verdere twee jaar geleef het.

Van die begin af is besef hoe belangrik basiese organiese chemie vir die biologiese wetenskappe is en besondere aandag is gevolglik aan die ontwerp en sintese van biologies-aktiewe molekule geskenk wat moontlik in kankerchemoterapie toepassing kon vind. Die ideale verbinding sou een wees wat met'n noodsaaklike metaboliese stap in die kankerselle kon inmeng sonder om die metabolisme van normale selle aan te tas. Pogings om sodanige verbindings te ontwerp, het op die begrip berus dat substratum-identiese ensieme uit verskillende seltipes dieselfde chemiese ekwivalente, aktiewe middelpunte het maar geneties-verwante verskille in ander dele van die molekuul toon. Dit het tot die sintese van 'n analoë reeks substrata vir die ensiem dihidrofoliensiuur-reduktase gelei. Uit 'n studie van die onderdrukkingskinetika van hierdie verbindings was dit moontlik om onderdrukkers vir selgroei met 'n hoë graad van weefselspesifisiteit te ontwikkel. 'n Gevolg van die ontwikkeling van hierdie deskundigheid was die aanvang van'n program vir die ontwerp, sintese en formulering van nuwe radiofarmaseutiese stowwe met-of 'n hoë orgaanspesifiteit of selektiwiteit vir sekere patogeniese toestande.

Van die belangrikste prestasies is ten opsigte van kankernavorsing behaal. Die betrokke ondersoeke het met'n ondersoek na primêre kanker van die lewer, 'n siekte wat besonder verbreid in baie gebiede van Afrika is, begin. Die bloed van pasiënte wat aan hierdie siekte ly, bevat hoe konsentrasies alfafetoproteïen wat normaalweg op 'n paar maande ouderdom in die mens verdwyn. Die herverskyning van alfafetoproteÏen op later stadiums is sonder uitsondering aan primêre lewerkanker of verwante geswelle verwant. Om die siekte vroeg te diagnoseer, was dit nodig om 'n ultragevoelige metode vir die bepaling van alfafetoproteïen te vind en die ontwikkeling van 'n radio-immuno-essalering vir hierdie doel was 'n belangrike mylpaal. Verder het hierdie bevindings, die opsporing van die middele wat lewerkanker veroorsaak en selfs die bekamping van die siekte nadat die proses reeds aan die gang was, in die vooruitsig gestel. Die lewergewas groei besonder vinnig en die tydstip waarop dit gedurende die jaar verskyn, is blykbaar aan seisoengebonde faktore in die diëet van plattelandse Swartes verwant wat besonder vatbaar vir die siekte is. Die waarskynlikheid van 'n verband tussen diëet en die siekte word deur die bevinding bevestig dat die voorkoms van lewerkanker in potensiële lyers aansienlik verminder word as hulle 'n gebalanseerde en eenvormige dieet kry soos in die geval van die werkers op die goudmyne. Die resultate van die studie van alfafetoproteÏen het tot die ontstaan van 'n nuwe vertakking van mediese navorsing gelei, naamlik die embrioniese antigeenwetenskap. So is karsinogeniese antigene van die dikderm byvoorbeeld gesuiwer en metodes vir hulle meting in spoorhoeveelhede is ontwikkel met die doel om 'n metode vir die vroeë diagnose van 'n verskeidenheid kankers te vind terwyl die bepaling van DNase in serum gebruik kan word om lewerkanker op 'n baie vroeë stadium op te spoor.

Die radio-immuno-essaiëringsmetode is ook met sukses aangewend om die teenwoordigheid van die karsino-embrioniese antigeen aan te dui. Die teenwoordigheid van hierdie antigeen waarsku pasiente wat vantevore vir borsgewasse behandel is, vroegtydig van die koms van metastases (uitsaaiings of verspreiding). In 'n opname is 'n aantal subklinies agteruitgaande pasiënte binne 'n groep uitgeken wat chemoterapiebehandeling ondergaan het. Etlike van hulle het dramatiese verbeterings getoon nadat 'n hoogs spesifieke behandelingsregime die plek van die normale behandeling geneem het. Hierdie bevinding is van groot wetenskaplike waarde aangesien al die pasiënte in 'n medewerkingsondersoek van internasionale omvang ingesluit was. Die RAK se program in verband met borskanker was een van die uitgebreidste ter wêreld en het aansienlik internasionale erkenning geniet.

Die uitbreiding van kernbedrywighede in die Republiek het geverg dat groter aandag aan die opsporing en kwantitatiewe bepaling van die stralingsblootstelling van personeel geskenk moet word. Aangesien daar geen betroubare metode bestaan om dit te doen nie, is daar met 'n program begin om biochemiese aanduiers te identifiseer. Drie iso-ensieme van deoksiribonuklease II is afgeskei en gesuiwer en werk is aangepak om hulle antigeniese determinante vas te stel. Ondersoek van die membraanskade van die lisosoom dui daarop dat lekkasie van besondere ensieme wel ná radiolise plaasvind terwyl 'n gelyktydige ondersoek getoon het dat dieselfde lisosomale ensieme by die herstel van beskadigde genetiese materiaal in die selkern betrokke is.

Die beroep van uraanontginning val binne dieselfde samehang van stralingsblootstelling want die radioaktiewe verval van die ertse in al die uraanmyne stel die gas radon vry wat op sy beurt in ander radioaktiewe volgprodukte verval. Die Republiek se mynbedryf hou reeds baie jare lank statistiek van talle man-ure van sy werkers se blootstelling aan hierdie natuurlike bron van radioaktiwiteit en dit verskaf 'n uitstekende geleentheid om 'n korrelasie tussen verhoogde longkankervoorkoms (as daar is) en die luggedrae volgprodukte van uraan vas te stel. Alhoewel geen toename in longkanker, toeskryfbaar aan radon, gevind is nie (waarskynlik as gevolg van die lae konsentrasie van radonvolgprodukte in die Suid-Afrikaanse myne) het hierdie werk aansienlike belangstelling in die buiteland gewek en veral in Noord-Amerika waar sodanige korrelasie wel gevind is.

Die bestek van mediese navorsing was so wyd dat dit mag voorkom of sommige van die prestasies van RAK-werkers op hierdie gebied geen verwantskap met kernenergie het nie, maar in elke geval was die kernkennis en kernvaardigheid van die wetenskaplikes vir die sukses van elke projek noodsaaklik. Die suiwering van die menslike groeihormoon —'n deurbraak van internasionale belang wat in samewerking met die WNNR gemaak is — val in hierdie kategorie. Hierdie hormoon is klinies met groot welslae vir kinders gebruik wat aan aangebore vertraagde groei ly. 'n Vergelykbare prestasie was die ontwikkeling van 'n metode vir die sintese van 'n belangrike antibiotikum tot op 'n stadium waar die werk later deur die Suid-Afrikaanse farmaseutiese nywerheid oorgeneem kan word.

'n Baie beduidende gevolg van die RAK se navorsing in die lewenswetenskappe wat noue samewerking met die H F Verwoerdhospitaal in Pretoria en die Transvaalse Provinsiale Administrasie meegebring het, is die gesofistikeerde geriewe wat later in hospitale beskikbaar gestel is wat duisende mense se lewens bevoordeel het tot hierdie voorreg onder 'n  onbevoegde swart regering nou byna totaal vernietig en ons hospitale in haglike toestande verkeer.

Vervolg...