'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (19)

WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig

Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser

Geneeskunde (2)

"Kernstraling, of dit nou van natuurlike of mensgemaakte bronne afkomstig is, kan ongetwyfeld vir die normale gesonde menslike liggaam skadelik wees. Dit het egter ook die vermoë om lewens te behou, om kanker te genees en om onbekende gebiede van die mediese wetenskap te verklaar waardeur sy negatiewe invloed teengewerk kan word. Begrip vir hierdie benadering versterk die destydse toegewyde houding van die navorsers in die lewenswetenskappe. Hulle ondernemingsveld hier in ons land was baie groot van begrip, dikwels baie klein in die praktyk, maar dit is op hierdie gebied waarin die grootste moontlikhede vir navorsingsukses waarskynlik opgesluit was. Dit is betreurenswaardig dat Suid-Afrika nie die geleentheid gegun is om hierdie kruin van sukses enduit te klim nie."

Die mees gesofistikeerde gammakamera en bybehorende rekenaarstelsel in Suid-Afrika was destyds in Pretoria gehuisves en die waarde daarvan is grootliks deur die toenemende gebruik van plaaslik geproduseerde radioisotope verhoog. Dit het die behoefte aan behoorlike veiligheids- en doeltreffendheidsmonitering vir radioisotope, sowel as aan meer navorsing en ontwikkeling van radiofarmaseutiese materiale uitgelig.

As gevolg hiervan is 'n unieke moderne kerngeneeskundenavorsingsgerief in samewerking met die Provinsiale Administrasie in die vorm van die nuwe eksperimentele dierekompleks in Pretoria opgerig. Dit sou nie slegs van groot waarde vir die RAK wees nie, maar ook vir die Departement van Gesondheid en vir alle opleidingsentrums vir kerngeneeskunde in Suid-Afrika. Die eerste heelliggaamteller in Suid-Afrika is ook by die H F Verwoerdhospitaal in Pretoria aangebring met die hoofdoel om stralingswerkers te moniteer en sodoende enige toevallige inname van radioaktiewe materiaal op te spoor. Die mediese beroep het egter gou die waarde van hierdie toerusting as 'n diagnostiese hulpmiddel besef en ander hospitale het soortgelyke geriewe begin aanvra. Gevolglik het al die belangrikste hospitale een na die ander hulle eie heelliggaamtellers verkry en die gebruik van die heelliggaamteller is later stewig gevestig. Die eenheid in Pretoria is vir 'n verskeidenheid ondersoeke aangewend waarvan een die studie van die absorpsie van vitamine-B12 was om kwaadaardige bloedarmoede te diagnoseer. Die feit dat die publikasie van die resultate van hierdie ondersoek slegs die derde artikel oor hierdie onderwerp ter wêreld was, is 'n aanduiding van die gevorderde aard van die navorsing wat gedoen is.

Van soortgelyke aard was die gebruik van die gerief om foutiewe ystermetabolisme in die Swartgemeenskap te ondersoek. Dit het tot 'n beter insig in die beheermeganisme van ysterabsorpsie gelei.

Monitering van die omgewing in die nabyheid van enige kernsentrum was noodsaaklik om te verseker dat die natuurlike vlakke van radioaktiwiteit as gevolg van die bedrywighede by die sentrum nie sou toeneem nie. Sodanige program was sedert die vroegste tyd op Pelindaba in werking, selfs voordat die Nasionale Kernnavorsingsentrum nog vorm aangeneem het. Gegrond op die deeglike en noukeurige opnames wat uitgevoer is, kon die RAK gereelde aanklagte van omgewingsbesoedeling teenspreek en met onweerlegbare feitlike getuienis bewys dat die teenoorgestelde waar is. Alhoewel hierdie werk klaarblyklik van groot belang was, sal 'n mens verskoon word as jy dink dat die wetenskaplikes wat daarby betrokke was moontlik die eindelose herhaling van monsterversameling en meting langdradig en vervelig kon vind. Buitestaanders kon waarskynlik verbaas wees  wanneer hulle vasstel dat die span wat by hierdie werk betrokke is, uiters toegewyd en geesdriftig was. Die lewenskrag kon gedeeltelik aan vindingryke leiding toegeskryf word, maar ook aan die prikkelende newe-navorsing wat uit die roetinetaak voortgespruit het.

Om te begin, is die verveling van die monitering vir radioaktiwiteit van 'n grootliks onveranderende omgewing by verskeie geleenthede verlig deur uitbarstings van besmetting afkomstig van die neerslag van kernwapentoetsing deur verskeie lande in die Suidelike Halfrond. Die belangrikheid daarvan om gegewens en besonderhede oor hierdie gebeurtenisse te versamel, is onmiddellik besef, veral gesien teen die agtergrond van die internasionale besorgdheid oor die wêreldwye besmetting wat op die toets van kernwapens met vermoes in die megatonstrek gevolg bet. In hierdie verband het Suid-Afrika met die Atoomenergie-navorsingsinrigting by Harwell in die Verenigde Koninkryk, die Franse Atoomenergie-kommissie van Saclay, en die Atoomenergie-kommissie van die Verenigde State saamgewerk. Afgesien van die klaarblyklik tersaaklike gesondheidsfisiese aspekte, het die werk tot interessante navorsing gelei waarin die neerslag as 'n radioaktiewe spoorder vir die studie van meteorologiese, biologiese en ekologiese prosesse gebruik is.

Hierdie ondersoeke het as beginpunt vir uitgebreide omgewingstudies by sowel kerninstallasies as konvensionele aanlegte gedien waar probleme met atmosferiese besoedeling bestaan het. Die waardevolle ondervinding met die omgewingsmonitering by Pelindaba opgedoen, is goed by die studie van verwante faktore van belang op die Koebergterrein aangewend waarvoor 'n spesiale opleidingslaboratorium by die nabygelee KISu ingerig is. Hierdie laboratorium kon ook die vermoë van die oseaan meet om enige moontlike radionukliede te absorbeer wat in die reaktore se vrygestelde vloei kon beland. EVKOM se eie Duynefontein-laboratorium het 'n tweejaar-voorbedryfsopname van omgewingsradioaktiwiteit gedoen voordat kernmateriaal op die terrein aangekom het om 'n standaard vas te stel waarmee die uitwerking van enige toekomstige vrylatings vergelyk kan word.

Die uitvoerige studies van die voorspelde verspreiding van gasvormige afval van Pelindaba wat tot die maksimum toelaatbare vrystellingsmaatstawwe vir daardie terrein gelei bet, is op soortgelyke ondersoeke vir Duynefontein toegepas deur 'n metode wat die kwantifisering van die baie weë behels het waardeur luggedrae radioaktiwiteit na die mens terug kan keer. Gewoonlik word gevind dat 'n enkele, of moontlik'n paar weë, soveel belangriker is as die res dat hulle as kritiek beskou kon word. Deur dus blootstelling langs hierdie kritieke weë binne veilige grense te beperk, kon die probleem met gasvormige afval veilig beheer word. As gevolg van die gesondheidsfisiese verantwoordelikhede is 'n aerosolnavorsingsgroep op Pelindaba gestig, wat met die omgewingsgroep saamgewerk het aan probleme in verband met die gedrag van luggedrae besoedelaars, sowel gewoon as radioaktief, op terreine soos Duynefontein en Richardsbaai.

Die Universiteit van Natal wat in die opstel van rekenaarmodelle van die atmosferiese omgewing belang gestel het en wat 'n moniteerstasie by Richardsbaai bedryf het, het vir hierdie werk by die RAK aangesluit. Die groep het gehelp om probleme op te los wat met filters op Pelindaba en Valindaba ondervind is, en was ook by die gebruik van 'aerosols' betrokke om lekke in skoonluginstallasies by hospitale en farmaseutiese produksiesentra op te spoor.

Dit is vanselfsprekend dat die Raad se omgewingsgroep met die Nasionale Program vir Omgewingstudies saamgewerk het. Een van die projekte was die ondersoek van elementkonsentrasies en verrykingsfaktore in die atmosfeer. 'n Belangrike bevinding is dié van die bestaan van 'n groot stratosferiese reservoir waaruit inspuitings in die troposfeer gedurende die lente plaasvind. Dit verklaar waarom pieke van neerslag van besoedelaars waargeneem word, selfs in jare waarin geen kerntoetse plaasgevind het nie. Resultate soos hierdie sou 'n belangrike rol in die ondersoek van konvensionele besoedelaars speel en sou toon dat die moniteerprogram vir radioaktiwiteit 'n beduidende rol in die bevordering van die begrip van basiese weerkundige en geofisiese prosesse speel. In der waarheid het hierdie program reeds 'n beduidende bydrae tot die kennis van atmosferiese verdunning en menging en die gevolglike vermoë van die atmosfeer vir die berging van afvalprodukte gelewer voordat dit alles in die wiele gery is.

Kernstraling, of dit nou van natuurlike of mensgemaakte bronne afkomstig is, kan ongetwyfeld vir die normale gesonde menslike liggaam skadelik wees. Dit het egter ook die vermoë om lewens te behou, om kanker te genees en om onbekende gebiede van die mediese wetenskap te verklaar waardeur sy negatiewe invloed teengewerk kan word. Begrip vir hierdie benadering versterk die destydse toegewyde houding van die navorsers in die lewenswetenskappe. Hulle ondernemingsveld hier in ons land was baie groot van begrip, dikwels baie klein in die praktyk, maar dit is op hierdie gebied waarin die grootste moontlikhede vir navorsingsukses waarskynlik opgesluit was. Dit is betreurenswaardig dat Suid-Afrika nie die geleentheid gegun is om hierdie kruin van sukses enduit te klim nie.

Vervolg...