WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser
Hulp aan die nywerheid
" Later het nie minder nie as vyftig maatskappye meer as 34 000 kg per week vir sterilisering na Pelindaba gestuur. Om materiaal van hierdie omvang te behandel, moes die bronaktiwiteit tot 1 100 kCi verhoog word. Dit het van die aanleg een van die grootste gammasteriliseeraanlegte ter wêreld gemaak... ...Die nywerheid was maar in die beginstadium om radioisotope en straling na waarde te skat en as Suid-Afrika nie deur sy vyande ondermyn is nie sou daar in die jare vorentoe veel groter toepassing van dié nywerheidspotensiaal plaasgevind het. Suid-Afrika was in so 'n goeie posisie om voordeel uit die toepassing van straling en radioisotope op alle ondernemingsgebiede te trek dat hy sy plek op hierdie terrein langs die gevorderdste lande kon inneem. Maar vanaf die laat tagtigerjare het vyandelike oorheersing seker gemaak dat ons nie langer 'n hoogsontwikkelende navorsingsland nie maar 'n werkerstaat sou word met geen internasionale bedingingsmag nie. Dit was die enigste manier om beheer oor Suid-Afrika se rykdomme te bekom."
'n Geleidelike oorgang van die fundamentele tot prakties geörienteerde navorsing het gedurende die laat sestigerjare plaasgevind en het tot 'n aansienlike uitbreiding van bedrywighede, geriewe en personeel gelei. Die stralingsintese van chemikaliee is ondersoek en baie reaksies wat tot die produksie van buitengewone verbindings met hoë opbrengs lei, en waarvan sommige die moontlikhede van industrialisering ingehou het, is uitgeken.
Die reaksies waarby polimerisering of polimeerwysiging betrokke was, was van besondere belang. Aandag is ook aan die moontlikheid van die binnelandse sintese van sekere plastiekstowwe, aan die wysiging van onwenslike eienskappe in wol en aan die kruisverbinding van polimêre met die oog op die verbetering van hulle fisiese eienskappe gewy. As praktiese voorbeelde van sodanige toepassings, kan die behandeling van elektriese kabelisolasie en die verbetering van die meganiese stabiliteit van snykundige prosteses genoem word.Gedurende die oorgangsfase van fundamentele tot toegepaste navorsing, is die RAK deur vervaardigers van wegdoenbare geneeskundige toerusting oor die moontlikheid genader om 'n stralingsteriliseeraanleg op te rig. Hierdie vervaardigers het reeds etlike jare lank die voordele van die steriliseermetode teenoor die gewone stelsels van stoom- en etileensterilisering besef maar, om verstaanbare redes, was hulle teësinnig om hulle individueel tot 'n beduidende kapitaalinvestering vir die behandeling van die destydse klein deurvoer van produkte te verbind. As gevolg van die volgehoue belangstelling het die RAK 'n diepgaande studie van die onderskeie aspekte van stralingstoepassings onderneem en tot die gevolgtrekking gekom dat 'n groot stralingsteriliseeraanleg op Pelindaba gebou moes word om 'n nasionale bestralingsdiens, veral vir die sterilisering van wegdoenbare mediese toerusting, aan die privaatsektor te lewer. Deur dit te doen, het die Raad nie slegs aan die behoeftes van die vervaardigers voldoen nie, maar ook 'n waardevolle navorsingsgerief vir sy eie ondersoeke geskep. Toe die stralingsteriliseeraanleg in 1971 met 'n kobalt-60-lading van 50 kCi in bedryf gestel is, is dit slegs deur twee vervaardigers van wegdoenbare goedere ondersteun en hulle gemiddelde gesamentlike toevoer was slegs 200 kg per week. Later het nie minder nie as vyftig maatskappye meer as 34 000 kg per week vir sterilisering na Pelindaba gestuur. Om materiaal van hierdie omvang te behandel, moes die bronaktiwiteit tot 1 100 kCi verhoog word. Dit het van die aanleg een van die grootste gammasteriliseeraanlegte ter wêreld gemaak. Die belangrikheid van hierdie steriliseerdiens kan daarvolgens beoordeel word dat daar ten spyte van die merkwaardige toename in die gebruik van mediese toerusting oor die jare geen enkele vervaardiger was wat kans gesien het om sy eie stralingsteriliseergerief op te rig nie. Indien die aanleg nie in nasionale belang op Pelindaba opgerig was nie, sou dit nodig gewees het om òf stralingsgesteriliseerde artikels in te voer òf binnelandse produkte deur middel van beroking met etileenoksied te steriliseer. Laasgenoemde metode het nie dieselfde, volledige indringing as bestraling nie en kan dus nie dieselfde hoë standaarde van steriliteit as stralingsbehandeling bereik nie. Daarbenewens het dit ook as gevolg van sy skadelike biologiese uitwerkings in onguns verval. Die Pelindaba-aanleg het waarskynlik die groei van Suid-Afrika se vervaardigingsnywerheid vir wegdoenbare produkte aangespoor en dit het stellig die nogal aansienlike invoere van wegdoenbare materiaal in 'n beduidende uitvoermark omskep. Dit het terselfdertyd die lewensvatbaarheid van die nywerheidstoepassing van groot stralingsbronne getoon en hierdie aanleg was inderdaad die grootste toepassing van kerntegnologie in Suid-Afrika.
Die beginsel van stralingsterilisering is ook in samewerking met die Johannesburgse Munisipaliteit op rioolwaterbehandeling toegepas met die oog op die ontwikkeling van 'n metode vir die sterilisering van rioolslyk om dit vir landboudoeleindes aan te wend. Die behaalde resultate was besonder bemoedigend en die tegno-ekonomiese aspekte is goed bestudeer.
In Noordoos-Transvaal, soos elders in Suid-Afrika, is daar groot beboste gebiede waar bome, veral saligna en den, welig groei. Die reënval is goed en die temperatuur wissel tussen matig en baie warm, omstandighede wat goeie groeitoestande veroorsaak. Maar juis as gevolg van hierdie baie vinnige groei, is die dennehout besonder sag en het dit oor die algemeen swak meganiese eienskappe. Dit is geneig om skeef te trek, te kraak en om onder belasting to breek terwyl termiete dit gulsig verslind. Op 'n tyd het navorsing in Europa en die VSA egter getoon dat laegraadse, sagte houtsoorte kunsmatig deur middel van straling tot nuwe materiale met die wenslike eienskappe van harde hout omvorm kan word.
Met die oog op die feitlik algehele afwesigheid van inheemse hardehoutsoorte in Suid-Afrika het die wetenskaplikes van Pelindaba hulle eie navorsingsprogram met soveel welslae deurgevoer dat een van die besontwikkelde toepassings van stralingspolimerisering later die produksie van polimeerhoutsamestellings was om die eienskappe van plaaslike dennehout te verbeter. Die proses bestaan daaruit dat die hout deur middel van vakuum- en druktegnieke met 'n vloeistofmonomeer deurtrek word, gevolg deur blootstelling aan gammastraling. Die monomeer polimeriseer dan binne die hout en dit lei tot grootliks verhoogde dimensionele stabiliteit en hardheid terwyl die hout terselfdertyd 'n glansryke, satynagtige voorkoms kry.
Ander voordele wat hierdie materiaal bied, is weerstand teen termiet- en swamaanvalle sowel as teen vuur indien geskikte chemikaliee by die vloeistofmonomeer gevoeg word. Kleurstowwe kon ook by die monomeer gevoeg word om 'n groot verskeidenheid gekleurde samestellings te verkry. 'n Aantal moontlike toepassings is in samewerking met buiteorganisasies ondersoek en'n aanvooraanleg is op Pelindaba in bedryf gestel om redelike hoeveelhede van die materiaal te vervaardig.'n Aantaltoetsvloere is gelê en ander kontrakwerk vir die privaatsektor is onderneem.
As 'n ondersoektegniek, as 'n metode om veranderlikes te meet en as 'n kragtige energiebron in verband met chemiese reaktore, het die toepassing van radioisotope feitlik net so 'n groot omvang in die nywerheid as in die geneeskunde; in der waarheid groter as in gedagte gehou word dat daar ook verskeie kerntegnieke bestaan wat nie noodwendig die gebruik van radioisotope self behels nie. Die RAK se benadering was egter nog steeds dat dit nie 'n roetine-isotooptoepassingsdiens wou aanbied nie en ook nie kommersiële oorwegings deurslaggewend sou maak wanneer die uitvoerbaarheid van enige bepaalde toepassing oorweeg word nie. Die benadering was eerder dat die land se belange beter gedien kon word deur 'n span deskundiges op Pelindaba beskikbaar te hou wat potensiële gebruikers van isotoopmetodologie kan adviseer en dat by ondersoeke, wanneer toepaslik, op 'n ad hoc-grondslag op belowende gebiede uitvoer.
Hierby is ook 'n wydlopende program van opvoeding in die nywerheid deur middel van konferensies, seminare en gewilde artikels in die vakliteratuur gevoeg. Hierdie benadering het 'n bruikbare uitruiling van gedagtes tussen die nywerheid en die isotoopnavorsingspan teweeg te bring. Op dié wyse was dit moontlik om die belangrikste gebiede af te baken waarop isotope vir die oplossing van probleme aangewend kon word wat nie op die gewone wyse opgelos kon word nie. Die sukses hiervan spreek duidelik uit die merkwaardige verskeidenheid isotooptoepassings wat aandag geniet het. Die span het 'n nuutskeppingsbenadering gehad wat dit moontlik gemaak het om die ingewikkeldhede van die verskeie, betrokke dissiplines op 'n doeltreffende manier te bemeester.
Met die inbedryfstelling van SAFARI-1, het die bestek van die bedrywighede veelvuldig toegeneem want radioisotope wat vantevore slegs in die buiteland gekoop kon word, en selfs dan veelal as gevolg van of prys of baie kort halveertye feitlik onverkrygbaar was, kon toe op Pelindaba gemaak word. Heterogene stowwe soos ertsmonsters kon toe geradioaktiveer word en dit het op sy beurt 'n hele nuwe gebied van potensiële toepassing geopen.
Een van die vroegste suksesse wat die RAK behaal het, was die ontwikkeling van 'n vinniger metode vir die bepaling van die hoeveelheid silwer wat as 'n onsuiwerheid in raffinaderygoud met 'n suiwerheid van 99,5 % teenwoordig is. Dit klink of dit nie baie belangrik was nie, maar daar moet besef word dat die tradisionele vuuressaiering van daardie tyd etlike dae in beslag geneem het, terwyl die isotoopmetode, nl. die waarneming van die kenmerkende röntgenstrale van silwer wat in die teenwoordigheid van 'n isotoopbron van amerikium-241 opgewek word, 'n direkte lesing van die silwerinhoud met 'n noukeurigheid van 2 dele in 10 000, en dit binne slegs 4 minute, verskaf het.
In teenstelling met die gebruik van radioaktiewe spoorders vir ontleeddoeleindes, is hulle ook wyd gebruik om lig op die aard van vele nywerheidsprosesse te werp. Daar is inderdaad gesê dat die spoordermetode vir die toepassing van radioisotope geen beperkings behalwe die beperkings van die mens se eie vindingrykheid en vernuf het nie. Hulle toon aansienlike voordele bo chemiese of fisiese spoorders omdat hulle nie deur prosestoestande soos hitte of chemiese reaksies verander word nie, omdat hulle inbaan dwarsdeur die wande van houers of pype opgespoor kon word en in hoogs verdunde vorm, danksy die beskikbaarheid van uiters gevoelige instrumente, gebruik kon word. Tipiese toepassings is die bepaling van gemiddelde verblyftye en die verspreiding van prosesmateriale sowel as prosesdinamika in nywerheidsaanlegte. Maar die korrekte vertolking van spoordergegewens was nie altyd maklik nie en was dit dikwels noodsaaklik om op matematiese modelle terug te val om sodoende die maksimum hoeveelheid inligting uit die gegewens te haal. Aansienlike welslae is met die toepassing van hierdie tegnieke in sulke uiteenlopende vertakkings van die nywerheid soos uraan- en goudmynbou, staalvervaardiging en selfs suikerproduksie behaal. Die bepaling deur die RAK van die menging en vloei-eienskappe in 'n groot roterende sementoond was so bemoedigend dat 'n aansienlike vergroting van die poging geregverdig was.
Spoorders is ook dikwels gebruik om vloeistofvloei te meet en verwante probleme op te los. 'n Voorbeeld is die bepaling van vloeistoflekkasie in opgaardamme en pypleidings. In een spesifieke geval is 'n verbinding van lantaan-140 gebruik om bo alle twyfel te bewys dat die oorweldigende reuk van petrol wat in 'n aantal huise in Johannesburg ondervind is, sy oorsprong in sypeling vanaf 'n nabygeleë vulstasie gehad het.
In ander toepassings is die vloei van die Vaalrivier bepaal sowel as die vloeitempo van gesuspendeerde pulp in die pypleidings van 'n papiermeule. 'n Verwante toepassing op die bepaling van sedimente en afvalstowwe langs die kus by Saldanhabaai het antwoorde voorsien op vrae soos: in watter rigting vloei die sediment, hoe vinnig beweeg dit en hoe groot is die betrokke volume? Hierdie is vrae waarop die kusingenieur antwoorde moes hê wanneer hy met die ontwerp van nuwe hawes of ander strukture begin het en dit was dikwels slegs die isotoopmetode wat die nodige gegewens kon verskaf.
Op 'n keer het 'n skouspelagtige gasvuur op 'n petroleumopsporingsterrein naby Panda in Mosambiek uitgebreek en vlamme honderde meter in die lug opgespuit. Oliebranddeskundiges het besluit dat om die vlam te blus, dit nodig sou wees om die boorgat toe te stop deur 'n geskikte bry deur 'n diagonale snygat in te pomp. Sodanige snygat is geboor, maar die inspuiting van die bry het nie daarin geslaag om die brand te blus the en die RAK-span is ingeroep om vas te stel of die bry deur die vlamme uitgeblaas word en of dit in ander kanale ingepers word. Deur natrium-24 te gebruik wat in SAFARI-1 voorberei is, was dit moontlik om vas te stel dat laasgenoemde proses besig was om plaas te vind en die pomptempo is gevolglik verhoog totdat die vlam uiteindelik geblus is. Die ondersoekspan van die RAK het met hulle natrium-24 en die draagbare sintillasiedetektore daarheen gevlieg. Die afmetings van die ligte vliegtuig wat gebruik sou word, moes noukeurig bepaal word om te verseker dat dit die span se toerusting sou kon vervoer sonder om die passasiers aan beduidende straling vanaf die natriumbron bloot te stel. Toe hulle by die aanloopbaan aangekom het, was daar egter 'n vliegtuig van 'n geheel ander soort besig om op die stygbaan te luier en dit was dadelik duidelik dat die bagasiekompartement te klein sou wees om al die toerusting te hou. Die vlieenier was ook nie gewillig om saam te werk nie en het dit duidelik gestel dat hy die opdrag onder dwang uitvoer. Nuwe reëlings is egter haastig getref en die vliegtuig het opgestyg terwyl die hoofondersoeker feitlik bo-op die radioaktiewe houer gesit het. Hy het herhaalde lesings met 'n sakdosismeter geneem om te verseker dat hy nie 'n oormatige stralingsdosis in sekere gevoelige gebiede opdoen nie!
Dit was dan 'n paar voorbeelde van die nywerheidstoepassings van radioaktiewe spoorders wat deur die RAK onderneem is. Dit alles dui op die wye en uitbreidende gebied waarop die tegniek verhoogde doeltreffendheid en aansienlike besparings teweeg kon bring.
Ewe gesofistikeerd is die analitiese kerntegnieke waarvan die RAK 'n aansienlike aantal in samewerking met ander institute in Suid-Afrika ontwikkel het. Van hierdie tegnieke is die een wat die meeste aandag getrek bet, stellig reaktorneutronaktiveringsanalise (NAA) en daar is getoon dat hierdie tegniek op 'n wye verskeidenheid probleme toegepas kon word —probleme wat van die toepassings as 'n prospekteerhulp deur geneeskundige, tandheelkundige en veeartsenykundige navorsing tot geregtelike geneeskunde strek. In al hierdie ondersoeke is die nadruk op twee aspekte gelê: die skepping van 'n laboratorium wat in staat is om uiteenlopende probleme te behartig en die vestiging van 'n opleidingsprogram om die moontlikhede van die tegniek onder die aandag van soveel mense en organisasies moontlik te bring. Die ondervinding het daarop gedui dat NAA waarskynlik nie in die toekoms as in algemene ontleedmetode aanvaar sou word nie en wel as gevolg van die twee vereistes van 'n geredelik beskikbare kernreaktor en van hoogs opgeleide personeel, maar daar is 'n sekere toepassingsgebied waar dit 'n uitstekende, en dikwels die enigste, praktiese ontleedmetode sou word.
'n Voorbeeld hiervan is die bepaling van uraan deur middel van die telling van vertraagde neutrone wat die voordele het van spoed, gevoeligheid en die moontlikheid van outomatisering om groot getalle monsters te verwerk. Hierdie metode was so waardevol dat 'n besondere fasiliteit vir dié doel in 1975 op Pelindaba in bedryf gestel is om 'n roetinediens aan die uraannywerheid se opsporingspoging in die Karoo te lewer wat 'n ontleedmetode vereis het waarvolgens konsentrasies so laag as een deel per miljoen vasgestel kon word. In die eerste bedryfsjaar is 11 000 ontledings uitgevoer en in 1978 het dit tot 34 000 gestyg. Hoewel die diens oorspronklik vir die ontleding van stroomsedimente wat uit normale geochemiese opsporing ontstaan en vir die ontleding van grondmonsters ingestel is, is dit later op versoek van die mynmaatskappye en die Geologiese Opname tot die grootskaalse bepaling van uraan in water uitgebrei. Dit het nou toe ook tot 'n nasionale projek vir die bepaling van uraan in ondergrondse water ontwikkel met die doel om belowende gebiede vir verdere ondersoek af te baken.
Dié tegniek was ook op biologiese terrein besonder waardevol vir die bepaling van spoorelemente wat 'n belangrike, maar dikwels onbekende rol, in die mens en dier se metabolisme speel. Dit is byvoorbeeld aangewend om te toon dat die seleniumkonsentrasie in die lewer van verskeie boksoorte aan duidelike seisoenswisselings onderworpe is en aangesien daar 'n korrelasie tussen hierdie element en die dood van die diere na vangs bestaan, kon hierdie bevinding belangrike gevolge hê. In die menslike biologie is 'n korrelasie tussen die relatiewe konsentrasies van sekere spoorelemente in menslike hare en die voorkoms van slukdermkanker gevind.
Om prospektering van hulp te wees, is 'n ander kernontleedtegniek aangewend om die radongas te meet wat uit uraanafsettings ontstaan. Hierdie radioaktiewe gas met 'n betreklike kort halveertyd diffundeer geredelik deur die grond en die opsporing daarvan verskaf 'n sterk aanduiding van uraan in 'n omgewing selfs in die geval van diepmineralisering wat nie met konvensionele metodes waargeneem kon word nie. Die bepaling van radon was egter nie eenvoudig nie en 'n nuwe metode, op die absorpsie van die gas op geaktiveerde houtskool gegrond, is gevolglik ontwikkel. Na deeglike toetsing in verskeie geologiese en geografiese omgewings is hierdie stelsel in 1978 in verskeie lande gepatenteer en die RAK het 'n ooreenkoms vir die vervaardiging en bemarking van die stelsel met 'n plaaslike maatskappy aangegaan.
Deeltjiegeïnduseerde X-straalemissiespektroskopie (PixE) is 'n tegniek waarvolgens 'n bundel gelaaide deeltjies van 'n versneller op 'n skyf gefokus word bestaande uit die materiaal wat ondersoek moet word. Dit veroorsaak dan X-strale eie aan die elemente in die skyf waarvolgens die samestelling van die skyf bepaal kan word. Dit is 'n uiters gevoelige tegniek vir die ontleding van baie klein hoeveelhede van 'n stof en daar word beweer dat so min as 10-14 g van sekere elemente kwantitatief bepaal kan word. Monsters kon so verder ontleed word sonder dat chemiese behandeling wat besmetting kan veroorsaak, nodig is en verskeie elemente kon gelyktydig bepaal word. Hierdie tegniek het aansienlike moontlikhede gehad, en buiten die RAK se navorsingsgroep op Pelindaba, is die toepassing daarvan ook deur sterk spanne aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Kerninstituut van die Suidelike Universiteit (KISU) bestudeer.
Die projekte het behels die ondersoek van sulke uiteenlopende onderwerpe soos die fisiologiese appelsiekte wat as bitterpit bekend is, die meting van spoorelementkonsentrasies in antieke potskerwe in 'n poging om hulle oorsprong te bepaal, die opname van die aanwesige elemente in nywerheidsbesoedelaars deur die menslike liggaam en die verband tussen spoorelementkonsentrasies in die liggaam en siekte.
Ietwat verwant aan PIXE was die analitiese gebruik van prontgammastrale wat uit beskieting met gelaaide deeltjies ontstaan, 'n bedrywigheid wat by KISU begin het. Ten spyte van die groot hoeveelheid kwalitatiewe en kwantitatiewe gegewens oor gammastraalopwekking wat uit die kernfisika beskikbaar was, het hierdie gegewens slegs geringe waarde vir die ontleder gehad aangesien hulle selde in vaste toestande vir 'n groot reeks elemente versamel is. 'n Opname van die gammastraalspektra wat in vergelykbare eksperimentele toestande, in 'n groot getal elemente opgewek is is gevolglik uitgevoer. Daar is aan opwekking deur alfadeeltjies voorkeur verleen omdat daar beter tussen die elemente met lae en hoë massa deur betreklike klein veranderings in die bundelenergie onderskei kon word. Daar was verder 'n gebrek aan gegewens oor die gebruik van bundels alfadeeltjies.
Heelwat waardevolle inligting is uit 'n stelselmatige studie van 52 elemente verkry en hieruit kon analitiese toestande vir die vinnige en nie-vernietigende ontleding van elemente soos stikstof, fluoor, vanadium, mangaan, molibdeen en wolfram afgelei word. Die gebruik van protonbundels is ook ondersoek en alhoewel heelwat inligting uit die gepubliseerde literatuur beskikbaar was, het die keuse van geskikte toestande probleme veroorsaak. Dit was gevolglik nodig om die gevoeligheid van protongeïnduseerde prontfotonspektrometrie (PGPFS) as 'n funksie van deeltjie-energie te evalueer. Die hoofnadruk van die Instituut se huidige kernontledingsnavorsingsprogram het op die ontwikkeling van verbeterde en vinniger patroonherkenningsmetodes geval, op die uitbreiding van prontfotonspektrometrie met insluiting van PIXE en PGPFS en op die verdere uitbreiding van prontdeeltjiemetodes. X-straalfluorometrie wat radioisotoopbronne gebruik, was 'n verdere kerntegniek wat ook wyd toegepas is veral op inbaanuraanontle ding. Hierdie tegniek het voordele gebied soos eenvoud van ontwerp en bedryf, lae koste, kompakte geometrie en liggewiginstrumentasie wat dit die voorkeurontleedmetode in sekere mynbou- en nywerheidsprosesse gemaak het. Ander toepassings sluit geologiese prospektering, die monitering van metaalkundige of chemiese prosessering en die ondersoek van besoedeling in.
Die energie van kernstraling het verder 'n kragtige metode voorsien om chemiese reaksies te beïnvloed of aan die gang te sit en navorsing na stralingschemie het besondere aandag van die kant van die RAK geniet. Gedurende die eerste paar jaar was die benadering suiwer fundamenteel met die doel om 'n beter insig in die aard van die chemiese reaksies te verkry wat plaasvind wanneer waterige oplossings of organiese vloeistowwe bestraal word. 'n Besonder uitvoerige ondersoek van die radiolise van die alifatiese alkohole is uitgevoer en het tot belangrike bevindings, van algemene belang vir die teorie van stralingschemie, gelei. Begrippe soos die rol van polariteit, die uitwerking van molekulêre struktuur en die ekstrapolering van ioniese fragmentasiepatrone na gekondenseerde fases, het hulle oorsprong op Pelindaba gehad voordat hulle hoekstene van die later aanvaarde teorie geword het. Hierdie pogings het aansienlik internasionale belangstelling gaande gemaak soos getoon deur uitnodigings om internasionale simposia by te woon en om bydraes vir welbekende werke soos die ensiklopediese 'Chemistry of the Functional Groups' te skryf.
Aandag is ook op stralingsgeïnduseerde polimerisering in waterige stelsels toegespits en die eerste keer is rekenaarmodelle tydens die vertolking van die gegewens gebruik. Vervolgens is 'n verband tussen hierdie werk en die werk aan alkohole met die aanvang van werk aan die reaksies van monomere in polêre organiese vloeistowwe geskep; 'n studie wat tot effens meer toegepaste projekte gelei het waarin die rol van straling as 'n katalis in chemiese sintese en polimerisering ondersoek is.
Die nywerheid was maar in die beginstadium om radioisotope en straling na waarde te skat en as Suid-Afrika nie deur sy vyande ondermyn is nie sou daar in die jare vorentoe veel groter toepassing van dié nywerheidspotensiaal plaasgevind het. Suid-Afrika was in so 'n goeie posisie om voordeel uit die toepassing van straling en radioisotope op alle ondernemingsgebiede te trek dat hy sy plek op hierdie terrein langs die gevorderdste lande kon inneem. Maar vanaf die laat tagtigerjare het vyandelik oorheersing seker gemaak dat ons nie langer 'n hoogsontwikkelende navorsingsland nie maar 'n werkerstaat sou word met geen internasionale bedingingsmag nie. Dit was die enigste manier om beheer oor Suid-Afrika se rykdomme te bekom.
Vervolg...