REGSTELLENDE AKSIE: BYBELS OF DUIWELS?

Andrè van den Berg

Lees meer van hierdie skrywer by Andrè van den Berg

"Wat sit werklik agter regstellende aksie?   Vrees.  Swartes se vrees om met hardwerkende, gedissiplineerde blankes  met ’n Calvinistiese, Europees geskoeide arbeids-etiek te moet meeding."

Jes.5:20-24

Eerlose mense skuil dikwels agter eerbare maskers en gebruik mooi woorde om lelike dinge te verberg.  Een hiervan is regstellende aksie; die grootste onreg wat Suid-Afrika ooit aangedoen is!   Dit word as ’n regstelling van sg. onregte van die verlede voorgehou, maar skep in werklikheid onreg in die hede.

Regstellende aksie stel niks reg nie, maar verwoes alles.  Daarom het bykans ’n miljoen blankes sedert dit van stapel gestuur is, hul in die buiteland gevestig.    By diegene wat die land nie kan verlaat nie, heers daar origens ’n gevoel van moedeloosheid.   Groot ondernemings word genoodsaak om regstellende aksie toe te pas uit vrees vir reuse boetes, dwangmaatreëls of om op die kantlyn te beland en van die handels-toneel te verdwyn.

Suid-Afrika het deur die toedoen van verraderlike politici en ontspoorde kerke ’n heidenland geword. 

Daar is weggedoen het met die Bybelse maatstaf van verdienste en met die onreg van rasse-voorkeur en regstellende aksie vervang. Rasse-voorkeur is onskriftuurlik en regstellende aksie sonder morele verdienste.

Onverskilliges het geglo dat regstellende aksie ’n rasse-oorlog sou verhoed en versoening bewerkstellig.   Presies die teenoorgestelde het gebeur – dit het rasse-geweld en onversoenlikheid aangevuur.

Die posisie van die blanke Suid-Afrikaner vergelyk met dié van die eertydse Griekse slawe in Rome.   Hulle was beskaafd en goed opgelei, maar het geen politieke mag gehad nie.  Hulle moes die Romeine se kinders oplei en hul kundigheid ter beskikking van hul meesters stel en tevrede wees dat hulle ’n ondergeskikte stand was.

Die stroom van rassehaat vloei baie sterk deur ons land en dreig om ons mee te sleur.   Wat verwag God van gelowiges in sulke omstandighede?   “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).    Ons moet te alle tye anders as die wêreld optree en sy wil doen.  Dis in die Bybel opgeteken.  Kom ons let daarop.

’n Groot Bybelse beginsel wat ons aandag vereis, is gelykheid voor die reg. “Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.  ’n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die Here wees.  Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef” (Num.15:15,16).

“Julle mag geen onreg doen in die gereg nie.  Jy mag vir die geringe nie partydig wees en die aansienlike nie voortrek nie.  Met geregtigheid moet jy jou naaste oordeel.” (Lev.19:15).

Daar is nie meer Jood of Griek nie, ….julle is almal een in Christus Jesus” (Gal.3:28).

Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het” (Efes.2:14).

Voor die koms van Christus het heidennasies op hande-arbeid neergesien en slawe daarmee belas.   Toe Christus gebore is, het die helfte van die Romeinse ryk uit slawe bestaan, so ook driekwart van die Atheners.   Jesus het ’n groot omwenteling in arbeid gebring toe Hy met ’n byl, saag, hamer en ander skrynwerkersgereedskap in ’n timmermanswinkel gewerk het.   Dit het ’n nuwe waardigheid aan arbeid gegee.    Met hierdie hervorming het die Christendom ’n hele  gemeenskapsorde hervorm.

Jesus begin sy bediening in Nasaret met die woorde: ”Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring.  Hy het My gestuur om die wat verbrysel van hart is, te genees” (Luk.4:18).

Omdat die Bybel gelowiges oproep om hul naaste lief te hê, barmhartige Samaritane te wees en aan ander te doen wat hulle aan hulself gedoen wil hê, het talle gelowiges hul lewe daaraan gewy om slawehandel te stop, kinderarbeid te belet en onderdruktes te bevry.  Daarom het slegs die Christendom, van al die godsdienste ter wêreld, ’n einde aan slawehandel gemaak.

Charles Darwin het met sy Ewolusieteorie wat miljoene ongelowiges begeester het, geen poging aangewend om rassehaat te bekamp nie, maar eerder aan te vuur.  Dit het ’n horde van bose ideologieë soos Kommunisme ontketen.   Marx was ’n vurige aanhanger van Darwin.  So ook Josef Stalin wat met rassehaat deurspek was en geglo het dat ewolusie tot rewolusie lei.

Die Oxford woordeboek omskryf rassisme as diskriminasie of vyandskap jeens ander rasse. Die ironie is dat baie van die mense wat so teen rassisme gekant is, hul in werklikheid daaraan skuldig maak.   Regstellende aksie maak onbeskaamd sondige rasse-onderskeid en is per sè verbloemde rassehaat.

Mag gelowiges rasse-onderskeid maak?   Ja, maar slegs op grond van natuurlike skeidslyne soos taal en kultuur.   Christus sê in Joh.10: 16: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie.  Ek moet hulle ook lei en hulle sal na my stem luister en dit sal wees een kudde, een herder”.

Die Skrif het dit teen karakter-haat.   En die maklikste om dit aan te wakker, is om vir iemand te sê dat jy beter as hy is.   Dis waar etniese geweld vandaan kom.   Kyk wat ’n paar jaar gelede in Rwanda gebeur het toe 800,000 Tutsi’s deur Hutu’s uitgemoor is; die maksimum haat vir die minste rede.

Rassehaat is vir enige land vernietigend.   Dit het Zimbabwe van welvaart na armoede laat tuimel!   Kenners sê dat dit die bedenklikste ekonomiese verval in die ganse mensegeskiedenis is!   “Hoe lank sal die land treur en die plante van die hele veld verdor?  Vanweë die boosheid van die wat daarin woon, vergaan diere en voëls…” (Jer.12:4).

Die mensdom aan die suidpunt van Afrika is huigelaars.   Hulle braak gal teen die sg. onreg van rassediskriminasie van die vorige bedeling, maar stel hul eie diskriminasie met regstellende aksie in.  ’n Britse verslaggewer stel dit as volg: Killing old discrimination with new discrimination! En staatslui wat dit toepas, word toegejuig en vereer.  Onbeskaamde huigelary!

Wat sit werklik agter regstellende aksie?   Vrees.  Swartes se vrees om met hardwerkende, gedissiplineerde blankes  met ’n Calvinistiese, Europees geskoeide arbeids-etiek te moet meeding.   En dit terwyl die Bybel sê dat ons met ons lot tevrede moet wees.

Daniel Etounga, ’n skrywer van Kameroen, slaan die spyker op die kop met sy artikel  Does Africa need a cultural adjustment program? Hy sê dat die Afrika-kultuur met afguns deurspek is.  Etounga vergelyk Afrika-samelewings met ’n sokkerspan wat deur persoonlike rusies en gebrekkige spangees geteister word.   Een speler wil nie die bal na ’n ander aangee nie omdat hy bang is dat die man dalk ’n doel kan aanteken.   Om blanke doele te verhoed, is Afrika eerder bereid om teen ander lande te verloor waar slegs die beste speler gekies word.

Gelowiges durf nooit  ʼn ander se lig doodmaak ten einde hul eie beter te laat skyn nie.   En dit is wat regstellende aksie doen.  Dis in werklikheid georganiseerde roof en ’n verbreking van die agtste gebod : “Jy mag nie steel nie”.