Die SAUK... en die storie daaragter
L J Bothma
1988
Lees reeks by Die SAUK... en die storie daaragter
Oos-Wes-siening vervolg:
Amerika het nie direk by die Angolese burgeroorlog betrokke geraak nie, maar via die CIA Suid-Afrika gebruik om die stryd te voer. John Stockwell, wat in Junie 1975 as hoof van die CIA se Angola-taakmag aangestel is, het die CIA-betrokkenheid later onthul. Samewerking tussen die CIA en Suid-Afrika het ingesluit vergaderings tussen CIA verteenwoordigers en Suid-Afrikaanse generaals asook die verskaffing van geheime inligting en hulp met die vervoer van wapens na lande wat aan Angola grens, sodat dit na die gevegsgebied geneem kon word. Volgens hom was die oorhoofse doelstelling om die Sowjet-Unie te mislei, maar die middele het ontbreek. Die wysmakery is ontmasker en die gevolge was die ingrawing van Kubaanse soldate in Angola met groot geloofwaardigheid. Suid-Afrika is in hierdie eskapade wreed ontnugter deur sy Westerse “leier”. Dit is op 24 Junie 1976 prontuit deur die SAUK aan die Suid-Afrikaanse publiek gestel: “Suid-Afrika is deur die VSA in die steek gelaat tydens die Angola-episode.” Na afloop van die Russies-Kubaans-gesteunde oorwinning van die MPLA, het Suid-Afrika nie sy steun aan Unita onttrek nie. In 1985 het genl Malan self erken dat Unita gesteun word: "Dit behels materiële, humanitêre en morele steun.” Hulp aan Unita, het hy gesê, sal voortgesit word totdat die Kubane uit Angola is.
In plaas van ’n posisie van onverbondenheid is die land nou gebonde tot ’n bondgenoot wat hom mislei en gebruik soos wat dit sy eie belange die beste pas. Op hierdie wyse het die Suid-Afrikaanse Weermag ’n instrument van Amerikaanse buitelandse beleid geword. Daar is tot vervelens toe daarop klem gelê dat die Kubane die handlangers van die Sowjet-Unie is. Watter verweer het Suid-Afrika om te sê die SAW is nie ’n surrogaatmag van die VSA nie? Kommentaar van 25 September 1985 het baie na aan die waarheid gekom met die volgende verwysing: “Kwalik ’n jaar gelede het pres Reagan self oor die teenwoordigheid van Kubaanse magte in Angola gesê die Sowjet-Unie daag Amerika nou uit — nie met ’n kernoorlog nie maar met ondermyning en die gebruik van surrogaatmagte." Wie anders kan die rol van surrogaatmag vir Amerika in Angola beter speel as juis die SAW? Reeds in 1976, onder die opskrif “Suid-Afrika se vennootskap met die VSA", het die SAUK gesê: “Suid-Afrika is nou in ’n vennootskap met die magtige VSA in ’n gemeenskaplike strewe om kommunistiese uitbreiding te stuit en die probleme van Suider-Afrika vreedsaam op te los.”
Aan die ander kant van die vasteland bevind Suid-Afrika hom in ’n soortgelyke situasie ten opsigte van die pro-Westerse Renamo wat ook in ’n stryd teen ’n pro-kommunistiese regering in Mosambiek gewikkel is. Soos die SAUK dit op 16 September 1983 gestel het: “Die prentjie in Mosambiek begin al hoe meer ooreenkomste toon met die toestand in Angola, waar die pro-Westerse Unita-beweging in 'n stryd gewikkel is met die Kubaans-ondersteunde MPLA-regering.” Dit is ook op 21 Mei 1982 duidelik gestel dat Renamo hom beywer vir die omverwerping van die kommuniste in Mosambiek en op 21 April 1983 is opgemerk: “Die einddoelstelling van Renamo is die omverwerping van die Machel bewind en die totstandkoming van ’n gematigde anti-Marxistiese regering wat demokraties verkies is.”
Sedert sy ontstaan het Renamo besliste vordering teen Frelimo gemaak. Die beweging spits hom veral toe op die sabotasie van die land se vervoernetwerk. Frelimo het in 1983 erken dat Renamo in nege van die land se tien provinsies bedrywig is. Die Renamo-leier het verder daarop aanspraak gemaak dat twee- vyfdes van die land reeds bevry is. Terwyl hongersnood die res van Mosambiek in die gesig staar, kweek Renamo kos op die plase in die bevryde gebiede, is op 17 September 1983 berig. Suid-Afrika is deurlopend daarvan beskuldig dat hy Renamo help. Dit was ook baie verdag toe bekend geword het dat die sekretaris-generaal van Renamo, Orlando Christina, op ’n plaas noord van Pretoria vermoor is. Slegs ’n paar maande ná die ondertekening van die Nkomati-verdrag het Machel Suid-Afrika daarvan beskuldig dat hy Renamo nog steeds steun.
Suid-Afrika se houding teenoor die pro-Westerse Renamo het egter dramaties verander. Vroeg in Desember 1982 het Renamo ’n petroldepot in Beira gesaboteer. Dit het Zimbabwe, wat Frelimo teen Renamo help, grootliks sonder brandstof gelaat. Suid- Afrika het toe met ’n “besondere reddingsoperasie”, aldus die SAUK, tot Zimbabwe se redding gekom.” Dit is ook belangrik om in te sien hoe die Oos-Wes-siening van die stryd, Suid-Afrika se misplaaste reaksie daarop, en die implikasies daarvan op ’n fyn gesinchroniseerde wyse aansluiting vind by die 20/80-filosofie. So byvoorbeeld was al die lawaai en hofmakery by Nkomati nie om die ANC totaal en al te elimineer nie, maar net te beperk. Kort daarna is op 18 April 1984 gerapporteer: "Uit Maputo word berig dat die ANC se teenwoordigheid voortaan beperk sal wees tot ’n diplomatieke sending van tien lede en ’n klein onderwyserskorps." Daarna het die uitnodigjng om te onderhandel gevolg. Dit is opgevolg met nog toegewings (hervormings) en mnr P W Botha se Carlton- en Goede Hoop-beraadvennote het die pad na die ANC letterlik snuif getrap. Die ANC se enigste antwoord daarop was om getrou aan sy beginsels die gewelddadige aanslag teen die land te verskerp. Daarteenoor is die NP-regering se beleid nie om die vyand in die eerste instansie te verslaan nie, maar om met hom te onderhandel.
Die 20/80-filosofie en die Oos-Wes-siening is ook in ’n ander belangrike opsig met mekaar gekoppel. Die Oos-Wes-siening impliseer ook dat die oorlog nie ’n stryd tussen swart en wit is nie.
Dit is ook so by die soldaat en die publiek ingehamer. Destyds is alreeds van die stryd in Mosambiek gesê: "...dat die terroristestryd nog nooit ’n swart-wit-konfrontasie was nie, maar dat hulle skouer-aan-skouer in die terroriste-oorloggeveg het.” Hierdie geloof dat swart en wit in Suider-Afrika nie in konfrontasie met mekaar verkeer nie, is natuurlik van kardinale belang vir die hervormer. Hervorming vereis ’n gevoel van gemeenskaplikheid tussen uiteenlopende rassegroepe. Die swart-teen-wit-siening van die stryd pas die hervormer glad nie omdat dit juis die klem op die verskille tussen die rasse plaas. Die Oos-Wes-siening daarteenoor, beklemtoon ’n gemeenskaplike vyand (kommunisme) en skep sodoende ’n gevoel van gemeenskaplike lotsgebondenheid tussen swart en wit. Dit het die argument verskaf om anderskleuriges in die Weermag op te neem. Dit het lynreg gebots met die beleid van afsonderlike ontwikkeling en - net soos gemengde sport — ’n onhoudbare spanning in die ganse samelewing veroorsaak.
Om hierdie spanning te akkommodeer, is die klem op sogenaamde “gematigdheid” geplaas. Hiervolgens is die stryd tussen blanke en nie-blanke gematigdes en blanke en nie-blanke radikale.
Dit wil sê dat ’n gematigde alliansie tussen wit en swart gevorm moet word om die aanslag teen te staan. Die ondervinding in die destydse Rhodesië illustreer hierdie dwaling baie mooi. So het mnr Ian Smith, nadat hy in April 1976 nog vier swartes in sy kabinet opgeneem het, gesê: “Ons poog om ’n verenigde nasie van al ons mense te bou — ongeag ras of kleur." Toe die referendum onder die land se blankes gehou is, het die SAUK huIle aangepor en gesê: “Indien gematigde blankes en swartes in Rhodesië saamstaan en bewys lewer van hul vertroue in mekaar, kan hulle moontlik nog Brits-Amerikaanse steun wen.” As dit nie gebeur nie, het die SAUK hulle op 30 Januarie 1979 wysgemaak, “sal dit.. die weg open vir ’n oorname deur die Patriotic Front”.
Die gematigde blanke en swart Rhodesiërs het toe saam gestaan, maar die radikale Patriotic Front het die mag met vlieënde vaandels uit hul hande geneem by die stembus. Eers toe het die Brits-Amerikaanse steun gekom. Heel ironies het Muzorewa (die voorbeeld van swart gematigdheid) in sy laaste nuuskonferensie voor die finale verkiesing ’n beroep op die Weste gedoen om weerstand te bied teen Marxistiese magte in die subkontinent. Daarna het die einste SAUK op 21 April 1980 die volgende oor Zim- babwe se onafhanklikheidsvieringe gerapporteer: “Die Britse kroon en die Kremlin het saam feesgevier; en hulle het ongetwyfeld by die geleentheid ook saam gelag.” Dieselfde wysmakery oor gematigdheid is nou in Suid-Afrika aan die gang. Weer is 'n vrome Brittanje en Amerika betrokke. Weer gaan die uitslag dieselfde wees en weer gaan die absolute futiliteit van die 20/80-filosofie bewys word.
Hoe die stryd gevoer moet word
’n Mens hoor so dikwels die onsinnige argument dat hier oorlog gaan uitbreek as die regse partye die bewind in ’n verkiesing oorneem, terwyl die land al jare lank in ’n oorlog betrokke is.
Die waarheid is dat die NP-regering met sy 20/80-filosofie en Oos-Wes-siening van die stryd nie in staat is om die oorlog te beëindig nie. Trouens, die aanslag teen die land het verhewig! Die regse partye wil juis die oorlog staak en ’n ANC-oorname verhoed. Die vraag is gevolglik, hoe?
Eerstens moet die onverklaarbare strategie waarmee die vyand met hervormings eerder as die wapen beveg word, gestaak word.
Die rol van die soldaat moet herstel word. Die hervormingspolitiek van die NP-regering verhoed dat die vyand regstreeks verslaan word. ’n Voormalige bevelvoerder van die veiligheidsmagte in Suidwes, genl-maj Charles Lloyd, het tereg op 20 Februarie 1981 aan Die Transvaler gesê: “Die veiligheidsmagte van SA en SWA kan Swapo totaal vernietig as dit nie was vir politieke en ander beperkings nie.’’
Die ewe onverklaarbare beleid van die NP om kos aan ons buurstate te verskaf wat op hul beurt weer terroriste huisves, sal ook gestaak moet word. Na al die jare van kosvoorsiening het hul vyandigheid net eenvoudig toegeneem. Suid-Afrika moet sy ekonomiese mag ook inspan soos nodig en doodeenvoudig sy grense blokkeer tot tyd en wyl die betrokke lande teen terroriste wat hulle grondgebied gebruik optree. Dit is nou ’n bekende feit dat mnr Vorster Rhodesië op sy kniee gedwing het met ’n blokkade.
Hoekom wil die NP-regering dit nie ook met Zimbabwe en Mosambiek doen nie? Hulle het dan onlangs dieselfde taktiek met sukses teen Lesotho toegepas?
Vervolgens sal die beheptheid met die belange van die Weste ook gestaak moet word en in eie belang opgetree wort - Dit sal beslis ’n verandering in buitelandse beleid moet beteken. Op die huidige oomblik word die verdedigingsbeleid lam gelê deurdat sogenaamde Westerse belange voorop gestel word. Suid-Afrika se selfbeskikking kom al hoe meer in vreemde hande. Daar is deesdae ’n konstante stroom buitelanders wat hulself die reg toeëien om aan Suid-Afrika voor te skryf hoe hy sy probleme moet oplos. Alhoewel die regering hoog en laag opgee dat hy dit nie toelaat nie, gee hy met verdrag toe aan elke eis wat hulle stel.
’n Nugtere benadering tot buitelandse beleid sal ook beteken dat hulp aan Unita en Renamo nie nodig sal wees nie. Suid-Afrika moet net ophou om kos en ander hulp aan ons gemeenskaplike vyande te verskaf. Dit is ou nuus dat die Nkomati-verdrag die Machel-regering van ondergang gered het. Dit is mos nie hoe kommunisme beveg word nie. Dit sal ook verhoed dat Suid-Afrika hom laat betrek by avonture soos die Angola-episode van 1975.
Hierdie alternatiewe benadering sal in sy geheel ’n verheffende invloed op ons Weermag hê. Die huidige beleid is veral in twee opsigte neerdrukkend. Eerstens is die wysmakery daar dat die vyand nie militêr verslaan kan word nie. Die terroris weier om ’n kompromis te aanvaar wat die bloed van sy makkers opoffer, maar daarteenoor word die geloof by ons ingehamer dat ons hom nie met die wapen kan verslaan nie en gevolglikkompromieë met hom moet maak. Daarom die gedurige aanbiedinge van nie-aanvalsverdrae en skietstakings ten spyte van die feit dat ons die sterkere is. Hoekom moet ons ons makkers se bloed offer deur kompromieë te maak terwyl die terroris weier? Ons seuns betaal die hoogste prys in hierdie stryd terwyl die kompromie-soekers nie een lewe gegee het nie.
Tweedens sorg onverantwoordelike politiekery dat die Weermag se stryd feitlik ’n bespotting geword het. Op die vooraand van die referendum op 2 November 1983 het mnr P W Botha aan almal wat NEE gesê het vir sy grondwet die volgende gesê:
“U is in die geselskap van die ANC, u moet self daaroor besluit."
Dit het beteken dat duisende soldate wat hulle demokratiese reg gebruik het om NEE te sê skielik aan die kant van die ANC was.
Wanneer die soldaat dus sy kruisie teen die regering trek dan stem hy saam met sy vyand, maar as hy sy wapen optel dan verwag die regering van hom om die vyand te skiet. Intussen soek die einste JA-regering ywerig na ’n kompromie met die ANC en was dit hy wat die vyand na die konferensietafel genooi het. Wie verlang nou na die geselskap van die ANC? Met hierdie slinkse referendum-slenter het die NP ook gesorg dat die ANC ongekende publisiteit kry en verder is vrees by die publiek verwek. Dit is presies wat die ANC nodig het om te oorleef. Dit moet ook vermeld word dat die einste NP nou regeer saam met mense wat openlik hulle afkeuring teenoor die Weermag uitspreek en geen geheim van hulle ver-linkse sentimente maak nie.
As dit waar is dat Suid-Afrika die oorlog wen, dan rym dit nie dat hy sy vyande na die konferensietafel nooi nie. Die verloorder is die een wat vredesonderhandelinge vra, nie die wenner nie.
Vervolg...