Die SAUK... en die storie daaragter
L J Bothma
1988
Lees reeks by Die SAUK... en die storie daaragter
Ekonomiese beleid
Inleiding
Die Suid-Afrikaanse ekonomie staar ’n besliste ineenstorting in die gesig. Kundiges het die huidige situasie al as erger as die Groot Depressie van die dertigerjare beskryf. Dit staan ook in skrille kontras met die voorspoed wat tydens die bewindsjare van dr H F Verwoerd geheers het.
Dit is inderdaad nou van deurslaggewende belang dat daar ernstig besin word oor die krisis, anders sal ’n ramp die hele Suider-Afrika op die lange duur tref. Die verskonings wat vir die swak ekonomie aangevoer word, oortuig beslis nie. Die fout word gesoek by die goudprys, die wisselkoers, sanksies, disinvestering, die totale aanslag, apartheid, die droogte en dies meer. Wat egter uit die oog verloor word, is die rol van die mens self. Die ekonomie van ’n land word inderdaad bepaal deur sy mense in hul totaliteit. Daarom moet enige ondersoek na die huidige krisis begin by die basis, naamlik beleidvoering in sy breedste sin.
Die verwantskap tussen die politiek en die ekonomie
Anders as wat die publiek soms dink, is daar ’n besliste en dikwels delikate wisselwerking tussen die ekonomie en die politiek.
Ongelukkig het die huidige regering (NP) se strydkreet om die ekonomie sogenaamd te “depolitiseer” die onkunde oor die verhouding tussen ekonomie en politiek verder vergroot. Dit is nodig om enkele sleutelaspekte van hierdie verwantskap uit te lig.
In die eerste instansie sal die ekonomie in 'n klimaat van stabiliteit gedy. Stabiliteit in die breë is die basis van sakevertroue.
Sakevertroue is op sy beurt die dryfveer vir belegging, wat die fondament van ’n groeikragtige ekonomie vorm. Politieke onstabiliteit lei noodwendig tot ekonomiese onstabiliteit. Die Soweto-onluste van 1976 en die huidige vlaag onrus is klinkklare bewyse van hierdie waarheid.
Tweedens speel buitelandse beleid ook ’n belangrike rol om die stand van die ekonomie te bepaal. Buitelandse beleid is natuurlik die prerogatief van daardie politici wat die land regeer en gevolglik het dit ’n bepaalde politieke ondertoon. Die NP-beleid van“vreedsame naasbestaan” teenoor ons buurlande het byvoorbeeld besliste implikasies vir die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.
Eweneens het die beleid van Westersgebondenheid kritieke implikasies vir die Suid-Afrikaanse volkshuishouding. Vergelyk byvoorbeeld die regering se beleid om nie teen-sanksies teen die Weste toe te pas nie.
Minder opsigtelik soms is die rol wat die verdedigingsbeleid as ’n bepaler van die land se ekonomiese gesteldheid speel. Suid-Afrika se verdedigingsbeleid is slegs twintig persent militêr gerig en gevolglik is dit ’n oorwegend politieke beleid. Dit het die implikasie dat die land in ’n staat van chroniese onstabiliteit gedompel is. Alhoewel daar ekonomiese voordele uit die oorlog spruit, is die nadele baie groter, veral oor die lang termyn. Die eensydige dienspligstelsel het byvoorbeeld tot gevolg dat ’n groot aantal van die land se top-geskooldes permanent uit die arbeidsmark onttrek word terwyl die hoofsaaklik half- en ongeskooldes uit hulle pad uitgaan om die ekonomie te destabiliseer.
Die mees bepalende faktor vir die ekonomie van ’n land is egter sy binnelandse beleid. Suid-Afrika het oor die afgelope twintig jaar minstens drie verskillende binnelandse beleide gehad. Eerstens “apartheid” onder dr Verwoerd, daarna “wegbeweeg van diskriminasie” onder mnr Vorster en nou “magsdeling” onder mnr P W Botha. Dit volg noodwendig dat daar drie verskillende ekonomiese resultate is.
Afsonderlike ontwikkeling en die ekonomie
Apartheid in sy suiwerste vorm was die beleid van dr Verwoerd en sy onmiddellike voorgangers. Dit het gestaan op die nasionale beginselsbasis waar elke volk die reg het om homself te regeer.
Dit het beteken dat die klem op die bepaalde bevolkingsgroepe geval het. Binne hierdie ruimte moes die ekonomie homself skik.
So byvoorbeeld het die Groepsgebiedewet beteken dat daar aparte sakegebiede moes wees. Dit was veral die arbeidsmark wat die meeste geraak is deur die politieke beleid. In kort kom alles egter daarop neer dat die verhouding vanaf die politiek na die
ekonomie geloop het.
Die ekonomiese prestasies wat onder hierdie beleid behaal is, was inderdaad skouspelagtig. Inflasie was ’n onbeduidende faktor en ’n groeikoers van vyf persent was nie raar nie. Die rand het sterk gestaan teenoor alle valuta en Suid-Afrika het onder die kredietwaardigste lande ter wêreld getel. Werkgeleenthede was volop en gevolglik was daar arbeidsvrede. Voorts was die landbou op ’n gesonde grondslag.
Dit moet ook vermeld word dat die swart bevolking aan die suidpunt van Afrika onder apartheid tot die welvarendste swartes in die ganse Afrika gevorder het. Trouens, die voorspoed en stabiliteit wat in Suid-Afrika geheers het, het deurgesuurdeeg na die hele Suider-Afrika. Geen gevalle is bekend van swartes wat uit die land uitgevlug het op soek na ’n veiliger en voorspoediger toekoms nie. Inteendeel, in Suider-Afrika het vlugtelinge nog net altyd een pad geken.
Dit was in kort die ekonomiese toestand wat geheers het onder die bewind van dr Verwoerd en die onmiddellike jare daarna.
Wegbeweeg van diskriminasie en die ekonomie
Die bewindsaanvaarding van mnr Vorster het nie onmiddellik tot noemenswaardige beleidsveranderinge gelei nie. Dit sou egter in die vroeë sewentigs duidelik word dat mnr Vorster nie bereid was om by die Verwoerd-beleid te staan nie.
Nadat die sportbeleid verander is en nog kleinere veranderinge gevolg het, het mnr Pik Botha in 1974 sy geskiedkundige bekentenis aan die WO gaan maak dat Suid-Afrika in die toekoms gaan “wegbeweeg van diskriminasie”. Die indruk is by die publiek geskep dat dit maar net ’n paar klein verstellingtjies aan apartheid sou wees. Dit het egter ’n totale ommekeer in beide ekonomiese en politieke beleidvoering teweeggebring. Hierdie nuwe beleid het stadig deur die hele volkshuishouding versprei en vandag word die vernietigende gevolge daarvan ervaar. Vervolgens is dit nodig om die verloop van hierdie proses stapsgewys uit te wys.
Die uitskakeling van die loongaping
Die loongaping waarna hier verwys word, is die gaping tussen blanke en nie-blanke lone. Die aandrang op die uitskakeling van hierdie gaping het al in die sestigerjare ’n aanvang geneem. Dit moet van meet af gestel word dat hierdie kreet aanvanklik van buite die land gekom het. Soos dit momentum opgebou het, het linkse drukgroepe binne die land ook tot die stryd toegetree. Multi-nasionale maatskappye het veral ’n deurslaggewende rol gespeel.
So, byvoorbeeld, het ’n gekose komitee van die Britse parlement in 1973 ondersoek ingestel na die lone wat Britse maatskappye hul swart werkers in Suid-Afrika betaal. Die voorsitter van Unilever, mnr Woodroffe, het voor die komitee getuig dat sy groep die lone van sy swart werkers in die voorafgaande tien jaar met 162 % verhoog het teenoor ’n verhoging van slegs 71 % vir blanke amptenare. Een van sy assistente, mnr Archer, het getuig dat swart koopkrag met 130 % gestyg het.
Hierdie agitators het aangevoer dat die nie-blanke veronreg is.
Op die oog af het dit baie vroom en onskuldig gelyk, maar die ware motief agter die veldtog is op 13 Maart 1973 raak deur die SAUK opgesom: "Vanselfsprekend is hierdie veldtogte daarop gemik om die Suid-Afrikaanse binnelandse beleid te ondermyn en as sodanig moet dit tot elke prys bestry word. " Verder is ook opgemerk: “...dit bevestig wat Suid-Afrika lank reeds besef, naamlik dat die veldtog van die begin af kunsmatig en polities geïnspireer is.”
Suid-Afrika se reaksie op hierdie aanslag sou die deurslaggewende faktor wees. Ongelukkig was die Vorster-regering se reaksie een van swakheid. Net soos in die geval van die militêre aanslag, het die regering juis dit gaan doen wat sy vyande van hom gevra het. Die SAUK het die aanvoorwerk gedoen om hierdie swakheid vir die publiek aanvaarbaar te maak toe gesê is: “As die lone van Bantoewerkers buitensporig laag is, kan daar verwag word dat dit in die buiteland aangegryp sal word. Dit is die enigste terrein waarop hierdie aanslag doeltreffend bestry kan word.”
Slegs ’n paar dae daarna, op 27 Maart 1973, het die SAUK sommer die openbare mening oor die aangeleentheid opgemaak en gesê: “Daar is vandag eenstemmigheid oor die wenslikheid van hoër lone vir Bantoewerkers.” Nadat die klimaat eers voorberei was, het die Vorster-regering die uitskakeling van die loongaping tot amptelike beleid verklaar.
Die regering het die kriterium wat die buiteland vir hom gestel het, aanvaar deur die loopgaping bloot op emosionele gronde te begin uitfaseer. Alle ekonomiese wetmatighede is summier oorboord gegooi en oor die langtermyn sou hierdie beleid soos ’n kanker deur die hele ekonomie versprei. Die suiwer ekonomiese beginsel van die arbeider wat sy loon werd moet wees, is oor die hoof gesien. Daarvolgens moet ’n arbeider loonverhoging volgens sy produktiwiteit ontvang. Die regering se misplaaste reaksie het daarop neergekom dat hierdie volgorde omgedraai is. Die nie-blanke arbeider het eers ’n loonverhoging gekry en toe is daar van hom verwag om meer produktief te wees. Dit is egter gekheid om van enige arbeider te verwag om meer produktief te wees as die maatstaf nie produktiwiteit is nie, maar sogenaamde veronregting. Dit het nie-blanke arbeiders eerder aangespoor tot laer produktiwiteit, want hulle het gou tot die besef gekom dat hulle nie ’n hoër loon hoef te verdien om dit te kry nie. Terselfdertyd het die dryfvere vir die blanke om harder te werk ook verminder.
Gevolglik is dit te begrype waarom Suid-Afrika vandag onder die lande met die laagste produktiwiteitsyfers tel. In 1983 het 'n internasionale studie aangetoon dat Suid-Afrika, met die uitsondering van Zambië, die laagste produktiwiteitsyfer het. Dit moet ongetwyfeld aan die regering se loonbeleid toegeskryf word.
Nadat hierdie ekstern geïnisieerde veldtog eers neerslag gevind het by die publiek en dit beleid geword het, het die regering letterlik die pasaangeër daarvan geword. So het die SAUK dan ook op 16 Februarie 1979 berig: “Om die gaping te oorbrug is dit nie net Britse of ander buitelandse maatskappye wat ’n voorbeeld stel nie. Die staat het reeds lankal die voortou geneem." Met ander woorde, ons regeerders het die leiding by die land se vyande
oorgeneem om Suid-Afrika se binnelandse beleid te ondermyn.
In dieselfde asem is willens en wetens aan die kiesers gesê dat daar nie aan buitelandse druk toegegee word nie.
Feit van die saak is egter dat die uitskakeling van die loongaping vir die regering ’n prestasie geword het waarmee hy by die buiteland begin spog het. Mnr Pik Botha het in 1974 aan die WO gesê die proses vind plaas teen ’n pas wat moeilik elders ter wereld geëwenaar kan word. So ’n momentum is opgebou dat mnr Marais Steyn, ambassadeur in Brittanje, in 1983 gesê het dat Suid-Afrika jaarliks rykdom teen ’n koers van 7 % na die ander bevolkingsgroepe oordra - die hoogste ter wereld!
Mnr John Vorster was deeglik bewus van die uiteindelike implikasies van die loonveldtog. Hy is op 8 Desember 1976 deur die SAUK aangehaal as sou hy gesê het: "Van die eis om ’n herverdeling van inkomste in Suid-Afrika wat onder andere uit hierdie skuldkompleks voortspruit... sal dit die totale ineenstorting van die Suid-Afrikaanse ekonomiese en politieke bestel beteken — iets wat die swart volke waarskynlik swaarder sal tref as die blankes.” Mnr Vorster kon die gevolge van sy eie beleid nie beter voorspel het nie. Vandag het die tyd hom korrek bewys. Dit is absurd om so ’n leier soos mnr Vorster derhalwe ’n
staatsman te noem.
Swart koopkrag
Om te verstaan hoe die oenskynlik onskuldige loonveldtog uiteindelik die klimaat sou skep vir ’n nuwe politieke bestel, moet die implikasies van die veldtog onder oë geneem word.
Een daarvan is ’n verskuiwing in koopkrag vanaf blank na nie-blank.
Hierdie logiese gevolg is raak deur die SAUK voorsien en reeds op 3 Oktober 1974 is voorspel dat die jaarlikse inkomste van swartes voor die einde van die eeu meer as dubbeld die van die blankes sal wees. Tien jaar later het die einste SAUK by wyse van ’n terugskouing gerapporteer dat die reële inkomste van stedelike swartes met 68,5 % gestyg het. Dit moet gesien word teen die agtergrond van 'n daling in produktiwiteit en ’n daling in die reële lone van die blankes.
Dit is opvallend dat dit juis sakelui was wat die uitskakeling van die loongaping aangestig het. Die enkele rede hiervoor is natuurlik hoër winsverwagtinge. Getalsgewys oorskadu die swartes die blankes verreweg en het hulle ook ’n hoër bestedingsgeneigdheid as die blankes. Dit het beteken dat daar ’n potensiële mark met byna onuitputlike potensiaal braak gelê het. Uit ’n suiwer sake-oogpunt het dit dus sin gemaak om ’n herverdeling van inkomste te bepleit. Dit is ook deur die SAUK uitgewys toe op 3 Oktober 1974 gesê is: “. . . wat hier vir die private sektor van groot betekenis mag wees, is die dinamies ontwikkelende swart koopkrag.”
Die regering was duidelik bewus van die winsgeleenthede wat in sy loonbeleid opgesluit lê. So byvoorbeeld het dr. Dawie de Villiers in 1982 opgemerk: “ ’n Gepaardgaande toename in verdienste en besteding, veral onder swartes, sal die Suid-Afrikaanse mark in ’n mate verander wat skaars denkbaar is in die versadigde twee-motor-per-gesin-markte van Noord-Amerika, Europa en ander ontwikkelde lande.”
Wat uit ’n besigheidsoogpunt goed is, is egter nie altyd goed vir die land nie. Dit is opmerklik dat die sakelui wat die loonveldtog geloods het, ook diegene is wat die afskaffing van apartheid bepleit. Daar is egter vanuit die suiwer politiek nie veel wat die geldmagnate kan doen om apartheid te breek nie. Hulle greep op die ekonomie gee hulle egter ’n minder sigbare en uiters subtiele hefboom om uiteindelik die gang van die politiek in Suid-Afrika te bepaal. Deur die regering se beleid van loonpariteit, het hy ’n enorme ekonomiese magsverskuiwing aan die gang gesit en juis die Afrikaner se vyande ten goede gekom. Tradisioneel het die Afrikaner nie slegs die politieke mag besit nie, maar ook ’n aansienlike deel van die ekonomiese mag — minstens die koopkrag.
Hierdie ekonomiese mag skuif egter nou oor na die swartes. Die uitskakeling van die loongaping voed dus swart koopkrag, wat op sy beurt weer die ekonomiese mag geleidelik na die swartes herverdeel. Dit is krities belangrik om in te sien dat ‘‘ekonomiese magsdeling” al ’n paar jaar voor ‘‘politieke magsdeling” ter sprake was. Dit is net nie by die naam genoem nie.
Vervolg...