Die SAUK... en die storie daaragter
L J Bothma
1988
Lees reeks by Die SAUK... en die storie daaragter
Inflasie
Die inflasionêre gevolge van die uitskakeling van die loongaping is enorm. Inflasie as sodanig is egter ook ’n herverdeler van welvaart en kom so ook die herverdelingsbeleid ten goede.
Suid-Afrika se buitengewoon hoë inflasiekoers is onder meer die gevolg van sy loonbeleid. Niemand is seker beter bevoeg om die geldigheid van hierdie stelling te toets as 'n voormalige minister van Finansies, mnr Owen Horwood, self nie. Hy het by geleentheid gesê dat die uitskakeling van die loongaping vyftig persent bydra tot die inflasiekoers. Per implikasie beteken dit dat Suid-Afrika se inflasiekoers dus nou ongeveer tien persent kon gewees het!
Daar is reeds verwys na die verlammende effek wat die uitskakeling van die loongaping op produktiwiteit het. Om in ’n tydperk van dalende produktiwiteit met salarisaanpassings voort te gaan, kan op die lange duur tot inflasie lei. In 1980 het min. Horwood op hierdie waarheid gewys toe hy gesê het dat salarisaanpassings van swart werkers nie met ooreenkomstige verhogings in produktiwiteit gepaard gaan nie en dat dit gevolglik een van die grootste inflasionere faktore is. Reeds so vroeg as 1977 het die nyweraar en bankier, dr Frans Cronje, die vinger op dieselfde teer senuwee gedruk. Hy het bygevoeg dat lone in die vorige ses jaar met 97 % toegeneem het en produktiwiteit met net 7 %.
Oor die algemeen word inflasie gedefinieer as ’n volgehoue styging in die algemene prysvlak. Daar moet egter in gedagte gehou word dat geen inflasie sonder ’n verhoging in die geldvoorraad moontlik is nie. Derhalwe verkies baie ekonome om te praat van “die inflasie van die geldvoorraad” en om na stygende pryse te verwys as die gevolg van inflasie. Hierdie siening skakel baie verwarring oor inflasie uit en sorg dat die verantwoordelikheid vir die handhawing van 'n stabiele prysvlak op die skouers van die verantwoordelike instansies bly. In Suid-Afrika is dit die plig van die Suid-Afrikaanse Reserwebank in oorleg met die Tesourie.
Die De Kock-verslag het uitgewys dat daar inderdaad 'n noue korrelasie tussen die groei in die geldvoorraad en die styging in die algemene prysvlak bestaan. Hoofstuk 15, paragraaf 26, lui dan ook as volg: "Die Kommissie glo dat die oormatige en hoogs onstabiele groei van die monetêre groothede ’n hoofgrond was van die inflasie-ondervinding van die afgelope twintig jaar of meer.” Wat belangrik is, is die feit dat die uitskakeling van die loongaping en die wyse waarop dit aangepak word, nie inflasionisties kan wees sonder die oormatige groei in die geldvoorraad waarna verwys is nie. In kort kom dit daarop neer dat meer geld in omloop gebring word om dieselfde hoeveelheid of minder goedere en dienste mee te koop. Andersom gestel beteken dit dat die uitskakeling van die loongaping “gefinansier” word deur geld in omloop te plaas wat nie in die produksieproses verdien is nie.
Die resultaat is stygende pryse en ’n gevolglike daling in die koopkrag van geld.
Die monetêre owerhede wat in staat is om die geldvoorraad te beheer en te beïnvloed, moet dus die verantwoordelikheid vir inflasie aanvaar. Solank as wat die regering egter volhard om vir die swartes gelyke lone te probeer “koop” sal die inflasiekoers hoog bly. Omdat die NP-regering onverbiddelik tot loonpariteit verbind is, moet hy met inflasie saamleef en gevolglik die publiek op elke moontlike wyse om die bos probeer lei. Van meet af aan was die regering daarop uit om die publiek te kondisioneer om die dubbelsyfer-inflasiekoers te aanvaar. Daarvoor is die SAUK ingespan. Op 12 Junie 1974 is byvoorbeeld die volgende onsinnigheid aan die publiek voorgehou:
“Dit lyk dus of Suid-Afrika inflasie as onvermydelik moet aanvaar in sy strewe tot groter ekonomiese groei.”
Die tyd het egter uitgewys dat inflasie en groei nie komplementêr is nie, maar dat hoër inflasie juis groei verteer. Waar die inflasiekoers onder dr Verwoerd se bewind byvoorbeeld 2 persent was en die groeikoers 5 persent, is inflasie nou twintig persent teenoor ’n dikwels negatiewe groeikoers. Die bedoeling was dus suiwer om die publiek gewoond te maak aan ’n abnormaal hoë inflasiekoers. Die SAUK het ook op 3 Maart 1978 gesê dat inflasie ’n wêreldwye verskynsel is en dat daar nog nerens 'n antwoord daarop gevind is nie. Dit is eweneens nie meer waar nie want vandag is die inflasiekoers in Wes-Duitsland selfs negatief. Die waarheid is dat die NP-regering nie die wil het om inflasie hok te slaan nie.
Om die skyn te bewaar, het die regering boonop ’n skynoorlog teen sy eie inflasie-monster van stapel laat loop. Die SAUK het op 28 Augustus 1975 berig dat “... daar van owerheidsweë alles in die stryd gewerp word om inflasie te bekamp”. In Desember 1975 het die Reserwebank ook verklaar dat dit ’n saak van dringendheid geword het om die "inflasiekoers tot ’n laer vlak as dié van ons handelsvennote af te dwing." Dit is nooit verwerklik nie.
Inteendeel, terwyl die inflasiekoerse van ons handelsvennote bly daal het, het Suid-Afrika se inflasiekoers op die lange duur bly styg. In 1976 is ’n inflasieveldtog onder leiding van dr Lawrence McCrystal van stapel laatloop, maar ook sonder sukses. In 1983 het die SAUK weer berig: "Suid-Afrika se finansiële owerheid beplan ’n poging om die land se hoë inflasiekoers vir eens en vir altyd af te dwing.”
Kort daarna het mnr P W Botha ’n konferensie voorgestel om ’n nasionale strategie te formuleer om inflasie hok te slaan. Daar is belowe dat die veldtog glo die vraagstuk "by die wortel" sou pak. Helaas is daar nie by die wortel uitgekom nie, omdat die wortel van die kwaad ’n onontbeerlike stutpilaar van regeringsbeleid is. Nou het die regering sy Ekonomiese Adviesraad onder leiding van dr Kerneels Human opdrag gegee om die inflasie-vraagstuk te ondersoek. Die publiek het beslis nie rede tot opgewondenheid nie.
Die verbasende is egter dat, nadat ’n skuldgevoel oor swart loonpeile gevestig is, die publiek ook die skuld vir inflasie gekry het.
Die SAUK het byvoorbeeld op 13 Augustus 1984 gemaan: "Niks is belangriker in die stryd teen inflasie as die gesindheid van die publiek nie. ” Asof die gesindheid van die owerheid nie die deurslaggewende faktor is nie! Ten spyte van sy meedoening aan die wydverspreide misleiding oor die inflasie-vraagstuk, het die SAUK tog die vinger op die regte plek gedruk toe hy op 21 April 1980 die saak soos volg in 'n neutedop gestel het: "In die internasionale gemeenskap word dit vandag al hoe wyer aanvaar dat oorbesteding in lande oor ’n lang tydperk aan die hart van die wereldwye (?) inflasievraagstuk lê. Meer geld is eenvoudig deur regerings geskep om aan maatskaplike eise te voldoen sonder ’n ooreenstemmende verhoeing in produktiwiteit. Gevolglik is die waarde van die geld weegevreet.”
Die hulp wat die regering van inflasie vir sy herverdelingsbeleid kry, is onlangs mooi uitgewys aan die hand van ’n skematiese voorstelling van die verspreiding van die belastinglas wat in The Star (8/3/87) verskyn het. In kort kom dit daarop neer dat, wanneer individue salarisaanpassings kry om tred te hou met inflasie, hulle voortdurend in aanmerking kom vir hoër belastingkoerse. In Engels word dit die sogenaamde “fiscal drag” genoem. Hoe hoër die inflasiekoers, hoe swaarder die belastinglas wat die individu moet dra. Die individu in hierdie geval is egter hoofsaaklik die blanke belastingbetaler. Op hierdie wyse help inflasie dan die regering om op ’n minder sigbare wyse meer geld uit die blankes te pers en dit dan aan swart onderwys en behuising te bestee.
Die regering het homself in ’n situasie ingedwing waar hy net eenvoudig nie meer sonder inflasie kan regeer nie. Doen hy iets aan inflasie, dan knars sy herverdelingsbeleid tot stilstand.
Gelyke geleenthede
Die aandrang op die uitskakeling van die loongaping, wat op niks anders neerkom as ’n herverdeling van inkomste nie, het spoedig ’n aandrang op ’n “herverdeling van geleenthede” geword. Dit het beteken dat ’n totaal nuwe arbeidsbedeling vir die land geskep sou moes word. Dit was op hierdie terrein wat die vyande van apartheid hulle grootste deurbraak gemaak het.
Net soos die loonveldtog aanvanklik van buite die land georkestreer is, so is ook die arbeidsveldtog by monde van veral die Britse Vakbondraad gevoer. Die motiewe agter die veldtog is vanuit die staanspoor ontbloot. So byvoorbeeld het die destydse minister van Arbeid, mnr Marais Viljoen, in 1972 reeds gesê dat die erkenning van swart werkers in vakbonde nie in die belang van arbeidsvrede is nie. Op 24 Januarie 1974 het die SAUK in direkte reaksie op die Britse Vakbondraad se veldtog gesê: “Dievakbondwese, net soos ander aspekte van die Westerse demokratiese proses, vind eenvoudig nie aansluiting by die swart man se aard nie. Sowel die motiewe as die insig van die Britse Vakbondraad is dus onder verdenking.”
Die Vorster-regering het egter presies weer gaan doen wat sy vyande van horn gevra het. Hierdie vyande het geweet dat die uitskakeling van die loongaping die bal aan die rol sou sit. Boonop is Suid-Afrika onomkeerbaar verbind tot die een toegewing na die ander deur sy “wegbeweeg-van-diskriminasie”-beleid. Ewe onskuldig is die aanvoorwerk deur die SAUK gedoen toe op 8 Desember 1976 voorgestel is: “Daar sal miskien ook gedink kan word aan ’n herverdeling van geleenthede.” Soos in die geval van die loongaping, het die SAUK met sy voet in die deur sommer weer sy suggestie tot algemene aanvaarding verhef met hierdie opmerking op 15 Julie 1977: “As gevolg daarvan verlang Europese leiers . . . veral op die gebied van die arbeidsverhoudinge, hoofsaaklik ’n regverdiger verdeling van arbeidsgeleenthede - iets wat met die ontwikkeling van die swart werker in elk geval in die verlengstuk van Suid-Afrika se beleidsontplooiing lê. ” Die Vorster-regering het egter geen "beleidsontplooiing" in die vooruitsig gestel nie, maar ’n radikale beleidsverandering. Daarmee het hy seker gemaak dat hy doen soos wat die buiteland van hom gevra het. Dit is betekenisvol dat die SAUK in dieselfde Kommentaar van 15 Julie 1977 verwys het na ’n uitlating van dr David Owen, destyds Brittanje se minister van Buitelandse Sake. Hy sou gesê het dat Europa sy ekonomiese erfenis moet gebruik as katalisator vir verandering in Suid-Afrika. Daarmee het hy eintlik gesê dat Suid-Afrika se vyande eers die ekonomiese orde in die land moet help omkeer om uiteindelik ook die politieke orde te kan omkeer. Dit was presies die pad waarop die Vorster-regering Suid-Afrika geplaas het.
In Augustus 1977 het mnr Vorster toe ’n veelrassige kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van prof NicWiehahn aangestel om Suid-Afrika se twaalf sleutel-arbeidswette wat sedert 1939 aangeneem is, te ondersoek. ’n Eenmankommissie, bekend as die Riekert-kommissie, is ook aangestel om ondersoek in te stel na mannekragbenutting. In totaal het hierdie kommissie ’n radikaal nuwe arbeidsbedeling voorgestel. Al die gevalle is nie dadelik deur die Botha-regering, wat toe aan bewind gekom het, in werking gestel nie, maar met verloop van tyd is feitlik almal egter deurgevoer.
Dit is nie nodig om ’n gedetailleerde uiteensetting van al die aanbevelings te gee nie. Die belangrikste is om die klemverskuiwings wat uit die verslag voortgekom het te identifiseer. Daar is veral twee grondliggende veranderinge wat verreikende implikasies het.
Eerstens het die nuwe arbeidsbedeling die klem vanaf die beskerming van groepsbelange by die werksplek na die beskerming van individuele belange verskuif. Die eenvoudige feit is dat, solank rasse deur byvoorbeeld werkreservering beskerm word, die beleid van ‘ ‘wegbeweeg van diskriminasie” geen oortuigingskrag in die internasionale gemeenskap sou hê nie. Daarom is alle verwysings na ras en kleur uit die arbeidswette geskrap. Dit is dan ook so op 30 April 1979 deur die SAUK bevestig toe opgemerk is: “Die ontwikkelinge wat op die gebied van arbeid aan die gang is, is in hoofsaak die vergestalting van een van die regering se breë beleidstandpunte, naamlik dat diskriminerende maatreëls . . . afgeskaf moet word." Die nuwe arbeidsbedeling het weldra ook iets geword waarmee die regering teenoor die buiteland (wat dit geïnisieer het) begin spog het.
’n Lotsbepalende implikasie lê egter opgesluit in die klemverskuiwing vanaf die groep na die individu op die arbeidsterrein.
Dit het naamlik ’n era ingelui waar die ganse ekonomiese orde met die individu as primêre objek in Suid-Afrika wortel geskiet het — die sogenaamde vrye mark. Daarmee het die NP-regering sy ekonomiese beleid op dieselfde grondslag geplaas as die van die PFP. In ’n dokument wat op 3 Oktober 1981 vrygestel is, word die PFP se ekonomiese beleid duidelik uitgespel as ’n beleid van geen diskriminasie op grond van ras of kleur en een waar maksimum individuele vryheid die grondbeginsel is. Suid-Afrika is nou in ’n posisie geplaas waar sy ekonomiese beleid op die individue fokus, maar sy politieke beleid op rassegroepe. Dit het onhoudbare spanning in die ganse samelewing veroorsaak. Wegbeweeg van diskriminasie behels nie net die afskaffing van ekonomiese diskriminasie nie maar ook van politieke diskriminasie.
As die primêre objek in die ekonomie die individu is, dan geld dit ook vir die politiek. Die PFP-dokument insake ekonomiese beleid spel hierdie waarheid so uit: “Ons glo dat daar ’n noue verbintenis tussen die politieke en ekonomiese stelsels is en omdat ons Party verbind is tot hervorming wat ongeregtigheid en ongelykheid uit die politieke sowel as die ekonomiese stelsel sal verwyder, kan die een oplossing nie los van die ander nagestreef word nie.” Daarom is die NP-regering nou op pad na sy logiese einddoel - naamlik ’n politieke bedeling waar die individu, ongeag sy ras of kleur, die kriterium is - ’n swart meerderheidsregering.
Waar die politiek eers via die apartheidsfilosofie die ruimte vir die ekonomie afgebaken het, is die orde nou omgedraai en baken die ekonomie nou die ruimte af vir die politiek via die vrye mark-filosofie.
’n Tweede grondliggende verskuiwing wat plaasgevind het, is dat die rol van die owerheid in arbeidsverhoudinge tot ’n minimum gereduseer is, om sodoende ook die vryemarkbeginsel van minimum-owerheidsinmenging in die ekonomie dienstig te wees. ’n Stelsel van kollektiewe bedinging is ontwerp, waarin die verantwoordelikheid om geskille te besleg, grootliks op die vakbonde en hulle werkgewers afgewentel is. Die arbeidsbedeling is sogenaamd gedepolitiseer, net soos die geval ook was met die sportbeleid. Arbeid en politiek is egter onskeibaar. Die blote feit dat daar byvoorbeeld ’n Arbeidersparty in Brittanje bestaan, staaf dit. Al wat depolitisering van arbeid beteken, is dat die regering politieke mag afstaan ten gunste van die vakbonde en die werkgewersorganisasies. Die politieke mag verdwyn nie sommer maar net nie. Dit word verplaas vanaf een belangegroep na ’n ander.
Daarom is arbeid vandag in Suid-Afrika meer as ooit gepolitiseer.
Heel ironies het die SAUK op 23 Augustus 1982 berig: “ Arbeidsleiers in Suid-Afrika is voortdurend bekommerd oor politieke radikalisme.” Feit van die saak is dat die arbeidsterrein nou die speerpunt van die revolusionêre aanslag teen die land geword het.
Onder die opskrif, “Politiek sal in vakbonde bly”, het Die Votksb/ad op 2 Oktober 1984 berig: “Solank as wat 'n geldige argument in Suid-Afrika bestaan van gebrekkige politieke verteenwoordiging vir swartmense, kan voorsien word dat die arbeidsterrein en veral die georganiseerde vakbondwese deur sommiges vir politieke doeleindes misbruik sal word." So byvoorbeeld is die swart vakbondfederasie, Cosatu, niks anders as die arbeidsarm van die ANC nie. Dit waarvoor die UDF hom op politieke terrein beywer, is Cosatu se oogmerk op die arbeidsterrein.
Dit is ook ironies dat die beginsel van minimum-owerheidsdeelname arbeidsverhoudinge in Suid-Afrika meer as ooit geïnternasionaliseer het, terwyl voorgegee is dat die nuwe arbeidsbedeling tot beter beheer oor die arbeidstoneel sou lei. Deur arbeid sogenaamd te depolitiseer, is daar in werklikheid kanale vir die buiteland aangelê om Suid-Afrika se binnelandse beleid te ondermyn. Die SAUK het op 4 mei 1978 berig: “In die algemeen sal Suid-Afrika in die toekoms deeglik kommunikeer met die internasionale arbeidsgemeenskap. Met dié doel voor oë word ’n buitelandse buro binne die Departement van Arbeid geskep.” Die internasionale arbeidsgemeenskap het egter net een doel voor oë naamlik die vernietiging van apartheid. Daarom het die Internasionale Konfederasie van Vrye Vakbonde 1978 tot anti-apartheidsjaar verklaar. Deur hierdie buitelandse buro kon die land sy vyande nou hul invloed die land binnedra. Asof dit nie genoeg was nie, het prof Nic Wiehahn in Februarie 1986 ’n veelrassige raadgewende liggaam voorgestel waardeur die buiteland
sy greep op Suid-Afrika se binnelandse beleid verder kon versterk.
Onder die opskrif “Oorsese sakelui vergroot hul rol”, het Die Volksblad op 20 Februarie 1986 soos volg berig: “ ’n Raadgewende liggaam gaan binnekort gevorm word om leiding aan buitelandse multinasionale maatskappye te gee oor die aktiewe rol wat hulle in die huidige proses van politieke hervorming in Suid-Afrika kan speel. ” Dit is ’n geopende deur tot inmenging in Suid-Afrika se huishoudelike sake.
Daar kan nooit enige twyfel bestaan dat Suid-Afrika se nuwe arbeidsbedeling aan die land se vyande die sleutel tot die vernietiging van die totale orde in die land gegee het nie. Die begin was ’n oënskynlik onskuldige “wegbeweeg van diskriminasie”.
Magsdeling en die ekonomie – vervolg...