KOMMENTAAR SONDER GRENSE (8)

Die SAUK... en die storie daaragter

L J Bothma

1988

Lees reeks by Die SAUK... en die storie daaragter

Die Vryemark-beleid versus die Sosialisme, Marxisme en Kommunisme

Dit het mode geword dat, wanneer die regering ’n nuwe rigting inslaan, dit voorgehou word as ’n stap om sosialisme, kommunisme en Marxisme te beveg.

Afgesien van die verskille tussen die begrippe, word dit tog na willekeur binne ’n bepaalde verband gebruik. Vir die man op straat is alles sinoniem met die  "totale aanslag" en derhalwe assosieer hy dit met die Sowjet-Unie en al sy satellietstate. Wanneer nuwe beleidsrigtings dus as teenvoeter vir hierdie bedreigings aangebied word, geniet dit gewoonlik die wyds moontlike aanvaarding en word dit ook in ’n groot mate vrygestel van kritiese ondersoek. Met die vryemark-beleid was dit dan ook nie anders nie.

Die SAUK het byvoorbeeld begin om dit as die meerdere van die sosialisme voor te stel. Onder die opskrif, “Vrye Onderneming versus Sosialisme” is op 4 Mei 1979 genoem dat die vryeondernemingstelsel meer werksgeleenthede genereer as die sosialistiese stelsel. Op 21 November 1979 is die kritiek teen die sosialisme duideliker uitgespel. Daar is onder meer gesê:  " ’n Hoofdoel van die sosialisme is om rykdom te herverdeel – om dit van die ryke weg te neem en aan die arme te gee. Maar die ondervinding, waarvan Brittanje ’n klassieke voorbeeld is, toon dat daar uiteindelik voortdurend verminderde verdeelbare rykdom oorbly: die rykes word armer (?) en so ook die armes. Die verklaring hiervoor is eenvoudig dat die inmenging van die staat en die rompslomp wat nodig is om rykdom te herverdeel, teenproduktief is vir die skep daarvan."  Met hierdie soort van argumente as grondslag word die vryemark-beleid dan gepropageer as die meerdere en die teenvoeter vir sosialisme en dies meer.

Dr Owen Horwood het dan ook in November 1979 op ’n konferensie van die 1820-Setlaarstigting gewys op die belangrikheid van vrye onderneming as deel van die ‘‘nasionale strategie” teen die  "totale aanslag". Die SAUK het gesê: “Sen Horwood se toespraak dui op die omvattende antwoord op die Marxistiese aanslag op Suider-Afrika, en die Marxisme is sosialisme in die ergste graad. " Eweneens het mnr P W Botha sy rede op die Carltonkonferensie ingelui met ’n verwysing na die Marxistiese gevaar en daarop gesê: “Ons moet die groter voordele van die (vrye onderneming-) stelsel waarin ons glo op ’n praktiese wyse aan die heersers en gewone mense in Suider-Afrika demonstreer, en die
belonings wat daaruit verkry kan word moet vir hulle ooglopend gemaak word." Meer spesifiek is later gesê dat swartes vir die vrye-ondernemingstelsel gewen moet word, anders sal hulle hul later tot die sosialisme en Marxisme wend.

'n Verdere argument wat dikwels gehoor word, is dat die grootte van die openbare sektor beperk moet word omdat ’n groot owerheidsdeelname aan die ekonomie ontaard in sogenaamde “kruipende sosialisme”. Dit hou op sy beurt glo weer ernstige implikasies in vir die oorlewing van die vrye ondernemingstelsel.

Hierdie argument het sterk op die voorgrond getree met die verskyning van die boek in die laat sewentigerjare deur dr Andreas Wassenaar van die Vryemarkstigting. Die titel van die boek, Assault on private enterprise en sy subtitel, “a free way to communism", suggereer inderwaarheid dat die owerheid die vrye ondernemingstelsel moet aanmoedig ten einde kommunisme hok te slaan.

Die regering het die argument met dr Wassenaar en sy ander geesgenote gedeel en begin om sy funksies en belange te "privatiseer”. Dit het groot geesdrif onder die groot sakelui verwek en weinig weerstand van die publiek ontlok, trouens hulle het dit verwelkom, salig onder die indruk dat die kommunistiese bedreiging nou ’n besliste terugslag toegedien is.

Wanneer hierdie argumente en al die gebeure sedert die Carlton-konferensie egter krities onder oë geneem word, dan lyk dit asof die lyne tussen die vrye-ondernemingstelsel en sy teenpole maar baie dun is. Trouens, daar kan met reg twyfel wees of daar enigsins noemenswaardige verskille is.

In die eerste instansie is die regering se verklaarde en geforseerde gelykstellingsbeleid in loodregte botsing met sy vryemarkbeleid. Die vryemarkstelsel is eintlik daarvoor bekend dat dit welvaart ongelyk verdeel. Daarteenoor is die sentrale gedagte van die sosialisme dat welvaart gelyk verdeel moet word. Hoe die regering dus tegelykertyd ’n ekonomiese stelsel wat welvaart ongelyk verdeel, tesame met ’n beleid wat berekend daarop ingestel is om welvaart gelyker te verdeel, kan volg en dit dan as ’n teenvoeter vir sosialisme aanbied, is moeilik om te begryp.

Feit van die saak is dat daar nie sprake van sosialisme kan wees sonder ’n herverdeling van welvaart nie. Dit is om die waarheid te sê die slegste deel van sosialisme. Tog word dit met groot geesdrif deur die groot sakelui, wat die eintlike teenstanders daarvan moet wees gepropageer. Die regering op sy beurt het dit tot eenvan die hoekstene van sy beleid verklaar.

In die tweede instansie is die regering se vryemark-beleid op sy beurt weer in botsing met sy gelykstellingsbeleid. Sonder die nasionalisering van nywerhede kan daar nie sprake wees van ’n ware en betekenisvolle herverdeling van rykdom nie. Trouens, nasionalisering is die beste deel van sosialisme. Tog volg die regering ’n sogenaamde privatiseringsbeleid waarvolgens die maksimum moontlike aantal owerheidsfunksies en -dienste aan ’n klein elite-groepie van super-rykes oorgedra word. Dit is eintlik meer korrek om van ’n monopoliseringsbeleid as van ’n privatiseringsbeleid te praat.

Die eienaardige situasie wat hieruit voortkom, is dat die sakelui daardie deel van die sosialisme waar die owerheid ondernemings in mededinging met hulle bedryf die skerpste kritiseer, maar daarteenoor die slegste deel van sosialisme, die gelykmakingsdogma, propageer. Dit klink onlogies dat die groot sakelui, wat die verpersoonliking van kapitalisme in sy uiterste vorm is, 'n herverdeling van inkomste kan bepleit. Om sake nog verder te kompliseer, blyk dit ewe onverklaarbaar te wees dat hierdie groot kapitaliste die leiding neem in onderhandelinge met die ANC, wie se verklaarde beleid die nasionalisering van nywerhede is!

Hierdie onlogiese situasie sal bly voortbestaan solank as wat die vryemarkstelsel as die teenpool van die sosialisme gestel word. Feit van die saak is dat dit net in teorie waar is. Die praktyk het daarteenoor geleer dat sosialisme eintlik ’n stelsel is waarvolgens die welvaart van die breë massas verdeel en beheer word deur ’n klein groepie super-rykes. ’n Soortgelyke situasie is nou in Suid-Afrika aan die ontwikkel. ’n Klein elite-groepie word ryker en die massas word al hoe armer. Die regering se herverdelingsbeleid laat die land inderdaad met al hoe minder verdeelbare rykdom, presies dit wat aan die publiek voorgehou word as die resultaat van sosialisme. Van die veelgeroemde mededinging wat 'n vryemarkstelsel kenmerk, word al hoe minder gesien. Daarteenoor vermag die regering weinig om die toenemende ekonomiese magskonsentrasie te verbreek. Trouens, dit het toegeneem oor die afgelope aantal jare.

Die populêre opvatting dat die Groot Kapitaal die bitterste vyande van die sosialiste en Marxiste is, is aan die hand van dokumentêre bewyse weerlê deur Antony Sutton, in sy boek Wall Street and the Bolshevik Revolution. Soos miljoene ander, is die Suid-Afrikaanse publiek vandag die slagoffer van hierdie dwaalleer.

’n Klein bietjie kritiese ondersoek is egter nodig om deur die misleiding te sien. Die naakte waarheid is dat die Botha-regering se veelgeroemde Carlton-beraad en wat daarop gevolg het, absoluut niks met die bestryding van die aanslag teen die land te make het nie. Inteendeel, dit is deel van die aanslag.

Lenings en buitelandse skuld

Die regering se beleid om gelyke geleenthede vir almal te waarborg, het horn genoop om op eie houtjie een van die grootste ontwikkelingsprojekte vir swartes ter wêreld aan te pak.

Die eise wat in die proses aan die staatskas gestel word, is astronomies. Dit wat nie via die herverdelingsbeleid uit die blanke sektor gepers kan word nie, moet meestal in die buiteland geleen word.
Die gevolg is dat Suid-Afrika nou in ’n skuldkrisis gedompel is. Bo en behalwe die dempende uitwerking wat die loonbeleid op die ekonomie het, is die situasie nou verder vererger deur dat die land se kredietwaardigheid in die internasionale gemeenskap geskaad is. Die Botha-regering moet die verantwoordelikheid hiervoor aanvaar.

Suid-Afrika se kredietwaardigheid was voorheen nog altyd bo verdenking. Op 8 November 1978 het die SAUK dit heeltemal tereg bevestig deur te sê:  "Diegene wat geld aan Suid-Afrika leen, het die versekering dat Suid-Afrika ’n baie goeie rekord in dié verband het. Die Republiek het ’n uitstaande internasionale skuldrekord en geen Suid-Afrikaanse regering het nog ooit versuim om ’ n enkele skuldooreenkoms terug te betaal soos ooreengekom is nie.” Na slegs ses jaar het hierdie trotse rekord aan skerwe gelê toe die publiek via die einste SAUK moes verneem dat die IMF Suid-Afrika geklassifiseer het as een van die 25 ontwikkelende lande met die grootste skuldlas ter wêreld! (17 September 1984.)
Dit het inderdaad vir die breë publiek as 'n skok gekom — enersyds omdat so iets ongehoord was in die Suid-Afrikaaanse geskiedenis en andersyds omdat die regering die land salig onder die indruk gehou het dat daar niks skort nie.

In 1982 is byvoorbeeld R160 miljoen by ’n sindikaat van internasionale banke geleen vir die ontwikkeling van Soweto en teen Augustus dieselfde jaar is berig dat groot hoeveelhede geld in die buiteland geleen is. Teen Oktober het die aankondiging gekom dat aansoek gedoen is om ’n lening (vir 3 jaar) van R1 240 miljoen by die IMF. Die SAUK het hierdie verwikkeling so aan die publiek geskets: “Dit sal bekragtiging op die hoogste vlak wees van die inherente krag van die landsekonomie en die korrektheid van sy finansiële beleid . . . en dit sal ’n terugslag wees vir die blok kommunistiese en derde-wêreldlande in die Verenigde Volke. "
Dit was een van die mees misplaaste stukkies kommentaar wat die SAUK nog ooit kwytgeraak het. Feit van die saak is dat die lening juis aangegaan is omdat die land ernstige betalingsbalansprobleme ondervind het, iets wat nie juis getuig van ’n gesonde ekonomie nie. Tweedens moes die feit dat die hele aangeleentheid as ’n terugslag vir kommunisme aangebied is, onmiddellik agterdog gewek het. Ondervinding het toe al geleer dat die teendeel gewoonlik nader aan die waarheid is. Derdens is ’n IMF-lening van hierdie betrokke omvang alles behalwe iets om oor te spog.
Reeds op 29 September 1978 het die SAUKlenings van hierdie aard in perspektief gestel toe gesê is: “Die IMF help, maar teen ’n prys. Hy skryf in werklikheid aan lande wat hulp soek oor hoe hulle hul sake moet behartig en dreig om die hulp op te skort indien’n land die bevele verontagsaam . . . 'n merkwaardige inmenging in die reg van soewereine state om hul sake op hul eie manier te behartig.”

Dwarsdeur die loop van 1983 het die SAUK met reëlmaat oor die Republiek se kredietwaardigheid gerapporteer. In Mei 1983, is byvoorbeeld genoem dat die internasionale bankierstydskrif, Euromoney, Suid-Afrika twintigste geplaas het op sy tabel van goeie leners. In Augustus het die SAUK die NP-regering ook ’n hupstootjie voor die Referendum gegee deur ’n lang relaas te gee oor hoe kredietwaardig die land is en bygevoeg: "... daar is verhoed dat hy (Suid-Afrika) dieselfde paadjie loop as Mexiko of Pole en oor die algemeen is die aansien van ons beleidmakers in die buiteland verhoog.” ’n Soortgelyke oorsig is op 19 Desember 1983 gegee onder die opskrif: “Die Goeie Lener”. Nog so onlangs as Januarie 1984 het die SAUK Suid-Afrika se "veel groter kredietwaardigheid in die buiteland” aan die publiek probeer voorhou, te midde van berigte dat die regering geld moes leen om die salarisse van staatsamptenare te betaal en dr Joop de Loor se aankondiging dat die land "tegnies bankrot" is. Teen September het dit toe rugbaar geword dat Suid-Afrika inderdaad ’n skuldlas soortgelyk aan dié van lande soos Mexiko en Pole het!

Wat egter die gesonde verstand te bowe gaan, is die NP-regering se skynbare ongeêrgdheid oor die skuldkrisis. Nadat daar gespog is oor hoeveel geld die land in die buiteland kan leen, word daar nou gespog oor al die “deurbrake” wat gemaak word met ons skuldeisers. Voorts het die De Kock-kommissie van ondersoek na die land se breë monetêre beleid dit goed gedink om slegs drie kort paragrafies aan die kwessie van buitelandse skuld af te staan.
Daar is onder meer gesê: "Anders as die geval in baie ander lande, speel buitelandse skuld nie ’n besonder belangrike rol in Suid-Afrikaaanse staatskuldbeheer nie” (hoofstuk 18 par 59). Hierdie soort van houding verklaar gevolglik waarom die land juis in 'n skuldkrisis beland het - buitelandse skuldbeheer is nog nooit as belangrik beskou nie!

Die regering het die land inderdaad voor sy skuldeisers verneder. Ongelukkig stop dit nie hier nie. Organisasies soos die IMF en die Wêreldbank het daardeur hulle inspraak in Suid-Afrika se huishoudelike sake vergroot. Hierdie internasionaal-geörienteerde liggame is van die skerpste kritici van apartheid en, net soos die Groot Kapitaal, teen proteksionisme gekant. Dit is gevolglik te begrype hoekom die Botha-regering 'n naprater en nadoener van die beleid is wat ons vyande nog altyd van ons verwag het.

So byvoorbeeld het mnr Robert McNamara, voormalige hoof van die Wêreldbank, in 1982 in ’n toespraak by die Universiteit van die Witwatersrand die volgende oplossing vir Suid-Afrika se probleme voorgehou: "Volle deelname vir swartmense aan ware politieke besluitneming, met ’n verskansing vir blankes teen die soort meerderheidsregering waarin die wenner alles opeis."  Dit is vandag inderdaad die presiese oplossing wat die Nasionale Party propageer. Geen wonder dat die SAUK se kommentaarskrywer mnr McNamara se uitlating met die volgende opmerking begroet het nie: ‘‘Die grootste gevaar is nie aggressie van oorkant ons grense of die weerhouding van Westerse steun nie, maar ’n gesindheid van onsekerheid en pessimisme.”

Die SAUKhet egter reeds op 21 Januarie 1982 die merkwaardige enersdenkendheid tussen die NP-regering en die Wêreldbank onthul. Onder sy nuwe president, mnr Tom Clausen, het die Wêreldbank glo die volgende benadering begin volg: Die wêreld is opgedeel in agt geografiese "gebiede van ineengestrengelde ekonomiese bedrywighede” (vergelyk Suid-Afrika se agt ontwikkelingstreke as uitvloeisel van die Goede Hoop-konferensie hiermee).
Voorts is die klem geplaas op die bevordering van vrye onderneming en die samewerking tussen die openbare en private sektore in die stimulering van groei. Heeltemal tereg het die SAUK daarop geantwoord deur te sê: “Suid-Afrika se beleid in Suider-Afrika stem merkwaardig ooreen met die wêreldplan . . . vervolgens is die benadering van die Wêreldbank (wat deur die Reagan-administrasie gesteun word) dat hulp deur die bank net verskaf word op voorwaarde dat die minder ontwikkelde lande streng hervormings aanbring in hulle politiek...” Terwyl die regering hoog en laag opgee dat hy nie toegee aan buitelandse druk nie, spog die SAUK darem daarmee dat die regering net soos die buiteland doen.

Dit is opvallend dat die regering nou die swye bewaar oor die gevaarlike implikasies wat die enorme skuldlas vir die land inhou. Tog is dit te begrype dat daar by ons regeerders ’n mate van onverskilligheid oor hierdie delikate aangeleentheid bestaan.
Dit is nou juis makliker om konkrete inhoud te gee aan al die hervormings wat nog in die vooruitsig gestel word, omdat dit presies ooreenkom met die wense van ons skuldeisers!

Sanksies, boikotte en disinvestering – vervolg...