BRING MY DIE OU-OU TYDING

Die behoefte aan Skrifprediking

Ds. A.E van den Berg

"When the chariot of humanity gets stuck, nothing will lift it out except great preaching. There is nothing in this case that will save the world but preaching."(David Lloyd-George).

Inleiding

Benewens die natuuropenbaring het God Hom ook deur die geskrifte van mense wat deur die Heilige Gees gedryf is aan mense bekend gemaak:

“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie;want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet,1:19-22).

Om dit te verduidelik, gebruik God predikers wat Hy tot sy diens roep wat sondaars tot bekering roep en gelowiges in die geloof opbou.

“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig” (Rom.10:14,15).

“Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red” (1 Kor.1:21).

Prediking bring selfs geharde heidene tot bekering:  

“Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan ... want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer ...” (Mt.12:41).

Predikers moet God se Woord laat hoor. Hulle is nie daar om mense by die tydsgees te laat aansluit nie, maar ʼn liefde en ywer vir die waarheid te kweek. Prediking is ʼn brug na God en ʼn reddingskrag sonder alternatief.

Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo....” (Rom.1:16).

Prediking is ʼn ontmoetingsgeleentheid met God om mense dieper insig in die dinge van God te gee. Daarom vind gebrekkige Skrifprediking geen ingang by hoorders nie. Dis soos ʼn dokter wat met ʼn pasiënt oor sy gesondheid praat, maar sonder ʼn voorskrif huistoe stuur.

1.   Ewige waarde

Prediking het ewige waarde. Daarom durf predikers nooit moeg word om met mense oor ewige dinge te praat nie. Prediking moet deur die Skrif en nie deur toeligtingsverhale gedryf word nie.   Laasgenoemde help hoorders slegs om die waarheid beter te verstaan. Jesus het ook daarvan gebruik gemaak. Dit was egter nooit die dryfkrag van sy prediking nie - slegs die Skrif.

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim.3:16.17).

Paulus sê “Die hele Skrif” - nie net sekere dele daarvan nie. Prediking moet deur Bybeltekste gedryf word.   Petrus se roerende preek op Pinksterdag in die tempel is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

Predikers moenie sondermeer aanvaar dat mense met die heilsfeite van die Skrif vertroud is nie. Dit bly die prediker se heilige voorreg om die ou-ou tyding van die verlossing in Christus so duidelik te bring dat mense dit kan verstaan.

2. Wie praat?

Die groot vraag is: Wie praat in die kerk–die prediker of God?   Predikers wat strydig met die waarheid van die Bybel preek, eien God se gesag vir hulself toe. Daarom wemel kerke vandag van programme en benaderingsmetodes wat nie met die Bybel strook nie.

Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” (Jer.8:9).

Wie die Bybel nie laat spreek nie, ondermyn die werk van die Heilige Gees wat die Bybel juis as ʼn instrument vir die wedergeboorte gebruik:

“...want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet.1:23).

Mense wat vandag nie meer kerk toe gaan nie, het nie noodwendig ʼn hekel aan prediking as sulks nie, maar eerder aan die gebrek aan Bybelse prediking. Dit laat die verskil tussen die koninkryk van die wêreld en dié van God en vervaag en verwar mense!

Dat die Bybel God se regstreekse, persoonlike skakeling met sondaars is, moet altyd die vertrekpunt van prediking wees. As dit ontbreek, is verantwoordelike teksuitleg onmoontlik en skadelik vir die siel. Egte Bybelse prediking vloei uit die hart van die prediker wat die wonderlike dinge van God met mense wil deel:

Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2).

Ongelukkig het egte prediking nie net skaars geword nie, maar in baie gevalle oppervlakkig, flou en niksseggend. Emosionele sake, menseverhoudings, politieke korrektheid en allerlei ander sake wat nie Bybelse temas is nie, het die fokuspunt geword.

3.   Ontsporing

Predikers wat die leiding van die Gees minag, verwater Bybelse waarhede, versuim om oor God se oordeel te praat en preek wat mense graag wil hoor:

...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).

Geen prediker beskik oor die geestelike krag om mense se lewens te verander nie. Indien hy nie vreugde in sy afhanklikheid van God vind nie, is hy ongehoorsaam en moet God se straf verwag. Predikers wat vreugde in hul afhanklikheid van God vind, word in sy voorbereiding van die geestelike voedsel vir sy kudde self met die Heilige Gees gevoed.

4. Op of af?

Onskriftuurlike prediking hef niemand op nie, maar trek mense eerder af. Dit verhoed hulle om Bybelkennis en geestelike sekerheid te bekom. Daarenteen hef Skrifgetroue prediking gelowiges op.

“...en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Kor.2:4).

Moderne prediking beweeg nie op of af nie. Kanselvermaak laat dit iewers in die middel rond sweef. En dis tragies! Luther het hom juis ten doel gestel om prediking se regmatige plek in die erediens te herstel. En daarvoor moes die lees en prediking van die Woord sentraal staan.  

Die Hervorming het destyds oorlog teen die Roomse karikatuur van aanbidding verklaar.   Vandag word gelowiges genoodsaak om dit in talle Protestantse kerke te doen wat net soos die kerk voor die Hervorming aanbiddingsbotsings veroorsaak wat hulle in werklikheid anti-Reformatories maak!

5.   Sabotasie

Eredienste word subtiel gesaboteer. Onvanpaste musiek, drama en allerlei tegniese aanbiedings werk negatief op die heiligheid van die erediens in. Dit plaas Skrifprediking ten koste van vermaaklikheidstegnieke op die agtervoet.

Daardie praktyke waarteen die eertydse Hervormers die stryd gevoer het om Skrifprediking weer in die kerk gevestig te kry, duik na al die eeue weer op!  

Kanselvermaak saboteer ware aanbidding.   Prediking wat met laserligte, video-grepe en drama opgekikker word, maak dat lidmate in godsdienstige sin gemakslakke word; mense wat geen behoefte aan Skrifprediking het nie, slegs aan die selfvernietigende monster van kanselvermaak.

“Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Hebr.4:2).

Ware aanbidding het geen alternatief nie. ʼn Groter orkes, meer moderne musiek of sentimentele liedere roer hoogstens mense se emosies. Dis nie egte aanbidding nie. Egte aanbidding verander lewens.

Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Joh.4:23).

“Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus...” (Rom.16:25).

Ontspoorde leraars kan nooit soos Christus optree nie; slegs geroepenes wat weet dat hulle aan Christus, die Hoof-herder, ondergeskik is. Ongelukkig is sommige leraars so met die tydsgees behep, dat hulle soos die wêreld dink en Skrifgedeeltes omseil wat ongelowiges aanstoot kan gee.

En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie” (Jer.8:11).

6.   Gesag

Prediking moet altyd gesaghebbend en derhalwe op die Woord van God gegrond wees. Sulke prediking skep by gelowiges ʼn verwagting. Dis die geleentheid waartydens God met hulle praat. Dit maak van Woordgesag ʼn prediker se hoogste gesag. Daarsonder staan hy naak voor mense en is sy optrede toneelspel en selfbedrog wat hom onder die oordeel van God bring!

Die moderne mens verag gesag omdat dit kwansuis hul vryheid bedreig. Gevolglik gee baie predikers hul aanspraak op predikingsgesag prys net om mense nie aanstoot te gee nie. Wie sy vertroue in die gesag van die Bybel verloor, het niks om vir sy gemeente te sê nie en mors tyd met prediking.

God roep predikers om die waarheid van God se Woord te verduidelik en by mense aan te dring om Skrifonderwysing op hul eie lewens toe te pas.   Prediking is vir seker nie kanselmaneuvers nie!

Let op die terugkerende bondsvolk se verwagting dat God met hulle sou praat:

En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk.. . en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan” (Neh. 8:6).

Hulle het die regte gesindheid gehad en gewag dat God deur die prediker met hulle moes praat. Dit behoort vandag nog so te wees. Die gemeente hoor die Woord van God en ontvang die boodskap om dit kinderlik te gehoorsaam.

“En Jésua en Bani en Serébja, Jamin, Akkub, Sábbetai, Hodía, Maäséja, Kelíta, Asárja, Jósabad, Hanan, Pelája en die Leviete het die volk in die wet onderrig, onderwyl die volk op hulle plek bly staan” (Neh.8:8).

Nadat die Wet gelees is, het Esra dit verduidelik. Hy het nie ʼn drama daarvan gemaak nie, maar eenvoudig en duidelik gepreek.   Dis mos Skriftuurlike prediking!

Die behoefte aan prediking het destyds in die harte van die gemeente ontstaan waarna hulle Esra daartoe versoek het. Wat ʼn geestelike honger en dors was daar nie na die Woord van God nie!   Wat het daarvan geword? Die Bybel het stil geword!

Slot

Leraars het een grondliggende opdrag:

Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2).

Wie dit gehoorsaam, se bediening is vrugbaar.

“...so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes.55:11).