B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
Nuwe norme
Op 5 Junie 1918 is die geboorte van die Afrikaner-Broederbond met die volgende woorde deur sy stigterslede aangekondig: ”Ons moet nie politieke leiers aanhang nie; ons moet beslis non-politiek wees.” Vier en vyftig jaar later, op die Bondsraad van April 1972, verklaar die destydse voorsitter van die Uitvoerende Raad van die AB, dr. P.J. Meyer: ”Ons moet die volgende verkiesing nie alleen nou reeds op positiewe wyse aanpak nie, maar dit onder die banier van ons eendragtige Afrikanerskap tot ’n grootse Nasionale oorwinning deurvoer.”
Met hierdie woorde het Meyer nie net bevestig watter totale bespotting van die stigterslede se plegtige onderneming gemaak is nie, maar het hy ook die algehele verslawing van die Broederbond aan ’n bepaalde politieke party oor ’n tydperk van jare op rekord gestel. Deur hierdie politieke dienstigheid het die Broederbond die willose instrument geword van mense wat nie meer die betekenis van Afrikaner-nasionalisme ken nie en vir wie die Afrikanerstrewe vandag van ondergeskikte belang is.
Die Broederbond het op twee belangrike grondslae tot stand gekom: dit sou ’n nie-politieke organisasie wees wat agter die skerms onbaatsugtig en in groot vertroulikheid sou werk om aan die Afrikaner sy regmatige plek in sy vaderland te gee. Politieke verbintenisse van sy lede sou geen rol speel nie en volksdiens, sonder om openbare erkenning daarvoor te verwag, sou sy wagwoord wees. Aan ’n lid sou nie gevra word “watter politieke party ondersteun jy” nie; suiwer en opregte Afrikanerskap sou die enigste maatstaf wees.
Sowat ’n maand na die stigtingsvergadering van die AB is op 2 Julie 1918 ’n grondwet vir die Broederbond aangeneem. Artikel 16 daarvan het gelui: “Die vereniging is beslis non-politiek en dit word verwag dat politiek buite ons werksaamhede en vergaderings gehou sal word.” Op 21 September 1920 is die grondreëls van die Bond opgestel en in artikel 9 daarvan word die verhouding van die Bond tot die politiek weer duidelik soos volg gestel: “In verband met die werksaamhede kan die vergadering enige volksvraagstuk of geskiedkundige punt bespreek met die doel om op onpartydige wyse uit te vind wat die beste is vir die sedelike, intellektuele, maatskaplike en staatkundige vooruitgang van ons volk. G’n spreker mag egter optree as propagandis van die een of ander bestaande politieke party of partypolitiek as sodanig nie. Die voorsitter sal streng let op die handhawing van hierdie bepaling.”
In die grondwet word die grondslag van die AB aangedui as Christelik-nasionaal en die doel soos volg:
“(a) Die bewerkstelliging van ’n gesonde en vooruitstrewe na eensgesindheid onder alle Afrikaners wat die welsyn van die Afrikanernasie nastreef;
(b) die opwekking van ’n nasionale selfbewussyn by die Afrikaner en die inboeseming van liefde vir sy taal, godsdiens, tradisies, land en volk;
(c) die bevordering van alle belange van die Afrikanervolk.”
By die instelling van ’n nuwe lid word in die formulier wat gebruik word, baie sterk klem gelê op die voortbestaan van die Afrikanervolk. Een van die vereistes vir lidmaatskap is dan ook dat ’n persoon “skoon van karakter en vas van beginsel, ook in die handhawing van sy Afrikanerskap”, moet wees. Altyd het dit gegaan om die belange van die Afrikaner in sy onderskeidenheid van enige ander bevolkingsgroep en om die feit dat die Afrikaner ’n eersgeboortereg op hierdie land het. Dit is ook waarom bepaal is dat partypolitiek nie in die AB bedryf mag word nie.
Dit is mooi ideale, maar ook ideale wat die uiterste toetse sou stel aan die mense wat hulle deur die jare in leidinggewende posisies in die organisasie sou bevind. Dit sou van hulle afhang of die mooi ideale verwesenlik sou kon word. Die geskiedenis van die Broederbond die afgelope meer as sestig jaar lewer die oorvloedige bewyse dat sy leiers hierdie toets jammerlik gefaal het.
Hiermee word nie te kenne gegee dat die Broederbond niks goeds vermag het nie. Dit het sy mooi momente gehad, soos sy aandeel aan die historiese Ossewatrek in 1938 en die herlewing van Afrikaner-nasionalisme wat daarmee gepaard gegaan het, die Ekonomiese Volkskongres en die geboorte van die Ekonomiese Instituut kort daarna, sy opregte pogings om die Afrikaner ’n vastrapplek in ’n Engels-oorheersde ekonomie te gee — om maar enkele voorbeelde te noem. Maar terugskouend word hierdie mooi momente oorskadu deur ander dinge wat die ideale van die stigterslede al hoe meer begin verdring het: die bevordering van eiebelang, nepotisme, bevoorregting van sommige lede bo nie-lede, die verwesenliking van persoonlike ambisies.
Met verloop van tyd het die ondeurdagte optrede van sekere UR-lede, strydig met die bepalings in die grondwet en die reglement, die Broederbond al hoe meer in die politiek verstrengel laat raak. Saam daarmee het mense later tot die Broederbond toegetree oor wie se Afrikanerskap ’n groot vraagteken getrek kon word en wat slegs in die AB ’n handige voertuig gesien het om êrens, in die meeste gevalle taamlik ver verwyder van die Afrikanerpad, te arriveer. Mense wat vinnig wou ryk word en vir wie materiële oorweginge swaarder geweeg het as die belange van die Afrikanervolk, het deur hulle toetrede tot die Broederbond waardes en norme in die AB ingedra wat gevloek het teen die ideale van sy stigterslede. Gaandeweg het hierdie soekers na rykdom ’n oorheersende invloed in die Broederbond en sy aktiwiteite begin speel en is die veronderstelde norme en waardes van die AB verbuig om by hulle belange aan te pas. Vir Afrikaneridealiste was daar al minder plek en die wat wel hulle weg na die AB gevind het, se stem het al stiller geword.
Toe die proses van inpalming van die Broederbond onder leiding van die toenmalige Eerste Minister, mnr. B.J. Vorster, voltrek is om die AB ’n volledige “stutorganisasie” van die Regering te maak, het al hoe meer Veiligheidsmanne en agente langs ongewone weë tot die Bond toegetree. Mense se lojaliteit het begin verskuif van die Afrikanervolk en sy belange na politieke magshebbers en die bevordering van hulle oogmerke. Die Broederbond het ’n vreemde organisasie geword. Die woord spioene is al hoe meer gehoor toe lede oor hulle skouers begin loer het om te sien wie hulle beluister. Te veel mense het hulle verskyning in die AB gemaak wat, om ’n woord van Totius te gebruik, te veel na ander mense gelyk het.
Die AB het soms weens omstandighede buite sy beheer in die politiek beland, maar in sekere gevalle het hy berekend tot die partypolitiek toegetree op ’n wyse wat nie altyd bevorderlik vir sy beeld was nie. Dit was veral die geval in die onstuimige oorlogsjare van 1939 tot 1945 en weer nadat Vorster in 1966 die premierskap oorgeneem net na die berekende moord op dr Verwoerd) en die Broederbond niks anders as ’n politieke instrument van die Regering geword het nie.
Die eerste probleme vir die AB het ses jaar na sy stigting opgeduik met die paktsluiting tussen genl. J.B.M. Hertzog, toe leier van die Nasionale Party, en die Arbeiderparty van sy goeie vriend, kol. H.F.P. Cresswell. Binne die Broederbond was daar NP-lede wat hulle nie met so ’n vreemde politieke bondgenootskap kon versoen nie. Die argument wat egter deurslaggewend was, was dat parlementêre verteenwoordiging en moontlik ook oorname van die regering groter mag aan die Afrikaner sou besorg om sy uiteindelike doelwit van ’n onafhanklike republiek te bereik.
In 1927 het die leiding in die Broederbond besluit om die organisasie se bedrywighede op ’n omvattende skaal uit te brei en geen lewensterrein onaangeroer te laat nie. Dit het weer krieweling in die AB-geledere veroorsaak, maar nie van ’n ernstige aard nie. Ten einde sy nuwe beleid in die praktyk uit te voer sonder om homself te openbaar, is oorgegaan tot die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), wat met verloop van tyd die openbare arm van die Broederbond geword het.
Die jaar 1933 was die jaar van koalisie en samesmelting toe Hertzog en genl. J.C. Smuts op politieke gebied bymekaar uitgekom en die Gesuiwerdes uit die Nasionale Party weggebreek het. Vir die eerste keer het lede van die Broederbond hulle nou in teenoorgestelde kampe in die politiek bevind. Noodwendig moes dit ’n krisissituasie vir die Broederbond skep en sou dit uiterste toetse aan die leidinggewende figure in die Broederbond stel.
Waarskynlik die grootste slag vir die AB in die beginjare het in 1935 gevolg toe Hertzog aan die hand van geheime AB-dokumente en omsendbriewe wat aan hom gelek is, ’n striemende aanval op die Broederbond en sy leiding gedoen het. Dit het tot groot spanning in die AB gelei en Gesuiwerdes het met agterdog na Hertzog-volgelinge gekyk en beskuldigings is gemaak oor wie verantwoordelik was vir die lek van die geheime inligting na Hertzog.
Vir baie mense in die Broederbond was dit ’n groot skok dat Hertzog, hoewel toe leier van die Verenigde Party, die Broederbond in die openbaar in sulke verdoemende terme kon aanval. Hoewel hy nooit lid van die organisasie was nie, was daar altyd baie hartlike samewerking tussen hom en die AB-leiding. Hertzog se geregverdige aanval op die Broederbond moes noodwendig die politieke verdeeldheid van daardie tyd ook in die kerklike en kulturele lewe van die Afrikaner indra. Broer en broer en vader en seun het in bitterheid en selfs vyandskap teenoor mekaar te staan gekom. Dit was voorwaar ’n traumatiese tydperk in die bestaan van die Broederbond en baie lede het Hertzog nooit vir hierdie daad vergewe nie. Een van hulle was adv. C.R. Swart, die latere Minister en eerste Staatspresident van Suid-Afrika.
In die ander kamp — die nie-Broederbondlede en Hertzog- ondersteuners binne die AB - was daar egter ook volhardende wantroue. Uitsprake van toonaangewende persone in die AB in vertroulike geskrifte en op byeenkomste van die organisasie het ook nie bygedra om die agterdog te besweer nie.
Hertzog se groot klagte teen die Broederbond was dat dit ’n eksklusiewe Afrikaner-organisasie was wat geen plek vir Engelssprekendes kon inruim nie. Met sy nuutverworwe vriende in die Engelssprekende wêreld vanweë die eenwording met die Verenigde Party, was die Broederbond se grondslag van Afrikaner-oorheersing met uitsluiting van Engelssprekendes vir horn verwerplik. Uiteindelik is hierdie krisis oorleef na uitgerekte samesprekings tussen die AB-leiding en Hertzog en ’n onderneming deur hom dat hy die Broederbond nie weer in die openbaar sou aanval nie.
In die oorlogsjare het die AB-leiding berekend tot die politieke terrein toegetree toe dit die botsende Afrikanergroepe in die politiek van destyds — die Herenigde Nasionale Party (HNP), die Nuwe Orde, die Gryshemde, die Ossewa- brandwag (OB) en ander faksies — met mekaar probeer versoen het. Dr. Albert Hertzog, wat toe reeds in die Uitvoerende Raad van die AB gedien het, het hierin ’n leidende rol gespeel. By verskillende geleenthede het die AB langs verskillende weë versoening probeer bewerkstellig. Die pogings van die Eenheidskomitee kan hier as voorbeeld genoem word. Maar nie een keer was die AB se pogings om versoening te bewerkstellig, suksesvol nie. Dit kan inderdaad gestel word dat die UR se bemoeienis in hierdie tyd met die politiek die aansien van die organisasie benadeel het. Dit is veral die soms lompe wyse waarop UR-lede soos Hertzog by geleentheid in die politiek ingeplons het, wat met groot skeptisisme deur leiers van die HNP, soos adv. J.G. Strijdom, adv. Eric Louw en adv. Swart, bejeen is. Veral Strijdom het hom nie hierdie politieke bemoeienis deur UR-lede laat welgeval nie. Hy het onverbiddelik geëis dat die Broederbond hom by sy neergelegde taak moes hou en die politiek aan die politieke leiers moes oorlaat.
Dit was waarskynlik ook die gebeure van hierdie tyd wat Strijdom erg wantrouig teenoor Albert Hertzog gestem het en wat veroorsaak het dat daar nooit werklik ’n vertrouensbasis tussen hulle twee kon ontwikkel het nie. Hierdie gevoel het deurgeloop tot in 1948, selfs nadat Strijdom vir Hertzog persoonlik genader het om hom as HNP-kandidaat verkiesbaar te stel.
Lees in die volgende aflewering oor ’n Nuwe Afrikaanse stand
Vervolg...