DIE BROEDERBOND IN DIE AFRIKANER- POLITIEK (2)

B M Schoeman

(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )

Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.

’n Nuwe Afrikaanse stand

Die stigting van die Reddingsdaadbond (RDB) as front van die Broederbond is van groot betekenis in die beoordeling van die rol van die AB in die Afrikaanse samelewing. Dit was bedoel as ’n poging om aan die Afrikaner ’n vastrapplek in die Engels-oorheersde ekonomiese wêreld te gee. As sodanig was dit ’n verdienstelike oogmerk. Dit was noodsaaklik dat die Afrikaner in sy eie vaderland ook sy regmatige aandeel in die ekonomiese aktiwiteite moes kry en die alleenheerskappy van die volksvreemde instansies op hierdie gebied moes breek. Dat daar nie noemenswaardig in hierdie oogmerk geslaag is nie, word bewys deur die feit dat die ekonomie vandag nog oorheersend in die hande van die volksvreemde instansies is. Tragieser egter is nog die feit dat van die ondernemings wat uit die Reddingsdaadbond gebore is, in hulle strewe na groter geldmaakkanse aansluiting  by die vreemde instellings gesoek het en in baie gevalle in daardie vreemde instellings op gegaan het.

 

Terugskouend kan met reg gevra word of met die stigting van die Reddingsdaadbond nie ook die saadjie geplant is wat later tot ernstige probleme in die Broeder­bond aanleiding gegee het en nog later die hele Afrikanerlewe begin aantas het nie. Soos later sal blyk, was dit juis hier waar die bevordering van eiebelang ernstig sy kop begin uitsteek het. Daardie mense in die Broeder­bond wat die dryfkrag agter die stigting van die RDB was, was klaarblyklik nie bedag op die gevare en probleme wat vir die AB op die ekonomiese weg gele en wag het nie. Indien hulle dit wel voorsien het, sou hulle waarskynlik ook groter diskresie aan die dag gelê het in die keuse van die persone wat hulle in beheer van die Reddingsdaadbond geplaas het.

’n Belangwekkende feit is dat toe die Afrikaner ook op ekonomiese gebied begin vorder het, die Broederbond se hele aard en karakter begin verander het. Toe die geldgogga sommige Afrikaanssprekendes eers begin byt het, het daardie mense wat met die hulp van die Broederbond in die lewe begin vorder het, vinnig van die Afrikanervolk en sy ideale vervreemd geraak. Hulle het begin vertoef in die skadu van die rykes en die super-rykes van die Engelse sake-wêreld en spoedig het hulle nie meer soos Afrikaners begin lyk en praat nie. Net so spoedig ook het hulle hulle nuutverworwe waardes in die Broederbond begin indra en ook daar het Afrikaner-beginsels begin vervaag. Dit was veral merkbaar in die vyftigerjare toe al hoe meer mense uit die sakewêreld in die Broederbond opgeneem is en in sekere afdelings, klaarblyklik in opdrag van hoër instansies, openlik en minder openlik gewerk is om nie te veel politici en onderwysers tot die AB toe te laat nie. Waarskynlik is te veel politici en onderwysers as struikelblok gesien vir die geldmense se strewe om die Broederbond in die besonder en die Afrikaanse samelewing in die algemeen in die rigting te stuur wat hierdie geldverteenwoordigers wou hê dit moes gaan. Geleidelik het hierdie mense se invloed binne die AB dan ook oorheersend begin word. Die waardes van die geldmakers het ook die waardes van ’n groter wordende seksie in die AB geword. Die Afrikaner se ideale en strewes is gaandeweg binne die raamwerk van ’n groter en breër geheel van rykes geplaas en namate die greep van die ryk Afrikaanssprekendes op die Broederbond verstewig het, is die waardesisteme van die Afrikanervolk by die wortel aangetas en is begin met ’n proses om dit te omvorm om aan te pas by die waardesisteme van die geldgerigte sakemanne.

Die verteenwoordigers van hierdie nuwe stand in die Afrikaanse samelewing het met behulp van die Broederbond-rytuig skielik ’n prominensie en aansien gekry wat hulle waarskynlik andersins nie sou geniet het nie. Die Anton Ruperts, die Tommie Mullers, die A.D. Wassenaars, en andere, is deur die AB-leiding aangebied as sprekers by Rapportryers-, AB- afdelings en ander byeenkomste om te praat oor Afrikanerkoers en Afrikanerbelange, terwyl hulle beskouings oor hier­die sake of totaal vreemd aan die Afrikaner was of reeds so afgewater en flou was dat dit vreemd op die oor geval het.

Groot waarde is deur persone aan die leiding van die Broederbond aan die uitsprake van sommige van hierdie groot geldmakers geheg. Hier word byvoorbeeld gedink aan ’n toespraak wat dr. Anton Rupert by geleentheid in die VSA gelewer het en wat daarna, op aandrang van mense in die Uitvoerende van die Broederbond, as ’n studiestuk vir die Afrikanerorde, ’n geheime organisasie onder beheer van die AB, versprei is. Dit was in hierdie toespraak — “ek pleit vir Suid-Afrika en al sy mense” — dat Rupert, volgens berigte, verwys het na dr. H.F. Verwoerd as “daardie Amsterdam- gebore apostel van apartheid”. Na ernstige besware deur sekere mense in die Afrikanerorde en die Broederbond moes hierdie studiestuk teruggetrek word.

Dr. Nic Diederichs, die latere Minister van Finansies en Staatspresident, is na sy terugkeer uit Duitsland as hoof- uitvoerende amptenaar van die Reddingsdaadbond aangestel. Hoe die keuse op hom geval het, is nie duidelik nie. Sommige mense beweer dat Diederichs tydens sy verblyf in Duitsland onder die indruk gekom het van die werk van die “Winterhilft”-organisasie voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en dat hy vanweë sy belangstelling daarin as die geskikste man beskou is om uitvoering te gee aan die gedagtes van Vader Kestell, wat die eintlike dryfkrag agter die stigting van die RDB was. As egter gelet word op die pad wat Diederichs geloop het en ook op die probleme wat later in die RDB ontstaan het, kan met reg die vraag gestel word of Diederichs se aanstelling as hoof-uitvoerende amptenaar van hierdie organisasie ’n baie gelukkige keuse was.

In sy latere lewe, en veral terwyl hy Minister van Finansies was en “Mr. Gold” geword het, het Diederichs diep betrokke begin raak by die groot geldmag. Soos andere in die Broederbond, het die geldgogga hom ook begin byt. In Suid-Afrika het hy noue bande aangeknoop met groot geldondernemings en ook in die buiteland het hy dergelike verbintenisse, buite-om sy hoedanigheid as Minister van Finansies, opgebou. Oor sy bande met die geldwêreld het veral ná sy dood het ernstige vrae ontstaan nadat besonderhede oor sy insolvente boedel bekend geword het. Hierdie vrae het toegeneem toe sy rol in die bedenklikhede rondom die Inligtingskandaal van die sewentigerjare aan die lig gekom het. Steeds bly talle van hierdie vrae onbeantwoord en dit is seker dat die laaste woord oor die gewese hoof van die Reddingsdaadbond en voorsitter van die AB nog lank nie gespreek is nie.

Onder die ondernemings wat uit die Reddingsdaadbond gebore is en wat in die aanvangsjare met die hulp van die organi­sasie gegroei het, is Volkskas, Federale Volksbeleggings met sy spruit, Federale Mynbou, Uniewinkels, Rembrandt-tabakkorporasie, Sasbank, AVBOB, Assokor, Veka en nog vele meer.

’n Mens kan maar net kyk waarheen sommige van hierdie ondernemings se pad gelei het en wonder of dit is wat ’n Vader Kestell in gedagte gehad het toe hy die noodsaaklikheid van ’n organisasie soos die Reddingsdaadbond bepleit het. Dit is byvoorbeeld ironies dat dit juis een van hierdie onder­nemings, Federale Mynbou, was wat in die vroeë sestigerjare met mnr. Harry Oppenheimer se General Mining in bondgenootskap getree het en waardeur dr. Tommie Muller in die Afrikaanse hiërargie tot prominensie geklim het. Die ryk Afrikaanssprekende besigheidslui en hulle geesgenote in die Afrikaanse perswêreld het dit as die groot “deurbraak” na die Engelse geldwêreld voorgestel, maar in werklikheid was dit iets heel anders. Dit was die deurbraak wat die Engelse groot geldmag na die politieke magsinstelling van die Afri­kaner, die Nasionale Party, so lank begeer het. En dit moet die Uitvoerende Raad van die Broederbond vandag ten laste gelê word dat hy hartlik meegewerk het om hierdie nuwe toestand moontlik te maak.

Tereg het mnr. A.M. van Schoor op 1 September 1964 as redakteur van Die Vaderland die volgende waarskuwing oor die nuwe situasie laat hoor: “Sover ons hierdie ‘deurbrake’ kan deurskou, lyk dit vir ons na ’n deurbraak van die Afrikaanse finansiële instellings wat agter Federale Mynbou staan — Sanlam, Federale Volksbeleggings, Bonuskor, of wie ook al — na ’n groter en winsgewender veld vir hulle beleggingskapitaal. Dit klink mooi, maar dit is ook prakties die genadeslag vir ’n ideaal wat so ver terug begin het as by die Reddingsdaadbond, naamlik om vir die Afrikaner, hoe swaar en moeilik ook die weg, ’n eiendomlike plek en aandeel in Suid-Afrika se mynwese te verwerf. Dit is verby. Federale Mynbou is net ’n naam; sy karakter en doel, soos oorspronklik gekonsipieer, verdwyn in General Mining — met Afrikaanse voorsitters en al, verswelg in ’n groot geheel. Groter geldmaakkanse sal daar sekerlik wees, oor die jare seker ook hoër plekke vir Afrikaanssprekendes in die mynbedryf. Maar die oorspronklike idee is dood, begrawe in Hollardstraat, in ’n goudkis van vier en twintig karaat.”

Hierdie pad het sy draaie deur die Afrikaanse sakewêreld gemaak totdat dit in Vorster se tyd by die Kabinet en die Koukus van die Nasionale Party geëindig het. ’n Kaapstadse akademikus uit die dampkring van die Oppenheimer-geldwêreld, dr. H. Adam, het dit in Desember 1978 in ’n Engelse akademiese tydskrif raak opgesom toe hy geskryf het dat die stem van Oppenheimer se Anglo-American Corporation vandag in die Koukus van die Nasionale Party gehoor word. En mnr. P.W. Botha, die huidige Eerste Minister, het dit bevestig toe hy in November 1979 in die Carlton-hotel in vennootskap met die groot geldmag getree en die Nasionale Party as bruidskat in hierdie huwelik aangebied het.

Die opkoms van die Afrikaanssprekende geldmense het ’n nuwe stand in die Afrikaanse samelewing na vore gestoot. Dit is daardie groep wat om die Suidelike geldmag gegroei het en van die ekonomiese terrein sy invloed na die politiek, die kultuur, die joernalistiek, die akademiese wêreld en ook die kerklike terrein laat sprei het. Dit is hierdie mense wat hulle later self as die “Cape liberal Nats” geïdentifiseer het. Oor ’n tydperk van jare het die groep van wie baie hulle posisie in die Afrikaanse samelewing aan die Reddingsdaadbond te danke het, hulle denke stelselmatig en berekend op alle terreine van die volkslewe oorgeplant. Hulle hooftaak was om die Afrikanervolk weg te lei van sy tradisionele pad en hom te plaas op nuwe bane waar die waardes, beleid en gebruike van Afrikaner-nasionalisme nie meer deurslaggewend sou wees nie, maar die waardes en norme van die nasionaliteitlose geldmag. Hiervoor is hul­le vereer met ere-doktorsgrade van Afrikaanse akademiese inrigtings.

Dit is ’n proses wat reeds duidelik sigbaar geword het in die laat vyftiger- en vroeë sestigerjare, maar wat gestuit het teen die egte en onverdunde Afrikaner-nasionalisme van ’n Strijdom en Verwoerd. In Vorster se bewindstermyn is hier­die proses egter met skouspelagtige resultate deurgevoer. En nog skouspelagtiger was die manier waarop Vorster die Broederbond ingepalm het as stutorganisasie vir die bevordering van sy politieke oogmerke wat die seën van die mense van die geldwêreld geniet het.

Die tragiese deel van hierdie verhaal is dat mense in die Broederbond, soos Meyer, die destydse voorsitter van die UR, weerstandloos toegelaat het dat die AB daarvoor ingespan word. Waar hulle enkele jare tevore welsprekend presies die teenoorgestelde koers aangedui het, het hulle nie net toege­laat dat hulle op die vreemde weg saamgesleep word nie, maar ook die Broederbond aangebied as voorgewel waaragter dit gedoen kon word.

Dat dit die AB in sy ergste krisis van sy bestaan sou dompel, het hierdie mense skynbaar nie geskeel nie. Eenheid in Afrikaner-geledere, wat deur die stigterslede van die Broederbond as een van die AB se hoogste prioriteite gestel is, het vir hierdie nuwe geslag leierskap in die Uitvoerende Raad nie meer saakgemaak nie. Dienstigheid aan politieke leiers en hulle belange het deurslaggewend geword. Oor eertydse vriende in wie se geselskap mense in die AB-leiding meer tuisgevoel het as in sekere ander mense se geselskap, is die banvloek uitgespreek en is hulle uit die AB verdryf. Sonder weerstand en met latere sanksionering het dieselfde mense toegelaat dat lojale Afrikaner-nasionaliste uit die Nasionale Party verwilder word.

Wanneer die slothoofstuk oor die Afrikaner-Broederbond eendag geskryf word, sal die navorser moet bevind dat die Broederbond heengegaan het omdat sy leiersfigure, veral in die latere bestaansjare daarvan, nie die toets van die AB se stigtingsvoorwaardes kon deurstaan nie. Die lewe van hier­die Afrikaner-organisasie het hom begin verlaat toe sy Uit­voerende Raad die agterryer van sekere politieke leiers ge­word het.

Vervolg... Verdeeldheid en botsings