B M Schoeman
(Lees reeks by AB in die Afrikanerpolitiek )
Met die skrywe van hierdie boek in 1982 was dit nie Beaumont Schoeman se bedoeling om verdere onthullings van die Broederbond se geheime te maak nie. Sy doel was om te illustreer watter rol die Broederbond in die Afrikanerpolitiek gespeel het. Schoeman slaag daarin om aan die hand van eie dokumentasie aan te toon dat die Broederbond, in stryd met sy eie grondwet en reglement, ‘n instrument in die hand van ‘n bepaalde politieke party was ten tye van dié publikasie. Wat Schoeman toe nog nie kon weet nie is hoe ver die grense van die Broederbond se verraderlikheid sou uitbrei tot hulle op aandrang van die internasionale geldmag Suid-Afrika aan ‘n korrupte swart regering oorgegee het. Vandag opereer en skuil die Broederbond onder die naam Afrikaner Bond (AB) en is selfs meer listig as tevore terwyl hulle steeds die toutjies agter die gordyn probeer trek.
Piet Meyer en Nic Diederichs (2)
Algaande het ’n beter verhouding tussen Meyer en Vorster ontwikkel en presies ’n maand voor die stigting van die HNP, nadat mede-broers reeds uit die NP geskop is, lei Meyer ’n afvaardiging van UR-lede na Libertas. In ’n AB-omsendbrief daarna staan dit soos volg aangeteken: “Die UR het na die verdaging van die Parlement gereël om ’n informele besoek by vriend John Vorster af te lê. Dit het op 25 September in Libertas, Pretoria, plaasgevind. By hierdie geleentheid het die Voorsitter van die UR vriend Vorster namens ons organisasie seën, wysheid en sterkte na drie jaar se veeleisende premierskap toegewens en aan hom ’n AB-wapentjie as simbool van ons saambindende Broerskap oorhandig.”
Dit staan in skrille kontras met wat Meyer nog die vorige jaar aan mnr. J.H. (toe nog dominee) Jooste gesê het toe ’n afvaardiging van die Sentrale Komitee van Pretoriase AB- afdelings in 1968 ’n memorandum oor die woelinge van daardie tyd aan hom in Johannesburg oorhandig het. By daardie geleentheid het Jooste, wat die afvaardiging gelei het, aan hom gevra of hy dan nie kan sien waarheen sake ontwikkel nie en of hy, as voorsitter van die Broederbond, nie iets daaraan kan doen nie. Meyer se veelseggende antwoord was: “Jy weet, ’n ding ‘click’ of hy ‘click’ nie. Met Verwoerd het dit ge-‘click’, maar met Vorster ‘click’ dit nie.
Meyer was altyd ’n man vir skemas en aksies. Niks illustreer dit beter as die uitgewerkte voorstel waarmee hy op 15 Augustus 1968, presies ’n week nadat Hertzog deur Vorster uit die Kabinet gesit is, na Hertzog gekom het nie. Dit was ’n voorstel in besonderhede oor die stigting van ’n Albert Hertzog-instituut vir wetenskaplike bestudering van Afrikaans-Engelse verhoudinge in Suid-Afrika. Voorsiening moes gemaak word vir die stigting van ’n Albert Hertzog-trustfonds wat onder beheer van ’n Raad van Trustees sou staan. Die uitvoerende amptenaar van die instituut sou ’n voltydse direkteur, bygestaan deur ’n studiekommissie van deskundiges, wees.
Oor wat Meyer se motiewe was met hierdie voorstel ’n week na Hertzog se uitsetting uit die Kabinet en terwyl die politieke woelinge van daardie tyd reeds ’n hoogspanningsmerk bereik het, laat ’n mens daar. Hertzog se eie aantekening daaroor lui soos volg: “Ek het baie mooi vir hom geleentheid gevra om die hele saak te oordink, maar die dryfvere was nie meteens vir my duidelik nie, tensy Piet Meyer gelees het van die kastige miljoene wat ek sou beheer deur die Pieter Neethling-fonds en die Persfondsraad en die Persfonds en gedink het dat hy dit sou kon bewerkstellig dat al hierdie fondse nou op so ’n akademiese en myns insiens nuttelose manier vir alle tye vasgelê sou word.”
Meyer se voorstel in verband met ’n instituut vir die bevordering van Afrikaans-Engelse verhoudinge is interessant as dit beoordeel word teenoor wat hy in sy voorsittersrede op die Bondsraad van 3 Oktober 1966 in Bloemfontein oor dieselfde saak gesê het. Die tema van sy rede was “Die voortbestaan van die Afrikanervolk” en hy het onder meer gestel dat daar net een van twee doelwitte kan wees: “of die doelbewuste verafrikaansing van die Engelssprekendes, of die stilswyende aanvaarding van die nie-bewuste maar sekere toenemende verengelsing van die Afrikaner”. Dan gaan Meyer voort:
“As ons gestelde doelwit die volledige politieke nasionalisering en die toenemende kulturele verafrikaansing van die Engelssprekende van ons land in belang van die gehele blanke en nie-blanke bevolking moet wees, moet ons presies aandui wat dit behels of kan behels en hoe dit bewerkstellig kan word.
“Die politieke nasionalisering van die Engelssprekendes behels in hoofsaak sy openlike steun aan ons land se beleid van afsonderlike ontwikkeling en van Suid-Afrika eerste. Dit beteken verder die blywende Afrikaanse aanvaarding van die Britse parlementêre stelsel. Maar dit moet verder insluit dat die huidige stelsel van ’n staatshoof, wat eintlik die voortsetting van die ou Goewerneur-generaalskap onder die naam van Staatspresident is en ’n aparte regeringshoof, gewysig moet word deur die samevoeging van hierdie twee funksies en dit op ’n wyse wat op ons Republikeinse tradisie gebaseer sal wees, maar tegelyk met ons konstitusionele ontwikkelinge dusver tred sal hou. Hierby moet byvoorbaat die moontlikheid dat ’n sapperige Afrikaner met Engelse steun gereeld in die plek van ’n nasionale Afrikaner as Staatspresident aangewys word, uitgeskakel word.”
Die ander prominente lid van hierdie versameling van mense met hulle uiteenlopende beskouinge, was Diederichs, in een stadium voorsitter van die Uitvoerende Raad. Hy en Meyer het noue verbintenisse gehad. Net soos Meyer het Diederichs ook in Duitsland studeer en daar onder die invloed van die Nasionaal-sosialisme gekom. By sy terugkeer in Suid-Afrika is hy aangestel as die eerste hoof van die Broederbond se Reddingsdaadbond.
Hertzog stel dit dat Meyer en Diederichs die Reddingsdaadbond uit die Reddingsdaadfonds van die Ekonomiese Instituut gestig en die naam daaraan gegee het. Hy stel dit ook dat die twee uit hulle pad gegaan het om soveel Afrikanersake onder die Reddingsdaadbondsambreel in te trek.
Dit is bekend dat daar later ernstige vrae begin ontstaan het oor sekere dinge binne die Reddingsdaadbond onder leiding van Diederichs.
In 1943, skryf Hertzog op 3 Junie 1944, het Meyer en Diederichs die grondwet van die Ekonomiese Instituut, waaruit die Reddingsdaadfonds gebore is, op so ’n wyse laat wysig dat die Bestedingskomitee van die Ekonomiese Instituut vir een derde bestaan het uit die dagbestuur van die Reddingsdaadbond, een derde uit die dagbestuur van die FAK en een derde uit die bestuur van die Ekonomiese Instituut. Die Bestedingskomitee was die liggaam wat elke jaar besluit het hoe die rente-opbrengs van die Reddingsdaadfonds aangewend sou word. Langs hierdie weg het Diederichs verseker dat die oorgrote deel van die rente van die Reddingsdaadfonds na die Reddingsdaadbond gegaan het.
Op 29 November 1941 was daar vir daardie betrokke jaar ’n bedrag van 4 600 pond beskikbaar. Daarvan het die Reddingsdaadbond 1 100 pond gekry, plus 500 pond vir studie-lenings, 120 pond vir sy voorligtingsburo en 300 pond vir reiskoste — ’n totale bedrag van 2 020 pond. Op 30 September 1942 was daar 4 748 pond uit rente-opbrengs beskikbaar. Hiei'van het die Reddingsdaadbond ’n bedrag van 2 094 pond ontvang. Vir die ses maande tussen 1 Oktober 1942 tot 31 Maart 1943 het die Reddingsdaadbond vir homself ’n bedrag van 600 pond uit ’n totale beskikbare bedrag van 1 730 pond laat stem. Vir die jaar eindigende 31 Maart 1944 was daar 4 320 pond beskikbaar. Hiervan het die Reddingsdaadbond en die FAK elkeen 1 200 pond ontvang. Vir al die ander organisasies saam het net 1 920 pond oorgebly.
Op die jaarvergadering van die Ekonomiese Instituut van 2 en 3 Junie 1944 het Diederichs met ’n nuwe plan na die vergadering gekom onder voorwendsel dat die publiek verwar word deur die veelvuldige liggame soos die Reddingsdaadfonds, die Reddingsdaadbond, die Ekonomiese Instituut, die Bestedingskomitee, die Raad van Kuratore, ens. Hy het voorgestel dat al hierdie liggame opgaan in die Reddingsdaadbond en dat die Reddingsdaadbond voile beheer oor die Reddingsdaadfonds kry. Die Ekonomiese Instituut sou ophou om te bestaan en die Bestedingskomitee sou outomaties wegval. In die praktyk sou dit beteken dat die Reddingsdaadbond volle beheer oor die inkomste van die Reddingsdaadfonds sou hê. Diederichs het ook aangevoer dat aangesien die Reddingsdaadbond steeds verdere kapitaal vir die fonds insamel, die RDB nie net aanspraak op die rente van daardie kapitaal kon maak nie, maar ook op die ou kapitaal van 100 000 pond wat reeds ingesamel is.
So ’n reëling sou natuurlik teen die besluite van die Ekonomiese Volkskongres wees wat bepaal het dat die Ekonomiese Instituut die liggaam sou wees wat moes besluit oor die besteding van die gelde. Geen ander liggaam kon homself daardie reg toeëien nie en dit sou onwettig wees om die Ekonomiese Instituut op te hef en alles na die Reddingsdaadbond oor te dra.
Die rede waarom Diederichs die Reddingsdaadfonds geheel en al vir die RDB wou inpalm, was blykbaar omdat dit later nie meer te goed met die RDB gegaan het nie. Dit het begin kwyn en was glad nie die groot sukses wat Diederichs gemeen het dit sou wees nie. Daarom moes hy ekstra kapitaal vir die Reddingsdaadbond kry en die enigste manier was om die Reddingsdaadfonds, wat altyd ’n entiteit op homself was, volledig in te palm.
Sekere lede van die Ekonomiese Instituut het nie genoeë geneem met Diederichs se planne nie op grond daarvan dat dit onwettig sou wees. Diederichs het dadelik ’n regsmening gevra. Toe die regsmening die standpunt van die ander lede van die Ekonomiese Instituut bevestig, het Diederichs ’n tweede regsmening van dieselfde advokaat gevra. Hy en die advokaat was baie goeie vriende en in sy tweede regsmening het hy die saak effens in Diederichs se guns probeer kantel. Met hierdie tweede regsmening is hy toe na ’n vergadering van die dagbestuur van die Ekonomiese Instituut. Die ander lede het intussen ook ’n regsmening ingewin. Hulle het Diederichs op 5 Mei 1945 hiermee gekonfronteer en sy planne is net daar nek omgedraai.
Nog ’n onderneming waar Diederichs se naam in daardie tyd in nie alte goeie terme uitgeslaan het nie, was die stigting van die ondememings Werda en Vobi deur Hertzog, Meyer, Ivan Lombard, mnr. Kaalkop van der Merwe en ander Broederbondmense. In latere jare toe hy Minister van Ekonomiese Sake en Minister van Finansies was, het Diederichs steeds ’n voorliefde vir die groot geldinstellings getoon. Die geldgogga wat hom by die Reddingsdaadbond gebyt het, het hom skynbaar daarna nooit gelos nie.
In die politiek het Diederichs ’n byna verterende ambisie openbaar. Hy wou tot elke prys vinnig vorder, maar Strijdom het nie groot vertroue in hom getoon nie. Strijdom moes ongetwyfeld baie noukeurig gelet het op Diederichs se verbintenisse en optredes gedurende die oorlogsjare en dit het tot ’n duidelike wantroue van sy kant jeens Diederichs gelei.
“Jy weet, Albert,” het Diederichs eendag aan Hertzog in die Volksraad gesê, “ons is nou al nege jaar in die Parlement en ek voel dat ek nog niks bereik het nie.”
“Maar, Nic,” het Hertzog gesê, “jy het tog al baie dinge reggekry.” Waarop Diederichs geantwoord het: “Ja, dit is so, maar onder Strijdom sal ek nêrens kom nie.”
So skets Hertzog in 1957 Diederichs se frustrasies. Tydgenote van hom en mense wat na aan Strijdom gestaan het, vertel dat Strijdom nooit vir Diederichs sou bevorder het nie. Hulle sê dit is dinge wat uit die dae van die Reddingsdaadbond spruit wat ’n versperring tussen die twee opgerig het.
Dit is interessant dat twee van die mense wat Verwoerd onmiddellik na sy premierskapoorname in 1958 in die Kabinet opgeneem het, juis Hertzog en Diederichs was. Verwoerd was ’n lid van die UR terwyl hy redakteur van Die Transvaler was, Hertzog was ’n UR-lid en Diederichs was voorsitter van die UR.
As Minister van Ekonomiese Sake en later as Minister van Finansies het Diederichs intieme verbintenisse met die intemasionale geldmag opgebou. So byvoorbeeld het David Rockefeller Suid-Afrika as gas van Diederichs besoek. Na sy dood vind ’n mens sy naam in verskeie vreemdklinkende direksies, terwyl van die verafrikaansing van die landsekonomie, waarvoor Meyer so welsprekend gepleit het, bitter weinig gekom het. In Mei 1971 het Diederichs ’n uitnodiging ontvang na ’n geheimsinnige konferensie van intemasionale geldbaronne op Bermuda. Wie almal daar teenwoordig was, is as ‘n groot geheim bewaar en wat daar bespreek is, was net so ’n groot geheim. Die aankondiging dat Diederichs die uitnodiging na die Bermuda-konferensie aanvaar het, het glo ’n hele sensasie veroorsaak. In Harry Schultz se finansiële nuusbrief, wat destyds vier rand per eksemplaar gekos het, is Diederichs se aanvaarding van die uitnodiging as ’n “groot slag” bestempel. Dit is so dat die verteenwoordigers van die groot geldmag reeds in daardie tyd kanale na die hart van die Suid-Afrikaanse Regering gesoek het en dit is duidelik dat Diederichs hulle kontakman in die Regering was. Dit is waarskynlik ook die verklaring waarom Diederichs, ’n voorsitter van die Broederbond, in sy latere loopbaan lid van die Vrymesselaars geword het.
Diederichs het in die laat sestiger- en vroeë sewentigerjare noue kontak opgebou met ene David Abramson, destyds hoof van National Fund Investment. Hy was een van agt Ministers, onder wie Vorster self, wat ruim aandeelhouding in NFI gekry het, ’n onderneming waardeur klein beleggers ’n paar jaar later miljoene rande verloor het toe dit in duie gestort het.
Dit is waarskynlik hier waar die Regering-Abramson-konneksie begin het. In 1979 het dit uit die verslag van die Erasmus-kommissie oor die Inligtingskandaal aan die lig gekom dat Abramson ’n belangrike front van die Regering was. Dit was Diederichs wat hom aan dr. Eschel Rhoodie, gewese Sekretaris van Inligting, voorgestel het. Die betrokke geheime projek waarvoor Abramson gebruik is en wat betrekking gehad het op die Regering se Joodse konneksie, het die kodenaam Projek Dawid gedra. In die Pretoriase Hooggeregshof is verklaar dat Projek Dawid so delikaat is dat die besonderhede daaroor waarskynlik nooit bekend gemaak sal word nie.
Toe reeds diep gemoeid in die Inligtingskandaal, word Diederichs in 1975 Staatspresident na ’n stukkie politieke maneuver tussen hom en Vorster waarvoor Ben Schoeman, die ander aspirant, Vorster waarskynlik nooit sal vergewe nie. Teen die einde van 1973 doen Schoeman afstand van die Transvaalse leierskap van die Nasionale Party en gee te kenne dat hy hom nie weer in die volgende algemene verkiesing (die vervroegde verkiesing van April 1974) verkiesbaar sou stel nie. Diederichs doen dieselfde. Albei het blykbaar hulle oog op die Staatspresidentskap gehad. Diederichs was egter Vorster se keuse. Toe Schoeman uittree, besluit Diederichs om aan te bly en alle hoop wat Schoeman gehad het om deur die NP-koukus as sy kandidaat vir die Staatspresidentskap aangewys te word, was daarmee heen. Ses jaar tevore het Vorster vir Schoeman uit die premierskap gedruk en in 1980, toe daar allerlei gissings oor ’n hertoetrede tot die politiek rondom Vorster ontstaan het, dreig Schoeman in die pers dat hy dan self sal terugkeer en sekere dinge aan die lig sal bring. En, voeg hy by, Vorster weet wat hy van hom weet. Die verbittering het diep geloop.
In Augustus 1978 sterf dr. Diederichs en laat ’n insolvente boedel van duisende rande se skuld agter. Daar is geskryf dat Vorster hom by twee geleenthede tydens sy ampstermyn as Minister van Finansies en Staatspresident van insolventverklaring moes red. ’n Bietjie meer as ’n maand na sy dood bars die Inligtingsbom en Diederichs tree na vore as een van die sleutelfigure in daardie skandaal. “A man for all seasons”, het Rupert in sy huldigingsrede by Diederichs se begrafnis in Bloemfontein gesê.
By die vyf en twintigste herdenking van die Ekonomiese Volkskongres het Diederichs in 1964 in Bloemfontein ernstig gewaarsku teen die moontlike greep wat die buitelandse geldmag op die Suid-Afrikaanse ekonomie en deur die ekonomie op die Suid-Afrikaanse politiek kan kry. “Ons moet daarteen waak,” het sy waarskuwing gelui, “dat ons nie toelaat dat vreemde instansies, deur ’n al groter deelname aan die Suid-Afrikaanse ekonomie, daardie mag gebruik om ook ons binnelandse politiek te beïnvloed nie.”
Maar in 1964 het hy as Minister van Ekonomiese Sake reeds nader en nader aan hierdie vreemde instansies begin skuif, sodat hy later as Minister van Finansies op hulle skoot om die konferensietafel in Bermuda, internasionale hoofkwartier van onder meer mnr. Harry Oppenheimer, gaan sit en klaarblyklik die verlenging van die groot geldmag tot in die Suid-Afrikaanse Kabinet geword het.
Diederichs se “vrese” is ook deur die Uitvoerende Raad so laat as 2 Oktober 1962 gedeel toe die UR in ’n bylae by sy notule van daardie datum in ’n stuk getiteld “Optrede ten opsigte van aanstellings in direksies van nie-Afrikaanse instellings aanbeveel het: “As algemene stelling wil ons aanbeveel dat geen Afrikaner sy naam moet leen aan ’n nie-Afrikaanse instelling as direkteur en dan slegs as ’n vals front of ‘stooge’ van so ’n instelling optree nie ... In gevalle van Suid- Afrikaanse maatskappye moet ons Afrikaners afraai om te dien op direksies van sake wat in direkte en nadelige kompetisie staan met Afrikaanse sake. Daar behoort in besonder ook gelet te word of die sake enige anti-Afrikaanse neigings het.”
Klaarblyklik het Diederichs, ’n prominente lid van die Broederbond en gewese voorsitter van die UR, hom nie juis veel gesteur aan hierdie aanbevelings nie as gelet word op die maatskappye met wie hy later as direkteur en ook as groot aandeelhouer noue verbintenisse aangeknoop het.
Vreemde wee: vervolg...